Helger & Catelen se Stylvolle Troue in die Vrystaat

Helger en Catelen se stylvolle troue op ’n pragtige gasteplaas tussen Fouriesburg en Clarens in die Vrystaat was besonders mooi. Hierdie paartjie se verlowing fotosessie was ook op Mooi Troues gedeel, klik hier om na Helger en Catelen se Verlowing Fotosessie in ʼn Teater te gaan kyk. Hul troudag bied hope inspirasie vir ander paartjies wat op soek is na idees vir hulle eie troue in die Vrystaat. Met ’n kombinasie van klassieke en stylvolle elemente, was dié dag werklik een om nie te mis nie.

Catelen het asemrowend mooi gelyk op haar troudag. Haar deftige ontwerpers trourok het talle unieke en elegante elemente bevat waarop ons eenvoudig mal is. Die fyn detail aan die bokant van die rok, die effens oop rug en die pofferige skouer aan die een kant was alles stylvol en besonder uniek uitgevoer. Helger het net so stylvol voorgekom in ’n ligte troupak wat perfek by die paartjie se neutrale, aardse kleurskema gepas het.

Die trou seremonie het plaasgevind in die venue se prentjiemooi klipkapel, omring deur asemrowende uitsigte van die plaas en omliggende berge. Na die seremonie het die bruidspaar en hulle gaste onder die bome heerlike vingerhappies en drankies geniet.

Die trou venue was elegant versier in neutrale kleure met skakerings van wit, bruin, room en subtiele tikkies goud wat die ruimte daardie luukse en gesofistikeerde gevoel gegee het. Blommerangskikkings het bo die tafels op staanders gestaan, wat ’n gevoel van hoogte geskep het en dit laat voorkom het asof die blomme in die lug sweef. Die dekor het ’n Franse aanslag gehad wat, tesame met die sagte kleurpalet en kerse op die tafels, die trou venue ’n warm en romantiese atmosfeer gegee het.

Rol af om meer te lees oor Helger en Catelen se troudag en hul liefdesreis as paartjie.

Trourok:


My perfek gemaakte trourok deur Casper Bosman het al my verwagtinge oortref. Die spierwit rok was gekenmerk deur ingewikkelde, gedrapeerde detail met ʼn sweetheart halslyn en wye romp gedeelte. Die ontelbare ure se hand-kralewerk op die korset is ten volle openbaar in my asemrowende tweede rok. ʼn Baie prominente “meringue” enkel mou was baie spesiaal met ʼn kaal skouer aan die ander kant van my hoofrok.

Agter elke skepping deur Casper Bosman is ʼn magiese reis gedefinieer deur verbeelding en vakmanskap. ʼn Oomblik van egte elegansie het vir my waar geword toe elke detail saamgekom het in perfekte harmonie, uitgebeeld in my droomrok.

Paartjie se Verlowing:


21 Maart 2024 sal vir ewig vir my ʼn spesiale datum wees. ʼn Doodgewone vakansiedag wat ons rustig saam spandeer het.

Vroeër die week het Helger se ouers ons genooi vir aandete op 21 Maart. Helger het my, soos gewoonlik doodnormaal kom oplaai. By die huis van sy ouers aangekom en, het dit geblyk of niemand tuis is nie. Ek het egter gedink dat hulle wel êrens is.
Min het ek geweet dat sy ouers en suster (wat alles geweet het van die planne) alreeds op pad is na my ouers (wat niks van enige reëlings weet nie) waar ons almal saam iets sou eet.

Ewe kordaat stap Helger voor my by die huis in! Voor ek mooi besef wat gebeur, sak hy op sy knieë neer voor die koffietafel wat versier was met ʼn mandjie rose en kerse en vra die GROOT VRAAG! Ek kon natuurlik nie wag om “JA” te sê nie my grootste droom het op 21 Maart 2024 waar geword!

Ons ware liefdesverhaal het begin met hierdie epiese hoofstuk.

Verloof- en Trouringe:


Harwick & Mazzoni Manufacturing Jewellers (David the Jeweller) in Umhlanga het ons ringe gemaak.

My verloofring is ʼn absolute showstopper met ʼn ovaal enkeldiamant in 18kt wit goud met kleiner diamante aan elke kant.

Ons troupante was ook gemaak deur David Mazzoni. Dit is ablei in wit goud en my ring pas aan by die verloofring met dieselfde diamante.

Trou Dekor en Styl:


Neutrale kleure, room, beige, bruin en wit. Die dekor met ongelooflike blomme, wit stoele en goue eetgerei het die romantiese Franse styl gekomplimenteer en ʼn rustiger en liefdevolle atmosfeer geskep. Kristal en kerse het die tafels versier op ʼn manier wat sprokiesmooi was. Die hoë blomruikers het ʼn lekker kuier atmosfeer verseker vir die gaste.

Trou Begroting en Beplanning:


Ons het vir 11 maande aan die troue beplan, saam met Oranje Gasteplaas se troukoördineerder, my ma en ekself. Die troue is bygewoon deur 140 gaste, wat dit ’n spesiale geleentheid gemaak het.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: