Wimpie en Anaïs se droom van ’n aand vol liggies en liefde het ’n werklikheid geword. Hul troue in die Breederiviervallei was ’n stylvolle viering wat moderne elegansie mooi saamgebring het met ’n atmosfeer van sagte flikkerlig.
Anaïs se trourok was werklik soos iets uit ’n droom. Sy het asemrowend gelyk in ’n skepping wat elke klein dogtertjie se droom in haar hart laat waar word het. Die rok het ’n moderne V-neklyn gehad met fyn geruifde tulle wat haar bolyf sagkens omhels het. Die romp was ’n pragtige samestelling van lae tulle wat in ’n indrukwekkende sleep agter haar gevloei het. Vir die onthaal kon die sleep afrits na vloerlengte wat Anaïs die vryheid gegee het om die aand weg te dans. Selfs ’n onverwagse avontuur met ’n gebreekte rits kon nie die pret bederf nie. Haar kombuistee rokkie het toe ’n tweede kans gekry om op die dansvloer te skitter.
Hul trou dekor, ’n see van kerse en sterre, was die verpersoonliking van romantiese eenvoud. Die tafels was oorlaai met kerse van verskillende groottes en vorms wat ’n sagte goue gloed oor die wit linne en glas onderborde gewerp het. Met hul venue se dak vol liggies het dit vir die paartjie gevoel asof hulle tussen die sterre kuier. Die gaste, geklee in elegante swart, het ’n mooi kontras gevorm teen die warm vlamme en die amberkleurige skadu’s wat die venue teen sonsondergang tot lewe gebring het.
Droom jy ook van ’n troue wat jou unieke styl weerspieël? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids om die regte trou diensverskaffers te ontdek wat jou groot dag werklik onvergeetlik kan maak.

Trourok:
My rok is ontwerp deur Alana van Heerden en sy het elke klein dogtertjie-droom in my hart laat waar word.
Die toppie was ’n alternatiewe V-nek met dun bandjies. Fyn tulle is rouched in ’n sagte V oor my bolyf, wat my lyf net mooi omhels het. Onder my cups was daar ’n draaitjie wat net-net oor die laagste punt van die neklyn gebuig het.
Die romp was gemaak van suiwer drome – lae en lae tulle wat oor mekaar val, elke laag net ’n bietjie langer as die een voor hom. Saam het hulle ’n pragtige trein gevorm het. Die beste deel? Die trein kon afrits tot vloer lengte sodat ek my hart kon uit dans, En toe, soos elke goeie storie, ’n klein avontuur. Na ’n badkamer-breek het my zip onverwags sy eie troustorie geskryf en gebreek! Gelukkig was my kombuistee-rokkie in my skoonouers se kar. Daardie rokkie het toe ’n tweede kans gekry om te skitter en ek het daarin net so lekker partytjie!

Paartjie se Verlowing:
Wimpie boer in Rawsonville, so ons is geseën met ongelooflike wynplase om ons. Hy het my toe gevra of ons nie saam met ’n vriende ’n wynproe by een van die kelders moet gaan doen nie. Ek het natuurlik ingestem – min wetend dat die vriende glad nie eintlik daar sal wees nie en dat dít die dag sou wees dat ek ’n steentjie aan my vinger kry.
Toe ons daar aankom vind ons ‘n plekkie om te gaan sit en voor ek behoorlik besef wat aangaan, is die man op sy knie en ek in trane.
Na die verlowing het hy my verras deur al ons familie en vriende bymekaar te kry, sodat ons die groot oomblik behoorlik kon vier.

Verloof- en Trouringe:
My verloofring is ’n dun geelgoud bandjie met ’n ‘elongated cushion cut’ diamant.
My trouring is ook ’n fyn geelgoud bandjie, met klein diamantjies rondom. Wat dit werklik kosbaar maak, is dat daardie diamantjies van my oorlede ouma se ring afkomstig is.
Wimpie het ’n geelgoud ring waarvan die middel ’n ‘brushed’ tekstuur het, omring deur gladde, blink rande. ’n Deel van die goud is van ’n ring afkomstig van my oumagrootjie.

Trou Dekor en Styl:
Ons tafels was oorlaai met kerse in alle groottes en vorms- lang, fyn, breed, laag- ’n oseaan van sagte gloed. ‘n Prentjie uit my drome, bewaarheid.
Ons het by eenvoud gebly skoon wit tafeldoeke en servette en glas underplates wat elke klein vlammetjie verdubbel het as dit weerspieël. Die dak was vol liggies en dit het vir my gevoel ons is tussen die sterre!
Ons gaste was in swart geklee- stil elegant, ’n pragtige kontras teen die warm vlamme. En toe die son sak en dit dit donker raak, het die venue eenvoudig tot lewe gekom. Alles het gewemel in goud, amber en sagte skadu’s.
Dit was presies soos ek jare gelede gedroom het ’n nag van lig, liefde en flikkerende magie.

Trou Begroting en Beplanning:
Met ’n trou begroting van R250 000, 155 gaste en agt maande se noukeurige beplanning, was die dag presies soos Wimpie en Anaïs dit gehoop het. Die paartjie het hul eerste dans as man en vrou geniet op die klanke van “Beautiful Things” deur Benson Boone, omring deur die sprankelende liggies en romantiese atmosfeer.

- Fotograaf: Annelma Photography & Videography | Kontak
- Venue: Betgland Venue | Kontak
- Blomme: En Detail – Events & Decor | Kontak
- Dekor: Best Events en Bergland Venue| Kontak
- Grimering: Iliana Geldenhuys | Kontak
- Hare: Iliana Geldenhuys | Kontak
- Huurdienste: Best Events en Bergland Venue| Kontak
- Huweliksbevestiger: Dominee WP du Plessis
- Juweliersware: Crarine Van Zyl Jewellery | Kontak
- Koördineerder: Danelle Botes van Bergland Venue | Kontak
- Musiek: DJ Joe | Kontak
- Paartjie se verblyf: Bergland Venue| Kontak
- Spyseniering: Die Stalle| Kontak
- Trourok: Alana Van Heerden| Kontak
- Bruid se Trouring: Crarine Van Zyl Jewellery | Kontak
- Bruidegom se Trouring: Crarine Van Zyl Jewellery | Kontak
- Troukoek: Elfrieda Mostert
- Videograaf: Living Water Photography
- Wittebrood Bestemming: Tuinroete

