Günter en Danielle se romantiese verlowing fotosessie het plaasgevind by ’n Toskaanse-styl boetiekhotel in Pretoria. Die ligging was perfek vir hierdie besondere paartjie se verlowing foto’s.
Hul verlowing foto’s is besonders mooi en straal ’n warm, romantiese atmosfeer uit. Die donker interieur en versorgde tuine het ’n tydlose en intieme gevoel geskep. Elegante argitektuur het die romantiese atmosfeer van die fotosessie verder versterk.
Danielle het ’n pragtige, vloeiende rokkie in ’n neutrale kleur gedra. Haar uitrusting het perfek gepas by Günter se broek en swart baadjie. Die neutrale kleure het mooi ingeskakel by die algehele styl van die fotosessie.
’n Verlowing fotosessie is soveel meer as net nog ’n fotosessie. Dit is ideaal vir foto’s vir trou uitnodigings, webtuistes of huis versiering. Die sessie help paartjies om meer gemaklik voor die kamera te voel. Dit skep ook ’n geleentheid om die trou fotograaf beter te leer ken.
Tydens die sessie kan paartjies die fotograaf se styl eerstehands ervaar. Enige vrae oor die troudag of fotosessie kan dan rustig bespreek word. Günter en Danielle het dit ten volle benut. Dit sal hulle help om meer ontspanne op hul troudag te wees.
Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir oulike diensverskaffers vir jul troudag. Rol af om meer te lees oor hul verlowing fotosessie en liefdesreis.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons eerste ontmoeting was in my ouerhuis!
Ek het ’n braai by my huis gehou toe ’n gemeenskaplike vriend besluit het om vir Günter saam te nooi. Kaalvoet is ek by die deur uit om die hek vir hom oop te maak na hy bietjie verdwaal het en tot vandag toe sê hy die kaalvoete prentjie het onmiddelik sy aandag gevang.
Ek het hom voorheen al op foto’s gesien, maar was aangenaam verras toe hy uit die kar klim, ek het gedink “uiteindelik kan ek hom ontmoet”. Daardie aand het ons begin praat en drie jaar later is ons verloof.

Die groot vraag:
Danielle was besig met haar Comserve in die Oos-Kaap en so het ek in Desember afgevlieg om te gaan “kuier”. Ek het nogsteeds nie ʼn vaste plan gehad nie, maar besluit toe om vir ons ʼn naweek in ʼn natuurreservaat te bespreek. Sy het waarskynlik agterdogtig geraak toe die aandrang om haar naels te verf net nie wou ophou nie. Ek het met die reservaat gereël om ʼn buite jacuzzi te stook en ʼn piekniek op te stel.
Toe die dag aanbreek was dit nat en koud, maar ons was nog altyd lief vir stappies in die reën. Ek het haar toe verras met ʼn piekniek, ʼn jacuzzi en die groot vraag in die reën. Vir ʼn oomblik na die “JA!”, het die son wel sy kop agter die wolke uitgesteek…wat ʼn seën!

Hoekom ons mekaar liefhet:
Sonder twyfel is my gunsteling eienskappe van Danielle haar sorgvrye, sagte, opregte en onskuldige hart. Dit is alles eienskappe wat haar baie spesiaal maak en en my laat besef het watse goeie vrou sy eendag vir my sal wees.
Günter was van ons eerste ontmoeting af nog altyd ‘n regte gentleman. Hy hanteer my en mense rondom hom met soveel liefde en respek. Sy omgee-hart, opregtheid en positiwiteit maak my elke dag net nog liewer vir hom.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons het besluit om eers April 2026 te trou, om verloof te wees is sulke spesiale en lekker tyd eenkeer in mens se lewe en ons wou nie dit afjaag nie. Ons glo mens kan nog gereeld iets van mekaar leer en groei daardeur.

Die verloofring:
Danielle het al jare gelede voor ons ontmoeting nog ʼn spesiale ring raakgesien. Ongelukkig was die ring by ʼn baie bekende en duur juwelier. Ek het baie van die ring gehou, maar geweet ek sou dit nooit kon bekostig nie. Gelukkig kon ek my ingenieurs vernuf gebruik om haar te verras deur my eie ontwerp te modelleer en toe by ʼn juwelier te laat maak teen ʼn fraksie van die koste. As jy haar ring op die sy draai kan jy ʼn fyn blommetjie sien wat die diamant vashou, dit is vir my ʼn simbool van haar skoonheid en liefde.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons sou aanvanklik nie ʼn verlowingsessie doen nie aangesien ons albei nie teveel van die kamera en fotos hou nie. Maar toe ons Picture Us op Instagram ontdek, was ons verlief op hul styl en het ons hulle as ons trou fotograwe vasgemaak. Gelukkig was ’n verlowingsessie deel van die pakket! In retrospek is ons so bly dat ons die verlowingsessie wel gedoen het, dit het ons ʼn kans gegee om hulle te ontmoet, gemaklik te raak voor die kamera en stunning fotos te kry vir ons website en vir sommer net!

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Dit is eintlik ʼn interessante storie… my ma het my vertel van Ivory Manor Hotel en ek was vasbeslote om eerder ʼn meer moderne fotosessie in Hazelwood te gaan doen. Ek het die een dag spontaan besluit om gou by Ivory Manor in te loer om vir Günter te wys, en hy was amper onmiddellik oortuig op die gevoel en vibe van die plek. So het ons toe die Tuscany gevoel van hulle aangegryp en gegaan vir ʼn meer warm, Tuscan en cosy styl vir ons foto’s. Die foto’s het ʼn meer intieme aspek gehad en ons verhouding perfek uitgebeeld.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Soos ek voorheen genoem het, glo ons ons kan gereeld nog bymekaar en van mekaar leer. Ons verwagtinge is juis dit, om nog dieper te kan groei in ons verhouding met mekaar sowel as met die Here. Ons wil graag hierdie tyd gebruik om hierdie fondamente neer te lê en standvastig te kan staan daarin voordat ons trou.

Visie vir droomtroue:
Ons het nog altyd ‘n liefde vir die Kaap gehad en het onmiddellik geweet dat Mooiplaas ons droom venue is met sy Kaap-Duitse styl en granadilla boorde. Die visie vir die troudag is ’n kleurvolle, maar minimalistiese viering. Ons wil die spesiale aand geniet met die mense naaste aan ons en daarom het ons besluit op ‘n kleiner troue waar ons regtig met almal kan kuier en die aand geniet. Ons grootste wens vir ons troudag is ‘n dag gevul met die Here se teenwoordigheid, lewenslange herinneringe en ons liefde vir mekaar.

- Fotograaf: Picture Us | Kontak
- Fotosessie Ligging: Ivory Manor Boutique Hotel | Kontak
- Verloofring: Poggenpoel Diamond Jewellers| Kontak
