Renier & Bronwen se Klassieke Strand Troue in Groot-Brakrivier

Renier en Bronwen se klassieke strand troue het soveel pragtige elemente wat eenvoudig asemrowend mooi is. Die paartjie het hul groot dag gevier by ’n gewilde trou ­bestemming in Groot-Brakrivier aan die Tuinroete. Omring deur familie, vriende en die natuurlike skoonheid van die omgewing, was dit vir hulle ’n ongelooflik spesiale dag.

Bronwen het stralend gelyk op haar troudag. Haar trourok was besonder elegant, met fyn detail regdeur. Ons is veral mal oor die oop rug en hoe die delikate ontwerp van bo tot onder vloei. Renier het ewe stylvol gelyk in sy olyfgroen troupak en onderbaadjie. Om die ligter groen tint van hul tema in te sluit, het hy dit perfek afgerond met ’n wit das met ’n sagte blaarpatroon.

Die dekor was eenvoudig maar klassiek, en het perfek by die tydlose tema van hul troudag gepas. Wit en groen tafellopers het die houttafels elegant versier, met klein kerse wat op water dryf in glasvase. Dit het so mooi geskitter en ’n sagte, romantiese gloed geskep.

Die wit stoele by die houttafels het die geheelbeeld vervolmaak. Oral in die onthaalruimte kon mens fyn blom-ontwerpe sien van skakerings wit rose en pragtige groenigheid. Die kombinasie het die dekor ’n klassieke, verfynde voorkoms gegee.

Renier en Bronwen se strand fotosessie was eenvoudig asemrowend. Die oop strande en sagte bewolkte lug het ’n pragtige, romantiese atmosfeer geskep wat perfek by hul styl gepas het. Hul intieme viering saam met familie en vriende teen die prentjiemooi kus van Groot-Brakrivier is die soort inspirasie wat ons so graag by Mooi Troues deel. As jy ook droom van jou eie unieke troudag, besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir die mooiste idees, professionele diensverskaffers en praktiese wenke om jou droomdag te beplan.

Rol af om meer te lees oor hierdie besonderse paartjie se troudag.

Trourok:


My heel belangrikste vereistes vir my trourok was dat my rug oop moes wees sodat my letsels sigbaar kon wees. Dit is my getuienis van God se goedheid en guns oor my lewe. Verder moes die rok lig aanvoel, glinster soos die see en uniek wees. Ek het daardie perfekte rok gevind by Karlien van Bridal Emporium. Sy het presies geweet waarna ek soek en het die rok dadelik vir my uitgewys. Aanvanklik was ek huiwerig, want ek het ‘n ander rok in gedagte gehad en moes tussen die twee besluit.

Ek het baie gebid daaroor, en toe ek met my ma en Karlien gesels, het ek besef dat die rok wat ek oorspronklik gekies het, ‘n ou ontwerp was wat op ‘n uitverkoping beskikbaar was. Die een wat Karlien aanbeveel het, was splinternuut en niemand het dit nog ooit gedra nie en dit sou aangepas word volgens my voorkeure. Ek het toe die vers in 2 Korintiërs 5:17 ontvang: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Daardie vers het my hart diep geraak. Ek begin nou ‘n nuwe hoofstuk in my lewe as vrou en helper vir my man, en ek is inderdaad ‘n nuwe mens in Christus. Daarom het ek die beeldskone Enzoani Therese rok gekies en dit het perfek gepas en presies geglinster soos ek dit wou hê.

Paartjie se Verlowing:


Ons het verloof geraak by die kruis op die St Blaize-wandelpad by die Punt in Mosselbaai, ’n plek wat vir ons besonder kosbaar is. Renier het alles tot in die fynste besonderhede beplan, met opregte sorg en liefde, veral omdat Bronwen nog besig was om van ’n groot rugoperasie te herstel.

Hy het seker gemaak dat haar naels mooi gedoen is en dat haar hare en grimering by die huis gedoen word, iets wat sy aanstaande skoonma met soveel liefde gereël het, aangesien Bronwen nie vir lank ongemaklik kon sit nie. Renier het gesê hulle gaan vir ’n fotosessie om haar gemoed te lig, en Bronwen het geen vermoede gehad van wat werklik beplan is nie. Alles het presies uitgewerk soos sy daarvan gedroom het: ’n fotograaf en videograaf was teenwoordig om die spesiale oomblik vas te vang.

Renier het lank en met oorgawe gebid oor die regte tyd en manier om haar te vra om sy lewensmaat te wees. Die Here het sy hart oortuig dat die naweek van 25 Oktober 2024 die regte tyd was. Met die ondersteuning van die Here, hul ouers en ’n begaafde fotograaf en videograaf wat help beplan het, het Renier die groot vraag gevra en Bronwen was oorstelp van blydskap en heeltemal vasgevang in die oomblik toe sy “ja” gesê het. Sy het sonder enige twyfel geweet: dit is die man wat God vir haar bestem het.

Ons verlowing was ’n waarmerk van genade, liefde en God se volmaakte tydsberekening.

Verloof- en Trouringe:


Die verloofring is in die geheim ontwerp deur Elri Diamante en Juwelier, niemand behalwe Renier het geweet daarvan nie. Die ring is vervaardig uit platinum en bevat ’n pragtige ovaalgesnyde diamant, met kleiner diamantjies aan weerskante. Dis ’n tydlose ontwerp wat perfek pas by ons styl en storie.

Die troupant is net so spesiaal. Dit is ook van platinum gemaak, versier met diamante wat ons as geskenke van haar ma en tannie ontvang het. Dit pas nie net pragtig by die verloofring nie, maar dra ook diep sentimentele waarde. Die juwelier wat dit vervaardig het, is dieselfde een wat deur Bronwen se ma gebruik is vir die meeste van haar juwele, dit is ’n besondere tradisie wat voortleef.

Wat ’n kosbare seën moontlik gemaak deur ons Hemelse Vader, wat elke detail so mooi uitgewerk het.

Trou Dekor en Styl:


Ons het ‘n sagte en natuurlike kleurskema gekies met wit, eucalyptus-groen en sagte seegroen, ‘n kombinasie wat vir ons kalmte, reinheid en ‘n tydlose gevoel uitstraal. Die styl van die troue was eenvoudig, elegant en gevul met betekenis, gefokus op liefde, familie en die Here se teenwoordigheid in ons huwelik.

Seeplaas is só ‘n pragtige en karaktervolle trou lokaal dat mens regtig nie veel nodig het om die plek asemrowend te laat lyk nie. My een groot droom vir die dekor was egter “fairy lights!” Op die tafels, teen die dak en mure, en selfs op die stoele in die gang by die seremonie. Fancy Functions het dit perfek verstaan en elke liggie presies reg geplaas. Die eindresultaat was betowerend en sprokiesmooi net soos ek dit wou hê.

Alles het daarop gemik om God se liefde en teenwoordigheid te weerspieël van die pragtige erediens tot die gesinsatmosfeer en intieme ontvangs. Ons wou hê dat gaste nie net ‘n mooi troue moes bywoon nie, maar die liefde van die Here moes ervaar.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het hul troue self beplan oor ’n tydperk van ongeveer vyf en ’n half maande. Met ’n trou begroting van sowat R250 000 en ’n intieme gaste­lys van 77 mense, het hulle elke detail met sorg en persoonlike aandag beplan om die dag werklik uniek en spesiaal te maak.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: