Dirk en Cara-Lé se verrassing strand verlowing was ’n onvergeetlike oomblik. Die paartjie het ’n prentjiemooi verlowing beleef op die strande van Glentana, ’n rustige kusdorpie naby George in die Tuinroete. Met die wye oop strande, goue sand en die sagte lig van die ondergaande son, is die perfekte agtergrond geskep. Dit was die ideale toneel vir ’n spesiale oomblik wat hulle lewens vir altyd sou verander.
Vir Cara-Lé was dit ’n groot verrassing, want Dirk het elke klein detail vooraf sorgvuldig beplan. Wat aanvanklik soos ’n gewone fotosessie saam met haar ouers gelyk het, het in ’n lewensveranderende verlowing ontaard. Die paartjie het in bypassende kleure opgedaag wat die oomblik nóg mooier gemaak het. Dirk se ligte roomkleurige broek en sy wit hemp het die toneel ’n ontspanne, maar steeds elegante gevoel gegee.
Die oomblik is pragtig vasgevang deur ’n fotograaf wat Dirk lank voor die tyd bespreek het. Só is elke glimlag, traan en gelukkige blik verewig in foto’s wat hulle vir altyd sal koester. Om ’n fotograaf in te span vir só ’n belangrike dag is ʼn baie goeie idee, foto’s hou herinneringe lewendig en laat daardie spesiale emosies telkens weer herleef.
Vir lesers wat self met verlowing planne speel, is dit belangrik om nie te veel druk op julleself te plaas nie. Die groot vraag moet ’n vreugdevolle en natuurlike ervaring wees. Gebruik gerus Mooi Troues se aanlyn trougids vir toegang tot betroubare en professionele diensverskaffers, dit maak dit soveel makliker om jou drome te laat waar word.
Rol af en geniet die asemrowende foto’s van Dirk en Cara-Lé se verrassing verlowing op die mooi strand in Glentana.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het in 2020 ontmoet by ʼn sosiale geleentheid! Dirk was verseker met die eerste oog opslag verlief. Hy was beslis vir my die mooiste man en ek was wel aangetrokke tot hom, maar nog nie verlief nie, na 3 maande toe vat dit vlam!!!! Ons het begin uit gaan 5 Februarie 2021. En was 3 jaar saam voordat ons verloof geraak het. Dirk het vir twee jaar in Amerika gewerk en ons het al ʼn rukkie daaroor gepraat om verloof te raak en ek het verseker die “skimps” gegooi na sy kant toe en hy het dit darem gevang!!!!

Die groot vraag:
Dit was ʼn verassings verlowing! Al wie van dit geweet het was die fotograaf wat Dirk gereël het en hy het alles met haar vooraf gereël. Dirk se ma en suster, en my ouers en broer. Dirk kan min goed vir my wegsteek, maar die was verseker die beste geheim wat hy nog kon hou!! Hy het my ouers gevra of hy met my mag trou toe hy van Amerika af terug gekom het. Ons is maar nog old school wat dit aanbetref.
Die ring was ʼn groot geheim! Hy en sy ma het gekonkel en die ring laat maak deur Grand Diamonds in Kaapstad, toe hulle die regte diamant gekry het waarvoor Dirk gesoek het en wat ek graag wou hê, het hulle dadelik begin ontwerp en die ring gemaak!
Dirk het my die middag van die 31ste Desember 2024 op die strand in Glentana gevra om te trou. Hy het vir my gesê ons gaan net bietjie foto’s neem saam my ouers op die strand en hy het tot die kleur skema gekies! Hy het met die fotograaf gereël dat ek uitkyk oor die see en sy ʼn paar foto’s moet neem en toe ek omdraai het hy die groot vraag gevra!! My ma, pa en broer was by die verlowing gewees en het die oomblik saam ons vas gevang!

