Mooi Troues se lesers kan elke maand ons 12-stap troubeplanning advies reeks volg wat jou help om jou groot dag stap vir stap te beplan. Ons breek die beplanning in kleiner dele op, sodat julle dit rustig kan aanpak sonder om oorweldig te voel.
As julle nog nie Artikel 1 en Artikel 2 gedoen het nie – moenie stres nie. Hierdie reeks is slegs ’n riglyn om jou te help om die proses makliker en meer georganiseerd te maak. Teen hierdie tyd behoort julle ’n goeie idee te hê van julle begroting en troudatum.

Skep Julle Visiebord:
As julle nog nie ’n visie bord gemaak het nie, is dit nou die perfekte tyd! Dit help julle om al die idees visueel bymekaar te hou en om beter te kommunikeer met diensverskaffers.
Gebruik platforms soos Pinterest of ’n eenvoudige Google Drive-map. Deel dit met diensverskaffers sodat hulle julle styl en visie verstaan. Volg Mooi Troues op Pinterest vir plaaslike inspirasie!
Wenk: Probeer jou bord so Suid-Afrikaans moontlik hou – baie internasionale idees is nie altyd plaaslik beskikbaar nie, veral sekere dekor items. As julle wel die begroting het om items van oorsee in te voer, kan julle natuurlik daardie idees insluit.
Onthou: jou visie bord is daar vir inspirasie, nie om presies gekopieer te word nie.

Wat Jul Teen Hierdie Tyd Al Moes Doen Het:
Moenie paniekerig raak as julle nog nie alles gedoen het nie, elke paartjie beweeg teen hul eie spoed.
Hierdie is bloot ’n riglyn van wat teen hierdie stadium min of meer vasgestel moet wees:
- Begroting: Finaliseer dit sodat julle weet hoeveel julle aan elke element kan bestee.
- Trou Datum: Moet beslis al vas wees, sonder dit kan niks bespreek word nie.
- Venue: Deposito betaal en kontrak deeglik deurgelees.
- Fotograaf en Videograaf: Begin ontmoetings en bespreek so gou moontlik.
- Bekende Diensverskaffers: Kontak en bespreek die wat julle graag wil gebruik.
- Trou Koördineerder of Selfdoen: Finaliseer nou jou besluit, want koördineerders het ook beplanningstydperk nodig.
- Styl en Dekor: Kry ’n duidelike idee van die algemene styl waarvan julle hou.
- Diensverskaffers Kortlys: Begin notas maak van wie julle moontlik wil gebruik.

Verseker Julle Troue:
Ja, julle lees reg! Daar bestaan trou versekering wat jul beskerm teen dinge buite julle beheer is. Dit is belangrik om jul huiswerk te doen oor trou versekering. Net soos julle jul motor of huis inhoud sal verseker, net so kan julle jul troue verseker.

Finaliseer die gastelys van buitelandse gaste:
As julle gaste uit die buiteland nooi, gee vir hulle genoeg tyd om te beplan. Hulle moet verlof reël, visums aanvra indien nodig en vlugte bespreek. Reis- en verblyfkostes kan vinnig optel, so vroegtydige kennis is noodsaaklik. Laat hulle minstens 6 maande voor die troudatum weet (3 maande is die minimum).

Oorweeg ’n Bestemming troue:
Droom julle van ’n troue buite Suid-Afrika, dalk op ’n eiland of in ’n romantiese stad? Dis wonderlik, maar kommunikeer dit baie vroeg aan gaste. As julle nie vir julle buitelandse gaste se reis- of verblyfkoste betaal nie, laat hulle asseblief vroegtydig weet sodat hulle genoeg tyd het om te spaar en hul reëlings te tref. ’n Kennisgewing van ses maande voor die troudatum is ideaal, maar drie maande is steeds aanvaarbaar as dit ’n kleiner groep is.

Die Bruid se Trourok
Toekomstige bruide, dit is nou die lekker deel! Begin dink aan jou droomrok. Hierdie proses neem tyd, veral as julle ’n rok laat ontwerp.
Dinge om in gedagte te hou:
- Wil julle die rok koop, huur of laat maak?
- Watter materiaal, snit en styl verkies julle?
- Droom julle van ’n wit, ivoor of selfs sagte kleur rok?
- Maak ’n kortlys van ontwerpe of bruidsboetieke wat julle wil besoek.
Wenk: Begin betyds – aanpassings en pas-sessies neem gewoonlik langer as wat mens dink.

Artikel Krediet:
- Advies: Mooi Troues
- Artikel foto’s: Pexels
