Saal op en hou vas, want Charl en Marike se Cowboy en Cowgirl verlowing fotosessie is een vir die boeke! Die paartjie het hul liefde gevier met ’n egte plaas gevoel van oop velde, sagte sonsak lig en perde wat die romantiese prentjie voltooi het.
Hul tema was duidelik “Cowboy ontmoet sy Cowgirl.” Marike het pragtig gelyk in haar wit rokkie met fyn blom detail en pofferige moue, perfek afgerond met stylvolle bruin stewels. Charl het sy denims en betroubare cowboy-hoed met trots gedra.
’n Verlowing fotosessie is soveel meer as net mooi foto’s. Dis ’n kans om gemaklik voor die kamera te raak, om jul fotograaf beter te leer ken, en om sodoende die troudag sonder spanning te ervaar. Dis ook die ideale tyd om enige kamera-angs te oorkom en natuurlike, egte oomblikke vas te vang.
Ons is dol oor hoe hierdie twee hul Cowboy en Cowgirl-styl met styl en egtheid gekombineer het. Die sagte sonsak lig oor die plaas, die wind wat deur Marike se hare waai, en die kalmte van die perd langs hulle skep ʼn dromerige toneel.
Julle verlowing fotosessie is nie net ’n voorsmakie van die troudag nie, maar ook ’n herinnering aan waar alles begin het, selfs met stewels vol stof en harte vol liefde.
Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir betroubare diensverskaffers wat julle droomdag net so eg en mooi soos hierdie cowboy-liefdesverhaal kan maak.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
My ma se broer en Charl se pa het vriende geword op die wildsplaas waarheen ons al van kleins af gaan. In matriek het hy my na die matriekafskeid toe gevra, wat as vriendskap begin het, het vinnig in ware liefde ontaard.
Toe ek in Bloemfontein gaan studeer het, was dit moeilik om ʼn langafstand verhouding te handhaaf. Met die Here in die middel het ons dit laat werk. Charl het my in my tweede jaar gevra om te trou. Nou is ons troudag naby, en ek is meer verlief en opgewonde as ooit. Die Here seën ons oorvloedig.

Die groot vraag:
Ons was op die plaas saam my ouma. Op ʼn wildrit het ons by ʼn klipkoppie gestop om die sonsondergang te kyk. Terwyl ek nog besig was om foto’s te neem, draai ek om en daar is hy, op een knie! Dit was so ongelooflik spesiaal om daardie oomblik saam my ouma te deel; ʼn herinnering wat ek vir altyd sal koester.
Ons het al ʼn rukkie oor trou gepraat. Ek was tuis vir vakansie en die tyd het min geraak. Ek het gedink: “Nee, hy gaan my seker nie nou vra nie.” Toe verras hy my heeltemal!

Hoekom ons mekaar liefhet:
Charl se hart van goud en sy snaakse se goed wat my altyd laat lag. Marike se miljoene persoonlikhede wat my altyd besig hou.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
So kort as moontlik!

Die verloofring:
Ons het aanvanklik beplan om ʼn nuwe verlowingsring te maak. Toe, op ʼn aand, kry ek ʼn oproep van Charl en sy ma. Sy het my gevra of ek haar ring sou wou hê, want dit maak haar hart te seer om dit te dra noudat haar man oorlede is.
Vir my is dit so ʼn ongelooflike eer en so onbeskryflik spesiaal om te weet ek kan vir die res van my lewe ʼn teken van hul liefde saam met my dra. Dit is meer as net ʼn ring; dis ʼn kosbare erfstuk wat hul liefde met ons sʼn verbind.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou die foto’s gebruik vir ons trou uitnodigings.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
As ek nou moet eerlik wees is ek ‘n cowgirl in my hart, ek dress eintlik net op soos’ n dokter. Ek het al van kleins af perd gery so toe dog ek dit is nou n perfekte geleentheid vir sulke foto’s. Ek het toe uitgereik na Dane toe en haar vertel van my visie. Die foto’s het al my verwagtinge geheel en al oortref!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Geen verwagtinge of vrese, net opgewondenheid dat ons ‘n lewe saam mekaar kan spandeer!

Visie vir droomtroue:
Ons troue gaan by Verkykerskop wees. Die natuur is beeldskoon, dis rustig, dis oop, dis net perfek! As ek dink aan ons troue dan dink ek blommetjies en glitter! Ek wil hê as die gaste daar aan kom moet dit soos lente in n sprokies verhaal voel.

- Fotograaf: Schon Wedding and Lifestyle Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: T.J.O Equestrian Training Yard | Kontak

