Lafras & Bianca se Elegante Plaastroue in Mpumalanga

Wanneer ’n mens aan ’n plaastroue dink, is elegansie nie altyd die eerste beeld wat opkom nie. Juis daarom is ons opgewonde om vir julle Lafras en Bianca se Elegante Plaastroue in Mpumalanga te wys. Hulle het die beste van twee wêrelde saamgevoeg beeste, hooibale en uitgestrekte plaas landskappe in kontras met fyn blomme, kleure en teksture. Die resultaat is ’n unieke viering vol elegansie en ’n tikkie rebelsheid, ’n ware weerspieëling van wie die paartjie is.

Bianca se trourok was ’n asemrowende meerminstyl van semi-deursigtige gaas met ingeweefde lyne wat haar figuur elegant beklemtoon het. ’n Diep V-nek het gesorg vir ’n subtiele sensuele aanraking, terwyl sagte tulle-lae ’n dramatiese sleep gevorm het wat die rok pragtige beweging gegee het. Haar voorkoms is voltooi met ’n lang, deursigtige sluier, ’n perfekte balans van modern en klassiek.

Die viering het op hul eie plaas plaasgevind, waar die venue spesiaal vir hul troudag gebou is. Dit simboliseer vir hulle ’n samesmelting van geskiedenis, tradisie en nuwe begin. Die seremonie is op die fondament van ’n ou voer-stoor gehou,’n betekenisvolle keuse wat die diepte van hul liefde weerspieël het.

Die onthaal was stylvol, met ’n speelse tikkie chaos. Tafels is gedrapeer in sand kleurige tafeldoeke en versier met wit blomme, goue eetgerei en elegante kersstaanders. Tog het die dekor steeds die egtheid van die dag bewaar. Die kontras van elegansie en rebelsheid het hul hele viering deurdring, net soos Lafras en Bianca se eie liefdesreis.

Begin sommer vandag nog jou troubeplanning deur na venues in Mpumalanga te kyk op Mooi Troues se aanlyn trougids.

Rol af en geniet hoe plaaslewe en formele luuksheid saamgesmelt het tot ’n skouspel van liefde.

Trourok:


’n Mermaid-silhoeët trourok met ’n diep V-neklyn . Die materiaal bestaan uit semi-deursigtige gaas met ingeweefde lyne wat die figuur beklemtoon. Die rok is gevorm met sagte tulle-lae wat onder uitbrei in ’n dramatiese sleep. ’n Lang sluier van ligte, deursigtige tule voltooi die voorkoms vir ’n elegante en moderne styl.

Paartjie se Verlowing:


Lafras se Perspektief:

Ek het geweet ek wil op ’n plek vra om te trou wat betekenisvol is, ’n plek wat, soos Bianca, my hart gesteel het die oomblik toe ek dit sien. Watervalplaas is so ’n magiese plek. Ons het ’n berg uitgetrek en met ’n tou afgeklim na ’n waterval wat van die wêreld en sy probleme weggesteek is. Daardie spesifieke plek is ’n geestelike plek waar mense bid, omdat daar ’n spesiale soort energie teenwoordig is. Met die gedruis van die waterval en die belofte van ’n toekoms sterker as enige iets wat ons al voorheen deurstaan het, het ek op my enigste werkende knie gaan staan en vir Bianca gevra om my vrou te word en sy het “Ja!” gesê. Op daardie oomblik het harte begin heel word.

Bianca se Perspektief:

Ons het Lafras se familieplaas besoek net voor die herdenking van ons eerste afspraak. Lafras het my ‘n berg laat uitklim en met ‘n tou laat afklim na ‘n waterval aan die voet daarvan. Gelukkig was ek nie moeilik daardie dag nie. Met water wat rondom ons gedreun het, het hy my daar gevra om met hom te trou. My “Ja!” was onmiddellik. Die man wat voor my gestaan het, op ’n pas vervangde knie, het sy eie beproewings in die oë gestaar en tog was hy hier, standvastig en seker. Ons het ons pyn van die verlede saam oorkom, en ek het geweet ons is gereed vir wat ook al voorlê.

Verloof- en Trouringe:


Die hoofsteen is ’n groot, ovaal geslypte diamant in geelgoud klou-setting.

Troupante:

Bianca – Fyn en elegant, versier met ’n ry van kleiner ronde diamante.

Lafras – Matt geelgoud 6mm pant.

Trou Begroting en Beplanning:


Lafras en Bianca het hul groot dag binne net ses maande self beplan, en dit met groot sukses! Hulle het sowat 200 gaste ontvang op hul eie plaas, waar die venue spesiaal vir die troue gebou is. ’n Projek wat nie net hul kreatiwiteit en harde werk gewys het nie, maar ook die persoonlike betekenis van die dag verdiep het. Omdat die venue van nuuts af geskep is, was dit moeilik om ’n presiese begroting te bepaal, maar die eindresultaat was ’n viering wat uniek en eg aan hulle is.

Trou Dekor en Styl:


Ons dag het begin met die tydlose skoonheid van wit ʼn klassieke seremonie, ʼn belofte in n kerk wat op die fondament staan van n ou voer-stoor, ʼn oomblik van stilte voor die lewe se volgende groot avontuur.

ʼn Ontploffing van kleur.  ʼn Fees. ʼn Viering van ons liefde, ons mense, en die begin van ‘THE BEST DAY EVER!’ Dit was elegansie met ʼn tikkie chaos, tradisie met ʼn skoot rebelsheid, ʼn plaastroue wat net soos ons was stylvol, opreg, en bietjie wild.

Hierdie troue was plaashandskoene en tuxedos, bosveld en champagne, sement en dahlias.

Want troues gaan nie oor groot dekor en perfekte tafels nie. Dit gaan oor egtheid, familie en vriende wat jou mense is. Dit gaan oor diep wortels en sterre in jou oë, en oor iemand wat jou kies, elke dag, vir altyd.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: