Lötter en Frances se selfdoen plaastroue in die Vrystaat bied tonne inspirasie vir paartjies wat droom van ’n gesellige en outentieke plaasviering.
Hul seremonie het plaasgevind op ’n hoë heuwel in die veld, waar die gaste oor die uitgestrekte Vrystaatse vlaktes kon uitkyk. Daar is iets besonders aan die oop ruimtes en die eenvoud van ’n seremonie wat omring is deur die pragtige Vrystaatse landskap. Die kleurvolle konfetti spat só mooi uit teen die groenigheid van die natuur.
Gaste is bederf met heerlike vingerhappies onder die bome, omring deur die rustige plaaslewe. Die paartjie het hul troukoek buite gesny, ‘n oulike idee wat altyd sorg dat almal se aandag op die spesiale oomblik val. Hul fotosessie saam met die perde in die warm oranje lig van die sonsak het ook ’n romantiese, tydlose atmosfeer geskep.
Die paartjie het die familieplaas se stoor omskep in ’n onthaalruimte wat perfek pas by die plaastroue tema. Die sinkplaatdak en ruim stalarea, versier met fyn dekor elemente, skep ’n treffende kontras. Wit tafellopers en wit Tiffany stoele saam met helder pastelkleurige blomme val pragtig op teen die houttafels. Ons is mal oor die sagte pasteltone wat deur die hele onthaal gebruik is, en hoe mooi die fyner blomme elemente uitstaan. Goud eetgerei en sagte vuilpienk servette bring die tafeldekor perfek in balans. Dit was ’n heerlike, gesellige feesviering op die plaas.
Om ’n troue self te beplan hoef glad nie stresvol te wees nie. Mooi Troues se aanlyn trougids is ’n uitstekende bron vir professionele diensverskaffers indien julle op soek is na hulp. Rol af om meer te lees oor Lötter en Frances se plaastroue en hul liefdesreis as paartjie.

Trourok:
My trourok is ontwerp deur Orijinel, Elmerane van Ryneveld, in Bloemfontein. Ek was opsoek na ʼn rok wat sag vertoon, met fyn detail. Ek en Elmerane het ons idees bymekaar gesit en my rok ontwerp en so het die proses begin.
My wit trourok bestaan uit fyn kant met 3D-chiffon en gaasblomme. Die algehele styl van die trourok was ʼn v-nek met ʼn rug wat oop is. Die fyn kant en gaasblomme het vertoon op die rugdeel van die rok asook op die voorkant. Soos die rok afgaan, het die detail al hoe minder geraak. Die perfekte kombinasie van eenvoud en nie te veel detail nie.
Hier is die presiese verduideliking van my trourok volgens die ontwerper: ’n Milano-satyn trourok met ’n diep V-neklyn, ’n “fit-and-flare” romp, en laser-gesnyde chiffon blom-kant-detail op die lyfie. Die rok het ’n illusie-V-rug met kant en ’n gevoerde voorkant van die lyfie.

Verloof- en Trouringe:
Ek sal my verloofring beskryf as moderne met ʼn vintage twist. My verloofring is goud met ʼn mooi ronde diamant in die middel wat gepaardgaan met 5 fyn diamante aan weerskante, in verskillende grotes. Iets wat fyn en sag vertoon.
My troupant is ook ʼn fyn goue ring met 18 klein diamante. Die snit van die ring het ʼn effense kurwe, sodat dit mooi by die verloofring pas. Albei ringe is gemaak in Bloemfontein by Heathron’s Diamands and Gold.

Paartjie se Verlowing:
Ons albei kom van die Vrystaat af en het plaas agtergronde. Dus, was ons verlowing op ʼn gasteplaas naby Fouriesburg, Oos-Vrystaat. ʼn Gastehuis waar ons al voorheen was so ek het nie iets verwag nie. Ons het die middag gaan stap en na die sonsak gaan kyk op ʼn hoë heuwel/koppie en ʼn paar eet- en drink goed ingepak. Dit is iets wat ons nog altyd doen, omdat ons lief is vir die natuur en ek is gek oor ʼn prentjiemooi sonsak.
Dit was die perfekte middag met die mooiste uitsig van groen gesaaide lande en Lesotho se berge op die horison. Ons het ʼn paar foto’s geneem en wou toe ʼn foto neem met die mooi uitsig agter ons. Lötter het die foon op ʼn klip geplaas, en toe op video gesit (sonder dat ek weet). Voordat ons die “foto” geneem het, het hy af gegaan op sy knieë en die groot vraag gevra. Ek was so verras en het nie woorde gehad nie. Dit was die mooiste perfekste oomblik en wat dit nog mooier gemaak het is dat elke oomblik daarvan op kamera is. Dit was sowaar iets spesiaal en ʼn dag wat ek nie sal vergeet nie.

Trou Dekor en Styl:
Die troue was gehou op ʼn plaas in die Suid-Vrystaat waar ek (Frances) groot geword het. Ek is die eerste dogter van 4 wat op die plaas getrou het, so dit was ʼn groot taak. Ek is van natuur ʼn baie eenvoudige persoon en wou nie ʼn troue gehad het wat te formeel is nie, daarom was die algehele styl van die troue eenvoudig.
Die kleurskema was kleurvol in pastel kleure. Die dekor wat deur die hele troue gevloei het was fyn en sagte pastel kleure. Van die seremonie tot die onthaal. Iets wat my menswees weerspieël.
Die seremonie was in die veld op ʼn hoë heuwel waar mens uitkyk na die Vrystaat vlaktes. Weereens, prentjiemooi natuur uitsig soos die dag van ons verlowing. Ons wou spesifiek in Maart maand trou, want dan is die pienk Karoo bossies op hul heel mooiste en dit het so mooi gepas by die tema.
Die saal was in die plaas stoor gehou. Die tafels was kleurvol en die dekor wat ons by Bowtie Evolutions gehuur het was ook sagte kleure.

Trou Begroting en Beplanning:
Ons het ons troue self beplan en sowat tien maande daaraan gewerk nadat ons in Desember 2023 verloof geraak het. Ons wou eers die nuwe fase geniet en later met die beplanning begin. Die begroting was ongeveer R150 000, en ons het die spesiale dag saam met 110 gaste gevier.

- Fotograaf: MM Photography | Kontak
- Venue: Swartkoppies Merino’s
- Blomme: Talflorals | Kontak
- Bruidegom-pak: Woolworths
- Dekor: Bowtie Evolution| Kontak
- Grimering: Lané Pannel Makeup & Hair | Kontak
- Huurdienste: Sanitech | Kontak
- Juweliersware: Hellohaai | Kontak
- Musiek: Bloemfontein Multi Media House – Soundbytes | Kontak
- Platejoggie: Bloemfontein Multi Media House – Soundbytes | Kontak
- Skoene: Fynbos Wedding Shoppe | Kontak
- Spyseniering: Vriende
- Roomys: Bruid se Ma
- Trourok: Orijinel by Elmerane van Ryneveld | Kontak
- Bruid se Trouring: Heathorns | Kontak
- Bruidegom se Trouring: Orbit Rings | Kontak
- Wittebrood Bestemming: Dullstroom, Platteland van Oos-Vrystaat en Kruger Wildtuin.
- Wittebrood Plek: Simbine Lifestyle Estate Malelane, The Green House Dullstroom | Amohela ho Spitskop Country Retreat

