Bruwer & Lorraine se Pragtige Strand Troue in Lambertsbaai

Bruwer en Lorraine se pragtige strandtroue in die Weskus is ’n droom van stylvolle troudekor, kreatiewe trou-idees en tydlose romantiek. Hierdie liefdevolle paartjie het hul ja-woord gedeel by ’n gewilde venue naby Lambertsbaai. Bekend vir sy rustige atmosfeer en perfekte strandtonele, bied hierdie kusdorpie ’n unieke en ontspannende omgewing.

Die seremonie was ongelooflik besonders. Die blou oseaan het as natuurlike agtergrond gefunksioneer, terwyl hulle op die sand belowend voor hul gaste gestaan het. ’n Kleurryke blomstruktuur met turkoois aksente het die toneel afgerond en die klassieke seremonie ’n vars, moderne gevoel gegee.

Die bruid se eenvoudige, maar elegante styl het onmiddellik uitgestaan. Haar helder lippe en naels het pragtig gelyk saam met haar stylvolle wit trourok en fyn handruiker. Haar strooimeisies se vrolike kleure het die strandtema perfek versterk. Die bruidegom en sy gevolg het vars en netjies voorgekom in hul ligte khaki-drag, groen dasse en bruin skoene.

By die onthaal het die venue se rustieke karakter ’n warm, uitnodigende atmosfeer geskep. Die oopvuur-etes is altyd ’n gewilde keuse daar, en dit het die gaste-ervaring ekstra spesiaal gemaak. Tafelversiering met vrugte, groente, gedroogde elemente en helder blomme in groen, wit, geel, pers en pienk het ’n lewendige, stylvolle samestelling gevorm. Die houttafels met donkergroen lopers het die dekor pragtig uitgelig.

Toe die liggies bo hulle begin skitter, het die ruimte ’n sagte, romantiese gloed gekry. Dit was die ideaal vir ’n intieme kuier saam met mense vir wie hulle lief is. Hierdie dag was ’n ware liefdesviering vol kreatiewe trou fotografie, onvergeetlike oomblikke en opregte emosie.

Rol gerus af vir meer trou inspirasie uit Bruwer en Lorraine se besondere reis as bruid en bruidegom.

Trourok:


My trourok was enkel-lengte en spierwit, ontwerp met ’n vloeiende, beeldskone elegansie wat herinner aan ’n antieke Griekse godin. Die silhoeët was eenvoudig maar treffend, met ’n boobtube-neklyn, ’n geplooide bors en subtiele korset detail wat struktuur en vorm gegee het aan die sagte, gedrapeerde stof. Fyn plooie het regdeur die rok geval en beweging geskep, terwyl ’n elegante skeur ’n moderne, romantiese element bygevoeg het.

Vir ’n dramatiese effek het ek dit gekombineer met ’n oorrok van ongeveer drie meter lank wat soos ’n sleep oor die enkel-lengte rok geval het. Die styl was minimalisties en verfyn, sonder paillette of swaar versierings, slegs ’n dun kristalbelt wat ek later die aand gedra het vir ’n sagte vonkel.

Die rok het eenvoud en detail perfek gebalanseer: tydloos, elegant en vroulik. ’n Ontwerp wat deur sy suiwerheid en mooi afwerking uitgestaan het.

Paartjie se Verlowing:


Ons verlowing het plaasgevind by Jan du Toits-kloof, tydens ’n uitstappie saam met my broer, Johan. Hy het eers net voor die stap uitgevind dat daar ’n ring in sy rugsak is! Ek het die hele dag video’s geneem, want die natuur en die watervalle was net so pragtig.

Toe ek vir Johan vra om vir ons ’n video te neem onder een van die watervalle, was ek heeltemal niksvermoedend. Ek het die oomblik net geniet, toe ek omdraai en sien hoe Bruwer op sy knieë is. Ek was totaal verras en het dit glad nie verwag nie, ek was amper nie eens lus om saam te stap nie!

My eerste woorde was: “Is jy mal, die ring gaan in die water val!” Maar tussen die waterdruppels, die berge en die verrassing, was my antwoord natuurlik ’n oorweldigende ja.

Verloof- en Trouringe:


My ring is ’n dun goue band met ’n reghoekige, helderblou topas as middelsteen. Aan weerskante van die topas is twee kleiner reghoekige diamantjies wat die ontwerp balanseer en ’n klassieke glans toevoeg.

Die band self is uniek uitgewerk. Dit bestaan uit ’n patroon van drie klein goue balletjies wat verbind word deur diamant vorms. Binne hierdie vorms is daar piepklein ronde diamantjies wat ’n subtiele sprankel gee en die ring verfynd laat lyk.

Trou Dekor en Styl:


Ons troue is by Muisboskerm gehou, waar ons die natuurlike karakter van die venue wou behou, maar dit met ’n elegante aanslag verryk het. Die kleurskema was lewendig en kleurvol, en die dekor het bestaan uit ’n mengsel van blomme, groente en vrugte, ’n keuse wat my hart bly gemaak het. Met my sjef-agtergrond het ek dit as besonders ervaar; soms kan mooi groente en vrugte vir my selfs mooier wees as blomme.

Die onthaalruimte is gevul met kleurvolle meubels en honderde liggies wat die dak en pale omring het, wat ’n warm en feestelike atmosfeer geskep het. Ek wou hê die dekor moes ryk en besig genoeg wees om energie en vrolikheid uit te straal, maar tog subtiel genoeg dat die asemrowende see-uitsig steeds sy volle waarde kon behou.

Die algehele styl van die dag was ontspanne maar tog elegant, ’n harmonieuse kombinasie van natuurlike eenvoud en kleurvolle sofistikasie.

Trou Begroting en Beplanning:


Hulle het ’n jaar en vier maande lank aan hul liefdesviering beplan, met ’n troubeplanner wat elke detail help vorm het. Die begroting van R500 000 is met sorg gebruik om ’n stylvolle, moderne trou-ervaring vir hul 174 gaste te skep.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: