Hanré & Megan se Rustieke Troue in Bethlehem

Hanré en Megan se rustieke troue in Bethlehem in die Vrystaat was ’n pragtige kombinasie van klassiek en ’n tikkie rustiek. Die paartjie het hul geloftes afgelê by die asemrowende Lavender Hill Country Estate – ’n ware droom trou bestemming. Hier word paartjies verwelkom met warmte, vriendelikheid en professionele diens.

Hulle het hul seremonie gehou in die unieke groot klipkapel, omring deur asemrowende uitsigte. Daarna het hulle saam met hul gaste gesellig vingerhappies en drankies geniet in die prentjiemooi, versorgde tuine van Lavender Hill, met ’n uitsig oor die prag van die plaas. Die ligging van hierdie venue is perfek vir droom-troufoto’s – soos dié van Hanré en Megan.

Die onthaal lokaal was stylvol versier en het nie net ’n romantiese voorkoms gehad nie, maar ook ’n warm, verwelkomende atmosfeer geskep. Lang houttafels is versier met eenvoudige blommerangskikkings wat genoeg ruimte gelaat het vir gemaklike geselskap. Sagte pienk en roomkleurige proteas was die sterre van die rangskikking, pragtig gekombineer met delikate bruin blompotjies en vuilpienk tafellopers. Die lang roomkleurige kerse in swart staanders het ’n tikkie drama en romantiek bygevoeg, terwyl donker sjampanjekleurige glase en ligte servette in room en ligbruin ’n warm, uitnodigende gevoel geskep het.

Megan se trourok was besonder elegant – die fyn detail by die V-nek en hoe die ontwerp eenvoudig na onder toe vloei, was pragtig. Haar strooimeisies het asemrowende Bourgondië-rokke gedra wat perfek by die troue se blomontwerp gepas het. Hanré het gekies vir ’n deftige bloupak, gekombineer met ’n Bourgondië-kleur das en bruin skoene wat sy voorkoms perfek afgerond het.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis en om nog meer van hul pragtige troue te sien.

Trourok:


Van klein dogtertjie droom mens oor jou trourok, Google maak dit moeilik want daar is so baie idees en style wat mens kry. Ek het kort voor ons verloof geraak het ʼn verskriklike mooi rok idee gesien en dadelik die prentjie gestoor. Die rok het lang moue gehad oor ek skaam is oor my arms, dan het dit ʼn V-snit voor op die bors met n oop rug, net bo die heupe klok die rok uit maar nie teveel “poof” nie.

Ons het ‘n afspraak gemaak by Bridal Emporium in Bloemfontein, in die konsultasie met Karlien het ek die prentjie vir haar gewys en ons het begin rokke pas. Die eerste rok was presies my droom rok van die prentjie maar sonder moue. Vinnig daardie dag geleer dat iets wat jy probeer wegsteek makliker beklemtoon word as weg gesteek. Ons het verder rokke gepas. My kop was so deurmekaar en ek kies toe ʼn heeltemal ander rok. Gelukkig het Karlien baie foto’s geneem. Die rok het bly maal in my kop. Ons was nog nie eers uit Bloemfontein nie. Ek het heeltyd terug gegaan na daardie eerste rok se foto. Op my gesig op die foto was dit duidelik my rok.

Die bo kant is versier met klein blinkers en die onder kant plein. My bruidsmeisies het wynrooi rokke aangehad wat deur The Maiden lyfpas gemaak is. Die manne het ‘n bruin chino broek met ʼn wit hemp, bruin kruisbande en wynrooi strikdasse aangehad. Hanré was baie stylvol in sy vlootblou pak met ʼn wynrooi das.

Paartjie se Verlowing:


Die verlowing was baie spesiaal. Ons gesin (Lourense-die bruid) is baie lief vir jag en skiet. Ons het 6 Slaghuise en daarom het ek groot geword met jag. Hanré het deel geword van die slaghuis familie en daar besef hy hou ook van jag en toe hy later deel word van die gesin wou hy graag verbeter.

Die skoot hoog deur

Hy het dit slim gedink om op vriende van ons se plaas te reël dat ons “teiken” gaan skiet. Vir my om niks te verwag het hy my boetie LJ Lourens en skoonsussie Gloria Lourens gevra om saam te gaan teiken skiet want Gloria besit ʼn 270 jag geweer en my Pa wou op daardie stadium vir my ook een koop, so ek moet met haar geweer skiet om te voel hoe die spesifieke geweer skiet. Na ʼn hele paar keer wat Hanré teiken geskiet het, moes ek en hy kompitiese hou en teikens bekruip en 5 verskillende kante af en kyk wie skiet die beste. Hanré het baie moeite gedoen hy het bok teikens laat print en my boetie hulle het dit vroeër die dag reeds gaan opsit op die plaas.

Toe ek by die laaste teiken kom en deur die telleskoop kyk toe staan daar Megan sal jy met my trou en die opsies ja of nee. Ek het so gebewe dat ek toe amper die hele teiken mis skiet, maar gelukkig nader aan die ja. Toe ek omdraai hier staan die man reeds en wag vir my op sy knieg. Gloria neem ʼn video en LJ vergeet toe om die geweer by my te vat. Die skok was redelik groot ek het nooit vir Hanré geantwoord en hy vra toe uiteindelik weer die vraag gevra.

