André en Danica se goue uur verlowing fotosessie is uniek en terselfdertyd anders as die tipiese sessies wat ons op Mooi Troues met julle deel. Die algehele gevoel van hul fotosessie is intiem en rustiek-sjiek, met die pragtige tuin van Danica se ouerhuis as agtergrond.
Die sessie het gedurende laatmiddag plaasgevind, met ’n romantiese gloed van die ondergaande son wat gesorg het vir perfekte portrette. Hierdie natuurlike omgewing en herfskleurige elemente het bygedra tot ’n gemaklike, maar tog verfynde atmosfeer wat André en Danica se liefde mooi beklemtoon.
Hulle het gemaklik gelyk in uitrustings van aardkleure wat perfek by die rustieke toneel gepas het. Danica het pragtig en ontspanne voorgekom in ’n denim broek en ’n snoesige trui, terwyl André haar styl aangevul het met sy eie denim broek en ’n ligbruin top, eenvoudig, maar stylvol.
Die fotosessie was gevul met eerlike gelag, sagte aanrakinge en ’n tasbare gevoel van geluk tussen die twee. Wil julle hê julle verlowing foto’s moet net so besonders lyk? Dan beveel ons aan dat julle Mooi Troues se aanlyn trougids besoek. Daar vind julle talentvolle en kreatiewe fotograwe wat graag sulke spesiale oomblikke vasvang.
Rol af om meer van André en Danica se goue uur fotosessie te sien en geniet hul storie net so baie soos julle hul foto’s sal geniet.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons sal nie ons eerste ontmoeting kan onthou nie. Ons was ons hele laerskool loopbaan rondom mekaar en het mekaar van ‘n afstand af geken. Hy het wel ‘n DM op Instagram vir my gestuur in 2021, wat die begin was van ons verhouding. Ons was so om en by twee jaar saam voor ons besluit het om verloof te raak.

Die groot vraag:
Die verlowing was ‘n namaak van ons eerste Valentynsdag wat plaas gevind het by sy huis. Dit het ingesluit ‘n baie simpel opstel van ‘n skootrekenaar waarop ons films saam kyk, blomme, kerse asook die drink ding wat ons op daai eerste Valentynsdag gedrink het. Die ring boksie met die ring was binne die blomme weggesteek. Na werk toe ek by sy huis aankom was ek verras met die verlowing wat opgestel was as ons eerste Valentynsdag. Ons direkte familie, asook familie van oorsee was betrokke.

Hoekom ons mekaar liefhet:
André: Onvoorwaardelike omgee en liefde vir ander.
Danica: Oneindige geduld en deursettings vermoë.

v

Die verloofring:
Ek wou nog altyd ‘n ring met bietjie geskiedenis gehad het. Ek en ma ma was gereeld by Brooklyn Mall se Antique Fair. Laas Februarie was dit toe net ek en André by die fair; ek het die pragtigste ringetjie gesien, aangepas en vir hom gesê dis wat ek wil hê. Tot my verrassing is dit presies die ring waarmee hy my gevra het. Dit is ‘n 15 karat goud ringetjie, met ‘n old-european cut lemon quartz Citrine. Dit is die perfekte ring en wys net hoe goed hy my ken en hoe mooi hy oplet na belangstellings.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou die spesiale tyd in ons lewens; wat so vlugtig verby gaan; op n meer permanente manier dokumenteer. Sodat ons altyd kan terug kyk na die spesiale tyd.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons het die foto’s in die tuin geneem waar ek saam met my ma en broer bly en die inspirasie was net om foto’s te neem waarin ons kan terug kyk en ons geluk en liefde kan sien.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons albei is nog besig om te swot (nagraads en voorgraads), so ons enigste verwagtinge van die tyd is om dit te geniet saam met mekaar. En ek sal sê ons vrese is dat die swottings die tyd minder belangrik laat voel.

Visie vir droomtroue:
Ons gaan ‘n klein en intieme troue hê met net familie en ons naaste vriende. Ons trou in die kerk waar ek (Danica) groot geword het en gaan net ‘n rustige ete hê as onthaal saam met ons familie. Dit gaan ‘n baie sentimentele troue wees en ons familie en vriende gaan ons help met die beplanning en die uitvoering die dag van. Dis ‘n baie spesiale dag vir ons, maar dis ook belangrik vir ons om so veel as moontlik kwaliteit tyd saam met ons geliefdes te spandeer.

- Fotograaf: Jenna Claire Photography | Kontak

