Jurgens & Josie se Stylvolle Karoo Troue in Luckhoff

Jurgens en Josie het hul liefde gevier met ’n stylvolle Karoo troue op ’n asemrowende plaas in Luckhoff, in die hart van die Vrystaat. By Mooi Troues het ons ’n besondere liefde vir Karoo troues. Die eenvoud en uitgestrektheid van die Karoo-vlaktes vertel ’n storie sonder woorde.

Wow! Josie het beeldskoon gelyk in haar klassieke A-lyn silhoeët trourok, gemaak van vloeiende satyn en afgerond met ’n geriffelde, dramatiese skouer detail. Die kontras tussen haar elegante voorkoms en die Karoo se rou eenvoud het onmiddellik ons aandag getrek. Jurgens het haar perfek aangevul in ’n donker groen troupak, gekombineer met ’n wit knopieshemp en ’n groen onderbaadjie. Die paartjie se formele styl was pragtig in harmonie met die tema van hul troue.

Die seremonie het buite plaasgevind, omring deur ’n prentjiemooi Karoo-landskap. ’n Groot blom struktuur, hoofsaaklik saamgestel uit pampasgras, en ’n los mat op die stowwerige grond het die paartjie elegant geraam tydens hul geloftes.

Die onthaal het ’n formele atmosfeer met die Karoo se warm herfskleure gekombineer. Skakerings van roes, karamel en neutrale aardse kleure het ’n sagte, romantiese stemming geskep. Tafels is met vloeiende linne gedek en versier met gedroogde blomme, pampasgras en wit blomme wat die eenvoud van die streek weerspieël. Elke rangskikking het warmte, beweging en ’n gevoel van nostalgie bygevoeg.

Kerse in verskillende hoogtes en vorms het na sonsak ’n sagte gloed geskep wat die ruimte intiem en gesofistikeerd laat voel het. Die eindresultaat was ’n elegante en warm viering van liefde perfek verweef met die Karoo se rustige herfslandskap.

Die paartjie se fotosessie was eenvoudig prentjiemooi met die Karoo-sonsondergang wat die perfekte romantiese atmosfeer geskep het. Beplan julle eie Karoo troue deur Mooi Troues se aanlyn trougids te besoek.

Rol af om meer te lees oor Jurgens en Josie se troue en hul liefdesreis.

Trourok:


WOW!! Dit was absoluut alles wat ek wou hê! Van die eerste oomblik wat ek dit op die hanger sien hang het, het ek geweet: DIT is my rok.

Die rok het ’n klassieke A-lyn silhoeët wat elegant oor die lyf val en ’n tydlose, verfynde voorkoms skep. Gemaak van sagte, vloeiende satyn, het die materiaal ’n subtiele glans gehad wat lig met elke beweging laat speel het. Die kleur is ’n helder ivoorwit, wat perfek pas by die warm, natuurlike herfskleure van ons dag.

Die detail wat my onmiddellik betower het, was die moue – dramaties en romanties, met lae sagte ruffles wat die rok ’n unieke karakter gee. Dit bring ’n speelse maar steeds gesofistikeerde balans, en dit het presies die tikkie drama gegee waarna ek gesoek het. Die v-neklyn is eenvoudig en flatterend, perfek om die aandag natuurlik na die moue en die gesig te trek.

Die lengte van die rok het die klassieke, vloeiende styl beklemtoon, met ’n effense sleep wat grasieus oor die grond gegly het. Dit was nie net ’n rok nie – dit was elegant, tydloos, en net ’n bietjie anders.

Paartjie se Verlowing:


Sjoe, waar begin mens? Dit was ʼn langnaweek in September, my vriendin se verjaarsdagnaweek (vroeër die week was daar vlak 6 sneeu-waarskuwings uitgereik – maar hoe erg kan dit nou in Suid-Afrika wees, het ons gedink). Nie te min, was ons Vrydagmiddag na werk op pad na die Drakensberge om vir my kêrel te gaan kuier en my vriendin se verjaarsdag te vier.

