Stiaan & Nadia se Buitelug Tuin Troue

Stiaan en Nadia se buitelug tuin troue in Centurion is die perfekte voorbeeld van hoe pragtig ʼn tuin troue kan wees.  Dit was ʼn aand van gesellige kuiers onder die feetjie liggies en skitterende sterre saam met familie en vriende.  Die paartjie se troue is propvol trou inspirasie vir paartjies wat droom van ʼn gesellige buitelug troue.

Die paartjie se seremonie was ook in die buitelug onder die groot bome, omring deur die rustigheid en mooi natuurskoon van hul trou venue in Centurion

Ons is totaal en al verlief op die trou dekor.  Die lang tafels met die wit tafeldoek en verskillende teksture wit en neutrale dekor gee ʼn baie warm atmosfeer aan die buitelug onthaal area.  Hout stoele op die groen gras met die wit tafeldoeke lyk só mooi.  Die tafels se dekor is minimalisties, maar met soveel mooi elemente.  Sagte wit blom ontwerpe is strategies tussen die kerse geplaas op die lang gaste tafels.  Die paartjie se tafel was apart en ook omring deur wit en groen blom ontwerpe.  Lee-Ann van MODE Weddings het seker gemaak die paartjie se troue is prentjie mooi en stylvol.  Mode Weddings is ʼn vol diens trou diensverskaffer wat spesialiseer in troubeplanning en -stilering.  Sy het die paartjie se visie vir hul troue ontskep in ʼn werklikheid.

Die bruid se moderne moulose trourok met ʼn omvou-styl is besonders mooi en sy het beeldskoon gelyk op haar troudag.  Haar wit handruiker het haar voorkoms perfek gekomplimenteer. Die bruidegom het ʼn deftige swart troupak aangehad met ʼn onderbaadjie en strikdas wat ʼn baie mooi formele voorkoms gee.

ʼn Buitelug troue is altyd ʼn wen resep, veral as die ligging, dekor elemente en algehele stilering só mooi saamwerk.  Geniet die pragtige foto’s geneem deur George and Co.  Rol af om meer te lees oor die troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Stiaan het vlugtig (telefonies), op Universiteit ontmoet aan die begin van my eerste jaar en terwyl hy reeds ʼn derde jaar was.  Die doel van die oproep was om vir my advies te gee aangaande my graad, en miskien te ontmoet vir koffie.  Getrou aan sy probleem oplossings mentaliteit het hy my egter net gebel en nooit vir koffie genooi nie.  Ek was skoon verbaas.  Dit was egter eers jare later toe ek met my klerkskap begin het, toevallig by dieselfde firma waar Stiaan gewerk het, wat ons mekaar in persoon ontmoet het.  Stiaan volhou dit was ware liefde met die eerste oogopslag. Twee jaar later, op ʼn pragtige herfsdag by Lanzerac in Stellenbosch het Stiaan my gevra om te trou met ʼn verrassings piekniek onder die Jonkershoek Vallei.

Trourok:


Van die begin af het ek geweet dat die enigste plek waar ek my rok wil koop was Veil Bridal Boutique.  Ek kon nie vir ʼn beter ervaring gevra het nie.  Ek het ʼn verskeidenheid rokke aangepas, maar ek het van die begin af geweet dat ek ʼn tydlose rok in styl sowel as materiaal wou hê – wat vir my geen ander opsie as satyn sou bied nie.

Die styl van die rok is ʼn moderne skouerlose/moulose rok met ʼn omvou-styl, die romp het drie voue en ʼn hoë gesnyde spleet op die regterbeen.  Die korset het gevoude detail gehad wat die bolyf gekomplimenteer het.  Alhoewel ek ʼn moulose rok wou gehad het, het ek egter gevoel dat ek wel ʼn effense gedrapeerde moutjie vir die seremonie wou hê, wat ek tydens die onthaal verwyder het.  Die rok het ʼn gepaardgaande sleep, wat maklik kon lig en vasmaak in die middel met hakies, vir wanneer die tyd aangebreek het om die dansbaan te open.

Ek is sentimenteel en wou nog altyd beide my ma en ouma op die dag vier.  My ma het besluit om ʼn stukkie van elkeen van hul trourokke in die binnekant van my rok in te werk in die vorm van ʼn materiaal blommetjie.  Dit was besonders spesiaal en ek hoop dis ʼn tradisie wat ek kan voortsit en om dit ook eendag vir my dogter te kan doen.

Verloof- en Trouringe:


Altyd het ek nog gedroom van ʼn klassieke en stylvolle ring, waarvoor ek nie moeg sou word nie.  Ek wou egter steeds iets doen wat bietjie buitengewoon is.  Ek was vasbeslote op ʼn ovaal diamant steen en was mal oor die idee om die klein steentjies aan die kant by te sit.  Dit skep die indruk van ʼn diamant blom.  Uiteindelik het ons besluit op ʼn ovaal diamant, omring deur kleiner peervormige diamante aan beide kante op ʼn goue band.

Stiaan het ʼn soortgelyke benadering gevolg en besluit op ʼn witgoud band met ʼn dun inkeping in die middel.  Vir Stiaan was die belangrikste ʼn eenvoudige, tog klassieke ring.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


My gunsteling herinnering was die oomblik net voordat ek in die paadjie afgestap het en Stiaan vir die eerste keer sien.  Ek was terselfdertyd senuweeagtig, angstig en opgewonde en die oomblik wat ek vir Stiaan gesien het, het alles in my net rustig geraak en ʼn borrelende vreugde oor my gespoel.  En sy toespraak – sy woorde was só dierbaar, ek het selfs ʼn traan gepik.  Ek sal sy woorde vir altyd onthou!

Meer oor MODE Weddings


MODE Weddings spesialiseer in troubeplanning en -stilering in die Gauteng area.  Hul bied ʼn volledige beplannings diens, sowel as troudekor en blom stilering om jul grootdag ongelooflik te laat lyk!  MODE Weddings is al meer as ʼn dekade in die troubedryf, en het werklik ʼn passie om die troudag te skep waarvan julle nog altyd gedroom het!

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Ek kan nie genoeg oor Riani van Kleinkaap en Lee-Anne van MODE Weddings praat nie.

Riani het dinge vir ons troue georganiseer en beplan, wat ons nie eers geweet het ons nodig het nie.  Sy is absoluut wonderlik en sal uit haar pad gaan om jou droom troudag perfek te maak.  Sy sien jou idees en jou visie en sy doen alles in haar vermoë om dit te laat realiseer.

Lee-Anne is ongelooflik.  Ek het ʼn paar beplanners en stiliste ontmoet voordat ek Lee-Anne ontmoet het en omtrent 5 minute in ons eerste konsultasie het ek eenvoudig geweet dat Lee-Anne by ons troue moes betrokke wees.  Sy het soveel kennis en ondervinding.  Sy is ʼn wonderlike, energieke, vriendelike persoon en haar werk is eenvoudig fenomenaal.

En natuurlik, Trisha van DirtyPeach Cake Boutique. Sy is absoluut ongelooflik. Die troukoek het pragtig gelyk met die mooiste blomme gemaak van suiker.  Die blomme was só mooi dat verskeie gaste gedink het dis egte blomme.  Boonop het die troukoek heerlik gesmaak ook.  ʼn Getuienis daarvan is dat die gaste dadelik al drie lae daarvan geëet het.  Dis nie aldag dat ʼn hele troukoek geëet word nie.

Ons fotograaf, Jess van George en Co. was uitstekend.  Sy het flink en vinnig gewerk, presies geweet watter foto’s sy wou neem, maar terselfdertyd ons op ons gemak laat voel en dit moontlik gemaak dat ons die fotosessies kon geniet.  Die foto’s is pragtig en die bonus is dat sy al vir ons die volgende dag ʼn paar sneakpeak foto’s gestuur het.

Trou Venue:


Kleinkaap was die eerste venue wat ons besoek het en al die ander venues wat ons besoek het, kon ons net nie dieselfde bied as Kleinkaap nie.   Ons wou baie graag ʼn buitelug tuin-troue hê.  Ons visie was dat ons troue die gevoel moet skep van ʼn groot aandete saam met al ons vriende en familie.  Kleinkaap was perfek hiervoor, die groot area met die pragtige bome wat dit omring, die verskillende terrasse en hoekies. Ons het dadelik so gemaklik gevoel daar.

Wat ons regtig beïndruk het van Kleinkaap, buiten die pragtige tuine en geboue, was die personeel.  Riani, die koördineerder, het alles so maklik gemaak en sy het ons behandel asof ons al jare lank vriende is.  Niks was ooit vir haar te veel moeite nie en ons het absoluut vrye teuels gehad.  Alles het so gemaklik gevoel, en ons het geweet dat die personeel by Kleinkaap alles moontlik sou doen om ons troue perfek te maak.

Trou Dekor en Styl:


Die hele troue was in die welige, pragtige tuine van Kleinkaap en ons het dus die troustyl en kleure so minimalisties as moontlik gehou.  Die pragtige tuine moes die hoof fokus wees en ons wou hê dat die dekor en die tuine mekaar moet komplimenteer.  Ons blomme en dekor was verskillende skakerings en teksture van wit wat pragtige dimensies en diepte oral geskep het.  Ons wou graag ʼn romantiese gevoel skep tydens die onthaal.  Die feetjie liggies en kerse op die tafels het Kleinkaap in ʼn romantiese sprokies tuin omskep.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Ek sou sê jy moet jou tyd vat om alles te beplan.  Aan die einde van die dag is dit só ʼn spesiale tyd en dit gaan só vinnig verby, so probeer om elke oomblik, van die beplanning tot die groot dag, te geniet.  Probeer diensverskaffers vind wat jou gemaklik laat voel en wat net so passievol oor jou troue is soos wat jy is.  Dit maak ʼn groot verskil as jy jou diensverskaffers vertrou en dat jy weet dat hulle alles in hul vermoë sal doen, om jou dag perfek te maak.

Eerste Dans:


Lucky – Jason Mraz & Colbie Caillat

Trou Begroting en Beplanning:


Nadia het ʼn jaar en ʼn half self aan hul troudag beplan, met hulp van Lee-Anne van MODE Weddings en Riani van Kleinkaap.   Hul trou begroting alles ingesluit het R4,000 per kop uitgewerk.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: