Robert en Chanri se verassings verlowing Fotosessie is ‘n spesiale oomblik vasgevang in tyd. Wat aanvanklik soos ’n gewone paartjie-fotosessie sou wees, het in iets veel meer verander, danksy Robert se verrassings plan.
Hy het met hul fotograaf gereël om ’n pragtige plek te bespreek, en watter beter keuse as by ’n trouvenue? Die paartjie het die mooiste verlowingsfoto’s in die lieflike tuine gekry, omring deur wit rose en groen bome. Die fotosessie was in ’n piekniekstyl, iets waarvoor ons absoluut mal is.
’n Piekniek is ’n lieflike en ontspanne tema vir ’n paartjie se spesiale fotosessie. Dit help ook om die paartjie gemaklik te laat voel en om hul tyd saam te geniet.
Chanri en Robert het albei ligte, neutrale uitrustings gedra, wat die foto’s nog mooier gemaak het en die fokus op die spesiale oomblik geplaas het.
Toekomstige bruidegom! As jy beplan om jou meisie op ’n verrassende manier te vra om te trou, maak seker dat jy ’n professionele fotograaf reël. Dit is so ’n kosbare oomblik wat beslis in foto’s vasgevang moet word. Besoek Mooi Troue se aanlyn trougids vir fantastiese diensverskaffers vir jul verlowingsfotosessie.
Rol af om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis en om die pragtige foto’s van hul verlowingsfotosessie te sien.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Robert het ʼn “Fitness & Nutrition” winkel in Queenswood besit. En ek wou mos nog altyd aanvullings probeer om ʼn mooi somerlyfie te kry. Min het ek geweet dat ek daardie dag wat ek besluit het om sy winkel te besoek, my trou man gaan ontmoet. Ons het so bietjie gesels en eers goeie vriende geword – en natuurlik omdat hy so goeie verkoopsman is, was ek ook ʼn baie lojale kliënt gewees.
Lang storie kort en baie verandering tussen deur, is ons nou gelukkig verloof! Ons was amper vier jaar saam voor ons verloof geraak het.

Die groot vraag:
Die verlowing was ʼn absolute verassing gewees. Ek het niks geweet of selfs vermoed nie, hy het alles haarfyn saam die fotograaf beplan – die kamstige fotosessie vir haar nuwe webtuiste was toe al die tyd my verassing verlowing gewees. Ek het nie geweet mense kan geheime so goed wegsteek nie. Hy het die fotosessie by Hello Timber bespreek waar ons toe 13 Oktober 2024 gaan foto’s neem het, ek het nog geglimlag vir ʼn foto en toe ek omdraai sien ek hom op een knie staan, die oomblik toe hy kies om my sy vrou te maak; trane het gerol en hy het die ring aan my vinger gesteek.
Geen familie of vriende was by die fotosessie betrokke nie, almal het later die middag aangesluit vir die feesviering by ʼn restaurant.

Hoekom ons mekaar liefhet:
Van hom:
- Sy skreeusnaakse humorsin.
- Sy sagte en liefdevolle geaardheid rondom my.
- Die passie en ywer vir sy werk.
- Daardie pragtige rooi hare en sterk arms.
Van haar:
- Daardie sonstraal glimlag en warm geaardheid.
- Haar kosmaak vernuf is 10/10.
- Haar omgee hart.
- Alles saam haar is maklik en net ʼn fees.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Hy het my weer verras en ons droom trou venue bespreek drie maande voor hy my gevra het om met hom te trou, hy het die geheim gedeel tydens die familie ete die aand van ons verlowing, emosies het hoog geloop, dit was te mooi om waar te wees. Ons troudatum is 20 Junie 2025 by Bell and Blossom. Ons sien vreeslik uit en kan nie wag vir ons ewigheid van geluk, liefde en vreugde saam nie.

Die verloofring:
Hy het altyd gespot en gesê hy kan my nie vra om te trou as ek nog nie eers weet watter ring ek wil hê nie, so toe tree ek proaktief op en kies my droom ring by Beaudell Diamonds uit – toe was daar nou geen meer oponthoud van my kant af nie. Hy het my wel eers gevra om met hom te trou vyf maande nadat ek die ring uitgekies het. Ek het wel geweet hoe die ring gaan lyk, maar hom nie vooraf al gesien nie of aangepas nie.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Dit was alles sy idee. Ons doodgewone paartjie fotosessie het sommer ontaard in ʼn verassing verlowing fotosessie op 13 Oktober 2024. Hy wou seker maak ek lyk vir myself mooi op die dag wat hy my vra om te trou, spesifiek vir die foto’s wat die spesiale oomblik vasvang, toe dink hy wat gaan beter werk as ʼn fotosessie – sy gaan dan tog opdollie en seker maak sy lyk mooi en haar naels sal gedoen wees.
Die oomblik en herinnering is só mooi op video en foto’s vasgevang. Die fotograaf het beslis haar storie geken, ons foto’s is pragtig en baie spesiaal.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Hy het met ons fotograaf gereël om ʼn pragtige plek te bespreek waar ons die fotosessie kan hou wat mooi foto’s sal verseker. Hello Timber se pragtige wit onthaalsaal en wit rose wat die hele plek omring het die foto’s net na die volgende vlak gevat. En waar beter om verloof te raak as by ʼn trouvenue self?! Die tema vir die fotosessie was ʼn pastel kleur piekniek styl met pragtige wit blomme, piekniek mandjie, wit kussings en peuselhappies bord, met wyn natuurlik ook by.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons verwag om die beplanning van die troue saam te geniet. Meer van mekaar te leer, nog nader aan mekaar te groei en saam oor ons toekoms as man en vrou te droom.
Ons vrees is seker maar ‘n algemene een; dat daar maar meningsverskille sal opduik tussen familielede tydens die beplanning en reëlings vir die troue. Ons families is maar redelik divers en “blended”. Maar ons beplan om dit goed te bestuur en die doel agter die dag voor oë te hou – ons verbond aan mekaar voor God.

Visie vir droomtroue:
Ons wil nie te groot of duur trou nie. Eerder ʼn lekker en lang wittebrood oorsee gaan geniet om ons huwelik te vier. Ons spesiale dag gaan by Bell and Blossom Wedding venue gehou word met ongeveer 70 gaste. Ons sien uit na ʼn lekker wintertroue 20 Junie 2025, met ʼn lekker vuurtjie wat brand, sop en broodjies en partytjie en feesvier tot ons moeg is.
Die venue sluit ʼn trou koördineerder in, so ons is van plan om beslis van haar dienste gebruik te maak. Sy weet beslis meer van troues beplan as ons af. Ons kyk na ʼn stylvolle, maar tog eenvoudige en mooi troue, waar almal dit net geniet en ons huwelik kan begin.

- Fotograaf: MG Photo And Film | Kontak
- Fotosessie Ligging: Hello Timber | Kontak
- Verloofring: Beaudell Diamonds| Kontak