Teen vroegaand was ons vasgevang in die sneeustorm op die N3 en daar was ons, sy met ʼn groot geheim omdat my kêrel haar gevra het om te help met die reëlings vir ons verlowing.

Ek was salig onbewus van enigiets en ek het nie verstaan hoekom sy elke gesprek en oogkontak probeer vermy het nie. Teen Sondag het ons uiteindelik by ons bestemming aangekom nadat die paaie weer oopgemaak was – maar berge was steeds spierwit.

Die Stap wat Alles Verander het:

Maandagoggend, vroeg, het ek gehoor van ʼn plan om vir ʼn dag in die berge te gaan stap, my eerste reaksie was, maar dis koud!! So het ons gaan stap, ek met ʼn watersak en die ander met groot rugsakke (ek kon nie verstaan nie, want hulle stap gewoonlik ook met watersakke, maar ek het nie vrae gevra nie, want miskien was dit vir ʼn ekstra warm baadjie) so het ons tot bo-op die Maluti-berge gekom, ek het naby die punt gestaan en teruggekyk na die spierwit berge en was steeds ʼn bietjie uit asem en toe ek omdraai, het Jurgens op een knie gestaan en die ‘ja’-woord gevra. Sonder twyfel het ek “JA” gesê.

So het ons vriende gereed gestaan om foto’s te neem met glase en vonkelwyn in die hand (dis toe al die tyd in die rugsakke), want hulle het geweet wanneer die vraag sou kom.

Jurgens het die vorige naweek die roete gaan stap. Hy het toe ʼn kaart geteken om hulle presies te wys waar hy beplan het om my te vra.

Dit was alles en meer wat ek wou hê, want ek wou nie weet wanneer hy my sou vra en dat hy dit op sy eie manier spesiaal sou maak.

Verloof- en Trouringe:


Ek het twee ringe, ʼn verloofring en ʼn trouring. My verloofring, wat ek aan my regterhand gedra het tot ons troue, dra ek nou aan my linkerhand. Dit was ʼn ring van een van my gunsteling juwelierswinkels.

My trouring is baie spesiaal vir my. Ek was nog altyd lief vir interessante juweliersware en die idee van ʼn (goud met halfmaan diamant) het vir my, my ander helfte (my man) gesimboliseer.

(Ek wou nie vooraf weet wanneer Jurgens beplan het om my te vra om te trou nie, so ek het eers my trouring laat maak nadat ons verloof geraak het.)

Trou Dekor en Styl:


Tema: Formeel in die Karoo

Ons troue se dekor en styl was geïnspireer deur die Karoo se unieke herfskleure – warm, aardse skakerings wat alles saamvloei in ’n romantiese atmosfeer. Die kleurskema was sag maar tog ryk, met natuurlike neutrale kleure wat aangevul is deur warm roes- en karamel kleure.
Die tafels was gedek met linne in sagte, vloeiende lae wat ’n gevoel van beweging en ligtheid geskep het. Ons het gekies vir gedroogde blomme en pampasgras, gekombineer met sagte wit en roomkleurige blomme om die Karoo se natuurlike skoonheid en eenvoud na binne te bring. Elke rangskikking was uniek en het die gevoel van herfs vasgevang, warmte en nostalgie.

Kerse het ’n groot rol gespeel in ons dekor. Daar was van hoë kershouers tot moderne vorm kerse en silinders met dryf kerse. Saans het dit die hele ruimte in ’n sagte, warm gloed gehul en ’n intieme, gesofistikeerde gevoel geskep.

Die algehele styl was formeel maar steeds warm en verwelkomend – ’n elegante balans tussen modern en natuurlik. Ons wou hê dat die dekor nie net mooi moes lyk nie, maar ook die atmosfeer moes weerspieël. Romanties, gesellig en ’n viering van liefde te midde van die Karoo se rustige herfs tonele.

Trou Begroting en Beplanning:


Die troue het ’n intieme atmosfeer gehad met slegs 30 gaste teenwoordig. Die paartjie het hul troue oor ’n tydperk van ses maande beplan. Hulle het ’n selfdoen-benadering gevolg, waar hulle self verantwoordelik was vir die beplanning en uitvoering van elke detail.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: