Beplan julle troudag se verloop met die hulp van Mooi Troues se uitstekende tydlyn riglyne hieronder. By Mooi Troues is ons grootste doel om paartjies te ondersteun sodat hul troubeplanning so stresvry as moontlik kan wees. Om te besluit tussen ’n dag- of aand troue is reeds ’n belangrike eerste stap.
Sonder behoorlike beplanning, of wanneer dinge tot op die nippertjie uitgestel word, kan die reëlings van ’n troue vinnig oorweldigend raak. Maar moenie stres nie! Hierdie artikel lei julle deur die proses om te verseker dat alles op die groot dag glad verloop, sonder dat julle oor die tydsberekening of volgorde van gebeure hoef te bekommer.
’n Duidelike, goed gestruktureerde tydlyn help julle diensverskaffers om presies te weet wat wanneer moet gebeur, wat die vloei van die dag aansienlik vergemaklik. Wat regtig saak maak, is dat julle genoeg tyd het om die spesiale oomblikke saam met julle geliefdes te geniet, sonder om rond te jaag.
Hierdie artikel is veral handig vir paartjies wat hul troue self reël. Indien julle wel ’n troukoördineerder gebruik, dien hierdie riglyne bloot as ’n algemene verwysingspunt, aangesien die meeste koördineerders hul eie skedules en benaderings volg.
Rol gerus af om meer te lees oor hoe om die perfekte tydlyn vir julle troue te beplan. Die artikel is opgedeel in dag- en aandtroues sodat julle ook die verskille tussen die twee kan sien.

Advies vir ʼn Dag Troue se Tydlyn:
Dag troues is die perfekte opsie vir kleiner of buitelug troues. Dit is egter nie ’n vaste reël nie. Dag troues kan vir enige grootte troue en op verskillende tye van die dag gehou word. Dit is bloot die mees algemene opsie. Indien julle ’n dag troue beplan, sal julle trou gaste gewoonlik teen ongeveer 10:00 of 11:00 begin arriveer.
Foto’s:
Die grootste uitdaging vir ’n fotograaf tydens ’n dag troue is sonlig, aangesien die lig in die laat oggend en middag baie hard kan wees. Maak seker dat julle vooraf met julle trou fotograaf gesels oor of hulle gemaklik is om in harder lig af te neem, en waar en wanneer die fotosessie sal plaasvind vir die beste resultate.
Ons beveel aan dat julle julle fotosessie teen die einde van die troudag, gedurende skemer, doen. Só kan julle steeds daardie sagte, romantiese foto’s kry soortgelyk aan dié van paartjies wat aandtroues hou.
Temperatuur:
Onthou dat daar ’n moontlikheid is dat dit warm kan wees op julle troudag. Maak seker daar is genoeg skaduwee vir julle gaste. Sambrele of skadu-tente is ideaal om voldoende beskerming teen die son te bied.
’n Oulike ekstra idee is om gratis SPF vir julle gaste aan te bied wanneer hulle arriveer, asook ’n oshibori (’n lou warm lappie) om hul hande af te vee. Julle kan dit weer voor die onthaal herhaal. Só verseker julle dat al julle gaste gemaklik is en nie die volgende dag met sonbrand sit nie.
Spyseniering:
Indien julle kos in buffetstyl bedien, of ’n koektafel of vingerhappiestafel het, maak seker dat julle ’n net het om dit te bedek. Die laaste ding wat julle wil hê, is vlieë op die kos terwyl gaste opskep.
Dit is ook ’n goeie idee om die kos onder ’n skadu tent of sambreel te plaas, sodat die son dit nie bak of te warm maak nie, veral soetgoed wat verkieslik koel bedien moet word.
Reis tyd:
Hou in gedagte met hoe ver julle moet reis vanaf waar julle regmaak tot by die seremonie, en vanaf die seremonie na die onthaal. Dit help baie met die beplanning van julle tydlyn, veral indien alles nie op dieselfde ligging plaasvind nie.
Voorbeeld skedule vir dag troues:
07:00 Begin Grimering en Hare
10:30 Begin Aantrek
11:00 Kerkdiens
12:30 Familie foto’s
13:00 Onthaal
17:00 Fotosessie
Hierdie skedule is slegs ’n voorbeeld en kan aangepas word volgens julle persoonlike voorkeur.

Advies vir ʼn Aand Troue se Tydlyn:
Aand troues is gewoonlik ’n bietjie meer formeel en daar is dikwels meer gaste teenwoordig. By aand troues word daar gereeld gedans, musiek gemaak en gaste is oor die algemeen baie sosiaal. Dit is ook die meer tradisionele opsie en dié waarmee die meeste paartjies bekend is.
Net soos by dag troues, is ’n goed beplande tydlyn vir julle troudag noodsaaklik om te verseker dat alles glad verloop en stres tot die minimum beperk word.
Voorbeeld skedule vir aand troues:
11:00 Begin Grimering en Hare
15:15 Begin Aantrek
16:00 Kerkdiens
17:00 Familie foto’s
17:30 Fotosessie (gaste ontvang gewoonlik vingerhappies gedurende hierdie tyd)
19:00 Onthaal
Fotosessie Tye:
Fotosessie-tye kan vroeër wees in die winter en later in die somer. Klik hier om gerus te gaan kyk na die sonsopkoms- en sonsondergang tye om julle troudag daarvolgens te beplan.
Dit is baie belangrik om vooraf met julle trou fotograaf te gesels oor die beste tyd vir julle fotosessie. Elke fotograaf werk verskillend, en skemer foto’s word nie altyd op presies dieselfde tyd geneem nie. Sommige fotograwe verkies om later as die geskeduleerde tyd te begin, daarom is goeie kommunikasie vooraf noodsaaklik.

Nog Raad:
’n Trou skedule is uiters belangrik. Dit help om onnodige stres te vermy en maak die verloop van die dag soveel makliker. Almal weet dan presies waar hulle moet wees en hoe laat.
ʼn Rowwe idee van hoe lank sekere dinge neem:
- Grimering en hare: +- 3 tot 4 ure
- Aantrek: +- 20 minute
- Kerkdiens: +- 1 uur
- Familie foto’s: +- 20 minute
- Onthaal: +- 3 tot 4 ure
- Fotosessie: +- 1 tot 1 ½ ure
Vir die Fotosessie:
Beplan julle fotosessie ongeveer een tot anderhalf uur voor die onthaal vir aandtroues. Die lig is dan ideaal vir sagte, romantiese foto’s. Vra julle fotograaf watter tyd hom/haar die beste sal pas vir optimale resultate.
Vir die Familie foto’s:
Maak ’n lys van familie-groepe wat julle tydens die familie-fotosessie direk ná die seremonie wil afneem. Dit verseker dat niemand per ongeluk uitgelaat word nie. Gaste wat nie op die lys is nie, kan later tydens die onthaal vir informele foto’s afgeneem word.
Trou Diensverskaffers se Tydlyn:
Die tydlyn hierbo is ’n algemene oorsig. Daar behoort eintlik twee tydlyne te wees: een vir julle diensverskaffers en een vir julle gaste se program. Maak seker dat al julle diensverskaffers die finale tydlyn ten minste twee weke voor die troue ontvang, sodat almal goed ingelig is oor die dag se verloop.

Artikel Krediet:
- Advies: Mooi Troues
- Foto’s: Pexels