Hoekom ons mekaar liefhet:
Cara-Lé: “My gunsteling eienskap van Dirk is verseker sy mooi en omgee hart. Die Here se lig straal so mooi uit hom uit vir ander mense om te sien, hy is baie hardwerkend en gee altyd sy alles vir die mense om hom en in sy werk. Ons het die wêreld se pret saam en kan enige iets saam doen en saam aanpak.”
Dirk: “Van ʼn sagte glimlag tot die warmste hart. As ek kon kies sou ek se al die eienskappe van Cara-Lé is net perfek vir my! Sy is die perfekte voorbeeld van ʼn Godlike vrou.”

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Dirk sou aanvanklik terug Amerika toe gegaan het die jaar, maar het ʼn goeie werkgeleentheid gekry om in Suid-Afrika te bly. Ons was van plan om einde van die jaar, begin volgende jaar te trou, maar ek moet nou eers van provinsies verhuis en by hom aansluit, so die groot trou beplanning sal volgende jaar gebeur. Ons gaan eers vir 2 jaar verloof wees. Daar is gelukkig niks wat ons op die stadium jaag nie, ons wil dit graag saam beplan en bymekaar wees tydens die beplanning.

Die verloofring:
Ek het so baie “skimps” gegooi na Dirk se kant toe! Gelukkig het hy dit gevang!! Hy het die inspirasie foto’s wat ek vir hom gestuur het gebruik om die verloof ring te laat ontwerp en te maak.
Hy het eers vir die regte diamant steen gesoek en toe het Grand Diamonds die perfekte een gehad en hulle het die ring ontwerp asook gemaak. Dirk het alles uit Amerika gedoen! Hy en sy ma het lank skelm gesoek vir die regte diamant en sy was die middel man gewees tussen Dirk en die ontwerper by Grand Diamonds! Dit is verseker die mees perfekte ring!!! Hy het dit spot on reg gehad! Dit was presies wat ek wou hê en nog meer!

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ek en Dirk het altyd gesê ons sal daarvan hou dat ʼn fotograaf die oomblik vir ons eendag vas vang. En Nicola het dit verseker reg gekry!! Dit is mooi herinneringe om te hê en ongelooflike mooi foto’s wat ons verewig die oomblik sal koester as ons na die foto’s kyk.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Alles was net perfek! Die weer het gelyk of dit die dag gaan reën, ons wou ʼn sonsondergang fotosessie doen, maar die bewolkte weer was ongelooflik mooi!! Die hele oomblik asook die middag was perfek! Ons hou van ʼn klassieke gevoel en “look” en dit was presies dit! Die wit, en beige het so mooi saam gewerk met die strand se effek en die mooi bewolkte lug. Ons wou ʼn strand fotosessie doen, omdat ons nog nooit ʼn fotosessie op die strand gehad het nie. Die strand in Glentana was so stil wat dit moontlik gemaak het dat ons omtrent die hele strand vir onsself gehad het.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:
Ons is so opgewonde vir die nuwe hoofstuk in ons lewe! Dink vir enige paartjie is dit stresvol om die troue te beplan en die begroting op te stel. Dit is hoekom ons dit nie wil jaag nie, ons wil alles mooi rustig saam beplan. Ons verwagting is beslis om ons groot dag perfek te beplan en die prentjie in ons altwee se kop ʼn realiteit te kan maak.

Visie vir droomtroue:
Ons het klaar ons harte op ’n venue in die Wes-Kaap verloor!! Klassieke styl is presies wat ons vir ons troue in gedagte het. Daarom gaan ons die venue se koördineerder gebruik om ons te help met al die beplanning.Dit moet tydloos wees! Ons gaan ʼn somer troue hê en maksimum van 100 gaste. Ons is klaar besig om aan ons visie bord te bou en die hele prentjie bymekaar te sit van ons klassieke, stylvolle troue in die Wes-Kaap.

- Fotograaf: Klawer Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Glentana strand
- Verloofring: Grand Diamonds| Kontak
