Hewalt en Jeanriëtte se prettige vintage verlowing fotosessie is een wat jy nie wil misloop nie! ’n Verlowing fotosessie kan ongelooflik lekker wees, en ons moedig paartjies altyd aan om iets uniek en persoonlik te doen. Jeanriëtte en Hewalt het baie moeite in hul sessie ingesit, en die resultaat is vol inspirasie vir paartjies wat idees soek vir hul eie verlowing fotosessie.
’n Verlowing fotosessie is soveel meer as net nóg ’n fotosessie. Dis ’n waardevolle geleentheid vir paartjies om gemaklik voor die kamera te raak en hul troufotograaf beter te leer ken. Elke fotograaf het ’n unieke styl en benadering, en deur so ’n sessie te doen, kry julle ’n voorsmakie van hoe dit op julle troudag sal wees. Dit help beslis om spanning te verminder en selfvertroue te bou vir die groot dag – veral wanneer dit by die troufoto’s kom.
Die paartjie wou graag pragtige foto’s hê vir hul trou-uitnodiging, en dit was een van die redes waarom hulle die fotosessie beplan het. Hulle het ’n oulike, afslaandak Volkswagen Vollatjie as deel van die tema gebruik – ’n kreatiewe en nostalgiese keuse! Die blomme wat orals in die foto’s voorkom, saam met die ou tassie met die woorde “Amper Getroud”, dra perfek by tot die oulike vintage gevoel. Jeanriëtte se rok en haar hartjie-sonbrille het die tema netjies afgerond.
Is julle onlangs verloof? Gebruik Mooi Troues se aanlyn trougids om julle troue met gemak te beplan. Hier kan julle professionele en kreatiewe diensverskaffers vir julle troudag vind – alles op een plek, sonder om ure lank te soek vir idees.
Rol af om meer te lees oor Hewalt en Jeanriëtte se prettige vintage verlowing fotosessie en hul liefdesreis as paartjie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het mekaar op die Koer App ontmoet. Ná ongeveer ’n week se gesels, het ons besluit om mekaar in persoon te ontmoet. Ons was so vir agt maande in ’n verhouding voordat ons verloof geraak het.

Die groot vraag:
Op 31 Augustus in Mosselbaai, tussen die olifante! Die verlowing was ’n groot verrassing – hy het sommer my tasse vir my gepak, my daardie oggend wakker gemaak en gesê ek moet in die kar klim. Dit was net ons twee, en dit was ongelooflik spesiaal en onverwags… ’n ware droomoomblik!

Hoekom ons mekaar liefhet:
Ons kan lekker laf wees saam – dit bring soveel pret! Dis ook heerlik om dieselfde belangstellings te deel.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons gaan trou op 6 September 2025.

Die verloofring:
Ek het vir hom gewys waarvan ek hou, en hy het besluit om ’n ring vir my te laat maak – heeltemal my styl!

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou pragtige foto’s hê vir ons trou uitnodigings.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons was lus vir iets anders – iets uniek en outentiek.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons fokus daarop om elke oomblik ten volle te geniet.

Visie vir droomtroue:
Ons beplan ’n klein, intieme troue by Monte Bello in Bloemfontein – presies wat ons wou hê.

- Fotograaf: Pixlpixi Photography | Kontak
- Grimering: Make up by Lizbe| Kontak
- Hare: Salon Renainssance| Kontak
- Verloofring: Heathorns Diamonds and Gold| Kontak