Gloria en LJ het vir ons in die populierbos ʼn hele piekniek gebou waar daar iets lekkers was om te eet en ʼn hele string fotos van my en Hanré gehang het. Hulle het gery en ons twee het heel rustig in die stilte en kalmte van die plaas gesit en ons middag saam spandeer.

Verloof- en Trouringe:


My verloofring is baie simplisties maar tog elegant. Ek wou nog nooit ‘n diamantring gehad het nie ek glo dit is “overrated” en daar is geen rede hoekom ʼn mens so deur ring moet hê nie. ʼn Ring bepaal nie die liefde tussen twee mense nie.

Daarom het ons besluit om my verloof ring by WR juweliers in Bethlehem te maak. Frank het vir my die mooiste 9k roosgoudring met ʼn moissanite steen. Hy blink mooier as ʼn diamant en die geldwaarde is ʼn derde van die prys.

My troupand is van 9k roosgoud met 13 klein moissanietsteentjie Hanré se ring was baie onverwags ons was by Monte Casino saam vriende vir die naweek, daar was ʼn klein juweliers plekkie lang een van die restaurante ons het daar ingeloer en die perfekte ring gekry, ʼn swart en silwer Tungsten ring met ʼn roosgoud lyn in die middel.

Trou Dekor en Styl:


Mense wat my ken sal weet ek is ‘n “plain Jane” die kleurskema was sjampanje, wynrooi, room, lig bruin en vuil pienk. Die dak en mure van die saal was warm “fairy lights”. Ek wou dit eenvoudig en simplisties gehad het, maar nogsteeds mooi stylvol en elegant. Ek hou daarvan dat my blomme op die tafels baie eenvoudig en klein hoeveelhede was so dat die gaste mekaar kon sien en lekker gesels. Die tafellopers as ʼn vuilpienk kleur met verskillende bruin kleur blompotjies. Die servette was room en lig bruin afwisselend met donker sjampanje kleur glase. Hier en daar ʼn lang roomkleur kers in ʼn swart stander.

Ons trou was uniek en perfek soos ek dit wou gehad het. Die styl was baie minimalisties met ‘n titsel rustiek. Die bruin aardse klere het die wynrooi, room en pienk proteas baie mooi gekomplimenteer. Ons het die uitleg van die saal gemaak sodat daar ‘n lekker dansbaan spasie was met al die gaste wat in n half maan vorm gesit het en gekyk het na die bruidstafel. Op die tafel was geen eetgerei vir die rede genoem in die epos ons het nie ‘n tradisionele driegang ete nie. Daar was n menu op elkeen se tafel sodat hulle kon sien watter disse “geroam” word.

Meer oor Lavender Hill Country Estate:


Groot, groen grasperke, borrelende fonteine, geurige rose en laventel skep ’n magiese atmosfeer teen die agtergrond van die majestueuse Maluti-berge en uitgestrekte valleie. Hier begin elke sprokiesverhaal. Gaste kan kies tussen die asemrowende Hillsong-kapel, met sy indrukwekkende glasvensters, of die intieme Birdsong boskerkie om hul liefde te bevestig. Elke opsie is uniek en dra by tot die betowering van dié spesiale dag.

Met vier betowerende sale beskikbaar, word elke gas weggevoer na ’n wêreld van romanse en elegansie. Die toegewyde troukoördineerder by Lavender Hill Country Estate is daar om julle droomdag ’n werklikheid te maak. Gaste word bederf met 28 individueel versierde chalets, spesiaal ontwerp om dié dag onvergeetlik te maak. Die bruid kan haar voorberei in die stylvolle Mirabelle-kamer, terwyl die bruidegom ontspan in La Lavande – met ’n privaat stoep en braaigeriewe.

Na die seremonie wag die weelderige Aphrodite wittebroodsuite, met ’n spa-bad en panoramiese vensters om die uitsig ten volle in te neem. Lavender Hill spog ook met selfonderhoudende krag- en watervoorsiening, wat dit ’n omgewingsvriendelike keuse maak. Hierdie unieke toevlugsoord is die perfekte begin van ’n lewe saam.

Kontak Lavender Hill Country Estate vir meer inligting.

Trou Begroting en Beplanning:


Die troue is beplan oor ’n tydperk van ses maande met die hulp van die talentvolle koördineerder, Maré, van Lavender Hill Country Estate. Die paartjie het ’n begroting van R235 000 gehad en het hul spesiale dag saam met 105 gaste gevier.

Meer oor die Crocs:


Ons troue was baie uniek en dit was my grootste droom. Ek wou ʼn anderste trou gehad het as die res. Eerstens het al ons gaste Crocs skoene aangehad selfs ek en Hanré het Crocs gedra saam met ons trourok en pak.

Die storie van die Crocs kom al baie jare.

My pa Carel Lourens dra van dat ek n kleindogterjie is geel Crocs orals waar hy gaan. Hy dra sy geel Crocs vir visvang, rugby afrig, n braai saam vriende of selfs ander mense se troues. My boetie se twee jarige tweeling seuntjies Carlou en Stephan het elkeen ook ʼn paar geel Crocs en huil as dit uitgetrek word. ʼn Tannie het eendag vir my gesê sy hoop net nie my pa of die tweeling gaan hulle geel Crocs op my troue dra nie en net daar en dan het ons besluit Crocs sal ʼn groot ding wees op ons troue. Dit was super cool ons vriende het letterlik planne gemaak om Crocs te koop van pers tot bruin.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: