Jan-Toit & Frances se Romantiese Troue

Ons opgewonde om Jan-Toit en Frances se romantiese troue met julle te deel.  Die oulike paartjie het ontmoet op Universiteit, het albei oorsee gaan werk en toe ʼn paartjie geword in Nederland. Hulle het ook ʼn baie interessante verlowing storie wat julle nie moet mis nie.

Hulle het ʼn prentjie mooi plattelandse troue gehad by ʼn pragtige trou venue in Pretoria-Oos wat ʼn Europese atmosfeer tot dit het.  Hul seremonie was in die buitelug onder ʼn prieel omring deur plattelandse landskappe wat jou laat voel of jy iewers oorsee is.  Ons is dol verlief op die gevoel van hulle trou venue.  Dit gee vir ons ʼn tipe van ʼn kweekhuis gevoel waar gaste lekker gesellig kan kuier.  Nie net is dit mooi nie, maar die kombinasie van die trou venue se dekor styl en die romantiese dekor elemente van die paartjie se trou dekor is ʼn wen kombinasie.

Hulle het hul trou dekor eenvoudig gehou, maar tog aandag gegee aan fyn detail.  Soos die pleknaam kaartjies met die waks stempel op wat vas is aan die spyskaart.  Skakerings van sagte pienke en pers kan ook gesien word as deel van hul blom ontwerpe op die tafel.  Die ongepleisterd baksteen mure en groot glas ruite van die trou venue komplimenteer die dekor elemente só mooi.

Gracenote Music het trou gaste vermaak gedurende die seremonie met die mooiste musiek.  Hulle is is ʼn fluit, viool en tjello trio wat gebaseer is in Pretoria.  Met ʼn passie vir mooi musiek sal julle gewaarborg mooi musiek hê vir julle troudag.

Frances vertel dat hulle self die troue beplan het in ʼn kort tydperk van net so oor die twee maande. Besoek gerus Mooi Troues se Trougids vir al jou trou diensverskaffers.  Om meer te lees oor Jan-Toit en Frances se romantiese troue, rol af.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar gedurende ons studies op die universiteit van Pretoria ontmoet.  Jan-Toit was in Sonop koshuis en ek (Frances) in Klaradyn.  Gedurende ons studentejare was ons goeie vriende, maar het eers na ons universiteits studies begin uitgaan.

Ons het so paar maande gekuier en Jan-Toit was oppad om op seiljagte te gaan werk in Frankryk, ek het in Nederland gaan toer rondom dieselfde tyd.  Ons het gereël om mekaar te sien vir ʼn naweek in Nederland aangesien ons albei in Europa was en daar het Jan-Toit my uitgevra.  So maand later het Jan-Toit terug Suid-Afrika toe gekom om die verhouding ʼn kans te gee.

Ons is dalk die enigste paartjie wat verloof geraak het 03:00 die oggend.  Ons het beplan om vroeg oggend 5km ‘funrun’ te gaan doen in die dieretuin, of dis wat ek altans gedink het.  Maar Jan-Toit het sy wekker ekstra vroeg gestel.  Hy het my gevra om te trou terwyl ek in my pajamas is met bolla op die kop en nog nie 100% wakker is nie.  Eers toe ons in die kar is oppad na ʼn verrassing het dit ingesink dat hy my gevra het om te trou.  Hy het toe gereël dat ons albei se ouers by Bill Harrop’s “Original” Balloon Safaris ons kry vir ʼn lugballon rit en sjampanje ontbyt.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het 20 November 2021 verloof geraak en getrou op die 5de Februarie 2022.  Dit was baie kort verlowing en ons het in rekord tyd die troue self beplan en gereël.

Merkwaardigste Oomblikke:


Ons het kort na ons troue verhuis na Nederland waar ons tans woon.  Om al ons naaste familie en vriende te sien bymekaar op een dag en ons liefde te vier vir mekaar was baie spesiaal.  Ons albei heg baie waarde aan familie en vriendskappe.

