Mooi Troues se lesers kan elke maand ons 12-stap trou beplanning advies reeks volg. Ons breek die groot taak van troubeplanning op in kleiner dele, sodat jy dit rustig kan aanpak sonder om oorweldig te voel.
As jy nog nie Artikel 1 gelees het nie, moet asseblief nie stres nie! Jy kan die stappe doen op jou eie tyd. Hierdie reeks is slegs ’n riglyn om jou beplanning makliker en minder stresvol te maak.
Nou dat jy ’n beter idee het van jou begroting, is dit tyd om na die volgende belangrike stappe te kyk.

Beplan julle verlowing partytjie:
As julle nog nie een gehou het nie, is dit nou ’n goeie tyd. Dit hoef nie formeel te wees nie, nooi net naaste familie en vriende. Julle kan dit by die huis, ’n restaurant of klein lokaal hou.
’n Verlowing partytjie is nie ’n móét nie, as julle eerder ’n romantiese naweek wegbreek wil hê, is dit net só spesiaal.

Kies julle strooimeisies en strooijonkers:
Julle trou gevolg speel ’n groot rol op die dag, maar onthou asseblief dat dit is onmoontlik om almal in te sluit.
Maak ’n kortlys van mense wat vir julle die naaste is. Dink aan hul sterkpunte en hoe hulle kan help op die troudag. Vra hulle informeel of hulle belangstel. Moenie hulle druk om ja te sê nie.
Wenk: Dankie-geskenkies vir strooimeisies en -jonkers word gewoonlik op die troudag self gegee. Dit is ’n mooi gebaar, maar nie ’n vereiste nie.

Begin dink aan die wittebrood:
Elke paartjie verdien ’n wittebrood, al is dit net ’n kort wegbreek. Klik hier om meer te lees oor wegbreek plekkies wat ons in die verlede self besoek het.
Begin nou al en maak ’n spaarrekening oop vir julle wittebrood. Doen navorsing oor bestemmings, verblyf, koste en visums. Maak seker oor medikasie vereistes (bv. malaria-pille) en inenting-reëls.
Probeer so vroeg moontlik jou wittebrood bespreek en deposito’s betaal, maar doen jou huiswerk. Ongelukkig is daar baie oneerlike reisagentskappe wat paartjies uitbuit. Lees altyd resensies oor die agentskap op betroubare platforms soos Tripadvisor en kyk na terugvoer op sosiale media. Maak seker die agentskap het ’n goeie reputasie en positiewe resensies van vorige kliënte, voordat jy enige geld oorbetaal.
Hoe vroeër jy jou wittebrood beplan en deposito’s betaal, hoe meer gemoedsrus gaan jy hê.

Kies julle Huweliksbevestiger:
Die huweliksbevestiger is een van die belangrikste mense op julle dag. Dit kan ’n dominee, priester of geregistreerde huweliksbevestiger wees. Bespreek vroeg, want baie trou meer as een paartjie op ’n dag.
Gaan ontmoet die opsies, kyk na hul styl (spiritueel, tradisioneel, modern) en besluit wat by julle pas.
Sit ook jul huweliksbevestiger in julle trou begroting, hulle dienste is ’n belangrike deel van die dag se kostes.
Onthou: dit is julle troue so kies iemand wat vir julle reg voel, selfs al is dit nie die plaaslike dominee wat familie sou verwag nie.

Artikel Krediet:
- Advies geskryf deur: Mooi Troues
