Conradt & Zoa se Stylvolle Pastel Troue naby Cullinan

Conradt en Zoa se stylvolle pastel troue in Pretoria, net buite Cullinan, was ’n perfekte samevloeiing van modern en klassiek. Die trou venue waar hulle hul liefde gevier het, bied ’n kombinasie van Franse-styl elegansie en moderne argitektuur-elemente

Zoa het ’n simplistiese wit syrok gedra met ’n elegante V-nek en ’n delikate bandjie met pêrel detail om haar middel. Haar lang sluier, versier met hul voorletters in pêrels aan die onderkant, het ’n persoonlike en romantiese aanraking bygevoeg. Conradt het in ’n ligte troupak met ’n blompatroon-das, bruin beld en bruin skoene gedra.

Zoa se strooimeisies het elk pragtige rokke in sagte pastelkleure gedra, wat die kleurskema van die dag mooi versterk het. Conradt se strooijonkers se ligte neutrale uitrustings het die geheelbeeld subtiel afgerond. Die harmonie tussen hierdie elemente het ’n gevoel van sagte, tydlose elegansie deur die hele dag geskep.

Hul trou dekor styl was uniek en vol karakter. Van die oulike buitelug-kroeg tot die pragtige welkombord versier met vars blomme, elke detail het bygedra tot die feestelike atmosfeer. Selfs die troukoek, gevorm as ’n hart met twee lae in sagte roomwit, was ’n treffende en stylvolle uitbeelding van hul liefde.

Hout tafels met wit tafellopers wat tot op die grond hang, saam met wit Tiffany-stoele, het ’n balans tussen vintage en moderne styl geskep. Kleur elemente soos pastel blomme, oulike “hou my drankie veilig”-kaartjies, en gebrande-oranje besonderhede op die spyskaarte en tafelnommers het ’n mooi kontras teen die baksteenmure gebied. Die teksture en kleure het die onthaal ’n warm, gesellige atmosfeer gegee.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se troudag en hul pragtige liefdesreis.

 

Trourok:


Materiaal is satyn en die kleur is wit. Die rok is vloer lengte met ʼn lang sleep.

My trourok was ʼn simplistiese rok. Die snit van my rok voor was ʼn v-nek, ek het ʼn pêrel bandjie om my middel gehad. Die agterkant van my rok het pêrel detail op gehad-net tot die middel van my rug van bo by my skouers. Ek het ʼn sluier gehad wat baie lank was, aan die onderkant was ons voorletters gewees met pêrel detail.

Paartjie se Verlowing:


Dit was die 23ste Desember 2023 op Conradt se familie plaas. Ons het die middag gaan rondry sodat hy vir my hulle plaas bietjie kan wys, dit was só ʼn mooi dag gewees. Ek kon na so rukkie optel dat hy op sy senuwees was, maar ek het ook nie veel in dit in gelees nie. Ons kom toe af op ʼn mooi plek op die plaas, net voor die son sou sak. Die wolke was pragtig en perfek vir foto’s!!

Ek vra hom toe dat ons moet stop en my selfoon iewers neersit. Ek wou net ʼn paar foto’s neem met die mooi lug en wolke in die agtergrond. Na ʼn bietjie gesukkel noem Conradt vir my dat ek moet eerder my selfoon op video sit, dan kan ek later net skermkiekies vat uit dit uit. Goeie idee reg? Minwetend dat hy iets anders beplan… Ek begin toe die video, ons speel bietjie rond met verskillende posisies om seker te maak daar is opsies vir die foto’s. Na so rukkie stap ek net gou weer na die selfoon om seker te maak dat ons mooi in die lens is en toe gebeur dit.

Die groot vraag…

Hulle sê mos dat wanneer die dag kom wat jou ander helfte jou vra om te trou, voel dit of mens in ʼn beswyming is. My hart het gevoel of dit uit my bors begin klop, die trane het begin loop. Natuurlik sê ek JA!! En die beste van alles, ek het alles op video gekry. Ek kon nie meer gelukkig wees nie. Hy vat my toe na ʼn ander plek op die plaas, waar ons toe sou piekniek hou. Liggies in die bome, ʼn hartjie gevorm met stokkies, lekker kos en ʼn bottle sjampanje.

Beste dag! ek is verloof aan my beste maatjie.

Verloof- en Trouringe:


Zoa verlowings ring is geel goud, diamante gevorm dat dit lyk soos ʼn blom en haar troupant is geel goud, rond in vorm.

Conradt troupant is tungsten, swart en ʼn geel goud lyn in die middel.

Trou Dekor en Styl:


Ons kleurskema was pastel kleure – groen, geel, pers en pienk was die hoof kleure gewees. Al die dekor was sagte kleure. Die idee wat ek voor gegaan het was sprokies verhaal. Vir die vroue gaste was daar gevra om kleurvol aan te trek en die mans het chinos gedra met die kleur hemp wat sou pas by hulle metgesel se rok.

Ons ekstra kleur wat ons ingebring het was “burnt orange”– dit was vir bv. die servette, drupmatjies vir die gaste se drank glase.

Orals waar mens gekyk het was daar net blomme, groen bome en liggies. Die tafels was wit met sagte blomme in verskillende kleure. Kerse tussen elke blom rangskikking. Liggies wat uit die dak hang. Op ons tafel was dieselfde, met meer blomme wat bo ons hang met al die kleure van ons troue in dit.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het self hul troue oor ’n tydperk van vier tot ses maande beplan, met ’n trou ­begroting van R300 000 en ’n gaste getal van 65 mense.


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: