Hunter en Lana se paartjie fotosessie by Wonderboom Lughawe is beide romanties en prentjiemooi. Hunter is ’n groot vlieg-entoesias en vlieg by Wonderboom Lughawe, die perfekte rede vir hierdie unieke fotosessie by dié ligging. Dit is altyd ’n briljante idee om iets waarin die paartjie belangstel, by hul fotosessie in te sluit. Dit maak die sessie nie net persoonliker nie, maar ook soveel meer pret!
Tyd vlieg verby, en wat is meer spesiaal as om eendag terug te kyk na kosbare herinneringe? Vang elke spesiale oomblik saam vas in die mooiste foto’s. Waarvoor wag julle nog? Bespreek vandag nog jul fotograaf en begin beplan aan julle eie paartjie fotosessie.
Kies ’n oulike ligging of tema waarvan julle albei hou, en trek mooi aan verkieslik in sagte, neutrale kleure. Lana se wit rokkie en Hunter se ligte khaki-broek met swart hemp was perfek vir ’n ontspanne, natuurlike sessie soos hierdie. Hoe gemakliker julle voel, hoe mooier lyk die foto’s, want ontspanning laat die egte emosies deurkom voor die kamera.
Hunter en Lana se fotosessie is werklik iets besonders. Die sagte oranje sonsaklig skep ’n romantiese, amper dromerige atmosfeer in die foto’s. En vir almal wat van vliegtuie hou, of dit bloot interessant vind, sal hierdie sessie beslis betowerend wees. Verskeie vliegtuie het as agtergrond gedien vir hul spesiale en betekenisvolle fotosessie.
Rol af om meer te lees oor Hunter en Lana se vliegveld paartjie Fotosessie en hul unieke liefdesreis.

Die eerste ontmoeting:
Ek en Hunter het by ʼn fees in 2020 ontmoet deur gemeenskaplike vriende en dit was net liefde op eerste oog op slag gewees (cliché ek weet) en die res is geskiedenis. Vanaf daai oomblik het Hunter my hart gesteel en ons is nou al vyf jaar saam.

Gunsteling eienskappe van mekaar:
My gunsteling eienskap van Lana is haar onselfsugtigheid . Sy gee regtig om oor die mense naaste aan haar. En sy sal letterlik enige iets vir hulle doen. Familie is verseker die belangrikste ding vir Lana .
My gunsteling eienskappe van Hunter is dat hy sulke Godvresende man is en dit wys in als wat hy doen, hoe hy ander mense hanteer en in sy loopbaan.

Drome as paartjie:
Ek dink enige paartjie het 110 drome oor hulle toekoms saam, maar wat vir ons veral belangrik is in ons verhouding is om God in die middel van al ons planne, doelwitte en drome te hou. En dat Hy ons sal lei in als wat ons doen en aan pak saam.

Dinge wat die paartjie hou van om saam te doen:
Ons gunstelinge oomblikke saam is meestal die “kwaliteit tyd” oomblikkies. Van kook (wat soms in floppe uitdraai) tot ʼn movie en popcorn dag. En selfs nuwe koffie winkels te probeer.
So basies net die eenvoudige oomblikke saam is wat vir ons spesiaal is.

Rede vir die fotosessie:
Die fotosessie was spesiaal gereël vir Hunter as ‘n verjaarsdag persent van my af. Hy vlieg by Wonderboom lughawe waar die fotos geneem was. Ek wou graag sy liefde vir vlieg in sluit saam met ons couple shoot.

Visie vir ‘n romantiese afspraak:
Ons albei se gunsteling romantiese afspraak is ‘n piekniek. As gevolg van ons albei wat van die buite lewe en natuur hou veral saam lekker kos.
Ons albei sal ‘n romantiese afspraak beskou en tyd waar ons net met mekaar kan praat en opvang na ‘n lang en besige dag/week.

- Fotograaf: Vergeet My Nie Fotografie | Kontak
- Fotosessie Ligging: Wonderboom Lughawe