Trou Begroting:


Ons is baie bevoorreg dat albei ons ouers bygedra het na die troue se begroting en het dus hulle bydrae ons trou begroting gemaak. Ons het geweet ons wil ʼn kleiner troue hou, omtrent 50 van ons naaste familie en vriende. Die kleiner details het ons so effens oor die begroting gestoot, maar ons het gelukkig ons eie spaargeld gebruik waar dit ons aanvanklike begroting oorskry het.

Ons is baie gelukkig dat my ma ʼn baie kunstige oog het en sy het die pragtige blomme op ons troudag vir ons gedoen wat ons ʼn hele paar rand gespaar het.  ʼn Goeie vriendin van ons en my voormalige buurvrou, sjef Suzanne Crozier, het ons troukoek vir ons as trougeskenk gebak en ander trougeskenk was ons huwelikskontrak. (Wat paartjies ook dikwels uit hul troubegroting los maar wat ook paar rand is.) Mens vergeet om aanvanklik vir kleiner items te begroot (druk kostes, Welkom borde, bruid se hare en naels voor die troudag ens.) en net omdat mens besluit om ʼn kleiner troue te hou beteken dit nie noodwendig dit gaan baie goedkoper uitwerk nie.  Al die res van die kostes bly dieselfde as vir ʼn groot troue (trourok, blomme, bruidegom pak ens).

Paartjie se styl:


Ons het nie ʼn spesifieke styl in gedagte vir ons troue gehad nie, ons albei hou van meer ‘tydlose’ styl en nie juis wat in hoog mode is op die spesifieke tydstip nie.  Toe ons die venue (Campagne Living) waar ons getrou het besoek het, het ons dadelik geweet dit is waar ons wil trou en dit het baie van die troue se styl verleen aan die dag – tydlose Franse, buitelug, elegante gevoel.

Met ons trouringe het ons ook nie juis iets gekies wat hoog mode/die in ding was op daardie stadium nie.  Ons albei se trouringe is so eg aan ons persoonlikheid en ek hou daarvan om te dink beide is tydlose style en pas só goed by ons elkeen se persoonlikheid ook.

Die Besluitnemingsproses:


Omdat ons so kort tyd gehad het vir die beplanning het ons die take tussen myself en Jan-Toit mooi opgedeel.  Hy was verantwoordelik byvoorbeeld vir die dominee, platejoggie, konfetti, strooijonkers en hulle uitrustings, drank ens.  Ek was verantwoordelik vir die blomme, dekor, uitnodigings en R.S.V.P.’s, strooimeisies en kleiner details.

Dit is altyd lekker om familie se opinie te kry gedurende besluitnemingsproses waar ons soms getwyfel het, maar die finale besluit het by die twee van ons gelê.  Met die beplanning van ʼn troue leer mens mekaar ook nóg beter ken en was lekker dat ons dit saam as ʼn span kon aanpak.

Vermaak:


By die seremonie het twee van ons baie goeie vriende lofsang gedoen wat baie spesiaal was.  Hulle liefde vir musiek het deurgestraal en die diens ekstra spesiaal gemaak.

Gedurende canapé het ons Gracenote Music string quartet gekry– dit het regtig lekker die Franse buitelug atmosfeer geskep.  Net jammer ons kon nie teveel van hulle hoor nie omdat ons besig was met fotos en gedurende die aand het ons platejoggie gehad wat die dansvloer aan die gang gehou het.

Gunsteling Diensverskaffers:


Elke diensverskaffer het die dag só spesiaal gemaak vir ons.

Die spyseniering van Toast Fine Food was ongelooflik gewees en só lekker proses om die kos saam Ivan te beplan volgens ons gunsteling kosse en wat vir ons spesiaal is.

Die  platejoggie só vriendelik en elke versoek akkommodeer.

Maar wie regtig vir ons uitgestaan het was Marilis en haar man van Campagne Living (ons venue) wat ons na die troue ook gesien het vir ʼn koffie.  Hulle verwelkom mens met ope arms.

En dan natuurlik ons ongelooflike fotograwe Janine en Bernard van Evergreen Lovers.  Op die dag self het hulle die mooiste fotos geneem en om dit reg te kry met twee mense wat redelik ongemaklik is voor ʼn kamera was ʼn prestasie op sy eie. Maar buiten dit het hulle net die mooiste harte en het die dag self so gemaklik laat voel.  Dit is nogsteeds so lekker as Janine ʼn foto van ons post – mens herleef sommer die troudag elke keer oor.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek is seker daar het een of twee dinge nie gegaan het soos beplan nie, maar ek kan dit glad nie onthou nie.  Dit het gesous die Vrydagaand voor die troue en omdat mens grondpad ry na die venue toe was ons bietjie benoud oor die gaste en of hulle okei sal uitkom by die venue.  Op die dag self is daar so min wat mens eintlik kan verander op die nippertjie dat mens maar eerder net moet ontspan en elke oomblik moet inneem.  Indien iets verkeerd gaan gaan meerderheid gaste nie eers agterkom nie.

Spesiale Tradisies:


Nie juis ʼn tradisie nie.  Jan-Toit het van universiteits jare ʼn klein blou mini. Wat hy nou nog rondry soms as ons in Suid Afrika gaan kuier.  Hierdie mini was nooit my gunsteling nie, juis omdat ons paar keer langs die pad gaan staan het met hom.  Maar hierdie mini was ons troukar en het só spesiale plek in Jan-Toit se hart dat dit sommer ook baie op my gegroei het na die troue.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Moenie die klein details oordink nie.  Sodra dit op ʼn punt kom waar dit jou laat stres of onseker laat voel, neem ʼn besluit en hou daarby.  Op die dag self gaan alles in ʼn oogwink verby.  Vat oomblik om terug te staan en alles in te neem.  Geniet die rustigheid en geselsies van die oggend se regmaak saam jou strooimeisies.  Dit voel of daar só baie tyd beplan is vir die regmaak, maar dit gaan net so vinnig verby.  Dit is een van die min ‘stil’ oomblikke wat mens gaan kry op jou troudag.

Aan al die toekomstige bruidegomme, my voorstel sal wees om seker te maak die kroeg pryse is bekostigbaar (indien die begroting dit toelaat).  Gaste het reeds soveel uitgawes en doen baie moeite om die dag saam te kan kuier – dit was lekker om te sien dat hulle dit ook geniet.

Venue & Dekor:


Toe ons Campgane Living gaan besoek het was Marilise dadelik so warm en verwelkomend.  Die styl en geselligheid van die venue het ons dadelik laat tuis voel – en natuurlik is ʼn venue met honde wat kom groet net nóg beter!  Die Franse buitelug gevoel het só mooi deur gekom in die venue self.  Ons moes minimale dekor nog byvoeg vir die dag.

Wittebrood:


Ons het Zanzibar toe gegaan vir ons wittebrood.  Dit was só wonderlike tropiese wittebrood gewees.  Die locals was die vriendelikste wat ons nog teëgekom het en die daaglikse uitstappies was soveel pret.  Zanzibar was maar eintlik vir ons gekies as wittebrood bestemming, omdat Jan-Toit saam sy beste vriend Kilimanjaro wou gaan summit het.

Die wittebrood en die Kilimanjaro-uitdaging is so hand aan hand beplan.  Aan die einde van ons wittebrood het ek terug Suid-Afrika toe gevlieg.  Jan-Toit se vriend, Philip, hom op Dar Es Salaam lughawe gekry reg om hulle Kilimanjaro uitdaging aan te pak.

Ons wittebrood het toevallig op Valentynsdag geëindig – so toe het Jan-Toit saam met Philip ons eerste Valentynsdag as getroudes deurgebring.  Maar ek sou dit nie anders verkies nie.  Hakuna Matata!

Eerste Dans:


Ons is nie die grootste en beste dansers nie.  Ons het maar eerste dans gedoen, want ons was onseker hoe anders ons vir mense gaan laat weet die dansvloer oop is.  Dit was ook eers so week of so voor die troudag besluit dat ons dit wel gaan doen.  So geen danslesse was geneem voor die tyd nie.  Ons het nie juis teveel geheg aan die eerste dans nie en het gevra dat die gevolg maar so vinnig inspring na ons op die dansvloer.

    Artikel Diensverskaffers:

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: