Jason & Carla se Dromerige Verlowing Fotosessie op Lookout-Strand in Plettenbergbaai

Jason en Carla se dromerige verlowing fotosessie op Lookout-strand vang die ware essensie van ’n Plettenbergbaai-liefdesverhaal vas. As plaaslike inwoners van Plettenbergbaai was die see en sagte sand die natuurlike keuse vir hul fotosessie. Met ’n tydlose “wit-op-wit”-styl wat pragtig teen die blou oseaan komplimenteer, weerspieël die foto’s ’n liefde wat volgens die paartjie reeds “met die eerste oogopslag” begin het.

Die pad na hul verlowing in Oktober 2025 was gevul met opwinding en verwagting. Wat begin het as ’n rustige Saterdagoggend met ontbyt en ’n strandstappie by Hobie Beach, het ontvou in ’n goed beplande verrassing. Met die hulp van Carla se broer het Jason ’n intieme piekniek met sjampanje op die strand gereël. Te midde van blydskapstrane en applous van verbygaande vreemdelinge, het Carla “ja” gesê vir ’n leeftyd saam.

Hul verlowingsfoto’s op Lookout-strand is meer as net pragtige foto’s; dit is ’n viering van hul wortels en die begin van ’n toekoms wat so wyd en blink soos die Plett-kuslyn is.

Beplan jy jou eie verlowing aan die kus? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir die beste plaaslike fotograwe en inspirasie om jou eie strand verlowing fotosessie vas te vang.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het mekaar al ’n geruime tyd geken as kennisse. Dit was eers toe ons die eerste keer saam met gemeenskaplike vriende gekuier het dat dit werklik soos ons eerste ontmoeting gevoel het. Met daardie eerste oogopslag het ons albei geweet dit is die een, ware “love at first sight.” Daarna het ons paaie weer vir ’n jaar geskei. Die volgende jaar het ons met volstoom nuwe belangstelling aan mekaar getoon en alles het natuurlik in plek begin val.

Ons was 1 jaar & 5 dae in verhouding voor ons verloof geraak het.

>

Die groot vraag:


Dit was op ’n rustige Saterdagoggend toe ons ’n ontbyt-date by ’n oulike plaaslike restaurant geniet het, gevolg deur ’n heerlike strandstappie. Dit is juis daar waar alles begin het. Op 18 Oktober 2025, by Hobbie Beach in Plettenbergbaai, het die oomblik ontvou. Die verlowing was ’n absolute verrassing. My broer en sy vriend het gesamentlik saam met Jason alles tot in die fynste detail gereël. Ek het niks vermoed nie. Daar was trane van blydskap, ’n mengsel van opgewondenheid en angs en die realiteit wat stadig maar seker ingeskop het. Die oulike piekniek-opstelling was iets besonders, met koue sjampanje op ys om die geleentheid behoorlik te vier. Selfs verbygaande vreemdelinge op die strand het hande geklap en saam met ons blydskap gedeel. Dit het hierdie oomblik nóg meer onvergeetlik gemaak.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Ons gunsteling eienskappe van mekaar is eenvoudig maar besonders.

Ons bewonder mekaar se nederigheid, die aansteeklike lag wat altyd vreugde in ‘n vertrek bring en die lojaliteit en ondersteuning wat ons in alles beleef. Daar is ’n warm en hartlike teenwoordigheid wat elke oomblik besonders maak en ’n natuurlike styl en energie wat mense spontaan aantrek. Ons waardeer hoe ons mekaar liefde en omgee in selfs die kleinste dingetjies wys en die kreatiwiteit en buite-die-boks- denke wat elke dag opwindend maak.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons beplan om een jaar en vyf maande verloof te wees voor troudag. Ons trou datum asook die venue is alreeds bevestig en bespreek.

Die verloofring:


Ek het aanvanklik aanlyn na verskillende soorte ringe gekyk, maar uiteindelik het ons saam ringe gaan besigtig en die een saam gekies. Dit was ’n besondere proses wat die ring nog meer betekenisvol gemaak het.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ek is persoonlik baie lief vir foto’s. Daarom het ons saam besluit om ’n fotosessie te doen om hierdie spesiale tyd vas te vang. Dit sou nie net kosbare herinneringe wees nie, maar ook pragtige foto’s wat ons eendag met trots in ons huis kan uitstal en selfs op ’n besondere manier by ons troudag kan laat vertoon.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Dit was maklik om ’n plek vir die fotosessie te kies, want ons is albei locals van Plettenbergbaai. Plettenbergbaai self is omring deur pragtige see, sagte strande en asemrowende natuurskoon, wat dit die perfekte agtergrond maak om ons spesiale oomblikke vas te vang. Ons het die styl eenvoudig gehou, met wit as die hoofkleur, want dit lyk altyd mooi op foto’s, veral langs die see en op die strand.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagtinge is eenvoudig: om saam te groei, mekaar nog dieper te leer ken en elke dag nuwe herinneringe te skep. Ons sien uit na goeie en lekker beplanning vir ons troudag en is op elke vlak opgewonde oor alles wat die toekoms vir ons inhou.

Vrese: Geen

Visie vir droomtroue:


Ons droom van ons troudag is eenvoudig en kosbaar. Om dit saam met ons naaste familie en dierbare vriende te deel. Elke spesiale oomblik, van klein gebare tot groot gelag, ten volle te geniet. Die dag sal vol liefde, lag en herinneringe wees wat vir altyd by ons sal bly.

Ons gaan die troue self beplan, met net hier en daar hulp van familie en vriende. Dit sal buite in die natuur plaasvind, omring deur pragtige bome en ’n asemrowende omgewing.


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: