Heino & Khanya se Luukse Troue in Waterberg Bosveld

Die Limpopo provinsie is ’n gewilde streek vir Suid-Afrikaners sowel as internasionale toeriste wat graag wildlodges wil ervaar en die ryk wildlewe wil aanskou. Daarom is ons verheug om Heino en Khanya se luukse troue in die Waterberg Bosveld met julle te deel. Hierdie elegante viering het plaasgevind by die eksklusiewe Palala Boutique Game Lodge & Spa.

Die lodge het aan al die verwagtinge voldoen deur ’n perfekte kombinasie van die natuurlike skoonheid van die Afrika bosveld saam te bring met ’n stylvolle kapel en luukse onthaalruimte.

Een van die uitstaande elemente van die kapel is die reuse-venster wat oor ’n majestueuse kremetartboom uitkyk. Met wit draperings en talle kerse is die kapel minimalisties versier, wat ’n intieme en romantiese atmosfeer geskep het.

Aardse natuurlike kleure, wit rose, verskillende wit blomme en ’n paar delikate orgideë het die dekor se kleurskema gevorm. Vir die trou dekor is glasvase, kristal, houttakke, spieëls, Perspex, kerse, houtbakke en grasmandjies gebruik, ’n styl wat die 5-ster interieur ’n organiese tikkie gegee het.

Khanya se trourok was ’n elegante skepping met ’n slanke silhoeët waarin sy volkome gemaklik gevoel het. Die bandelose halslyn en die rug met deursigtige panele het ’n kontemporêre en sensuele voorkoms geskep, terwyl die fyn ontwerp ’n gevoel van tydlose styl behou het.

Rol verder af om meer van Heino en Khanya se luukse troue in die Waterberg Bosveld te sien, ’n viering waar moderne luuksheid perfek saamvloei met die rustige skoonheid van die Afrika-natuur. Aan die einde van die artikel wag daar ook ’n pragtige video, geskiet deur Mighty Fine Productions, wat die storie van hulle troudag op treffende wyse tot lewe bring.

Trourok:


My aanvanklike besluit was om my trourok te maak, iets uniek,’n rok wat spesiaal net vir my lyf ontwerp is. Situasies in die lewe is egter nooit gegewe.Ek het ʼn ongelooflike mooi, elegante, “bling” rok op Instagram gesien van Veil Bridal Couture.

Met die aanpas het dit egter glad nie gewerk nie. Die “wildcard” rok het almal se voete onder hulle uitgeslaan.Dit was die “WOW”-oomblik waarvan ek gedroom het. Ek het nie net asemrowend, sprokies mooi gevoel nie, ek het soos myself gevoel. Net ‘n mooier, meer glansryke weergawe van myself.

My trourok is ʼn elegante en moderne ontwerp wat beide sofistikasie en styl balanseer. Met ʼn slanke, noupassende silhoeët wat die liggaam pragtig beklemtoon. Die borsgedeelte is bandeloos met ʼn sagte semi-sweetheart halslyn, wat ʼn romantiese en tydlose voorkoms gee. Die rugontwerp is besonders uniek: Dit het deursigtige panele wat strukturele detail en ʼn kontemporêre gevoel bring. Verder het die rok ʼn slit aan die been, wat ʼn tikkie sensualiteit en beweging gee. Die knopies agter bied klassiek detail.

Wat die materiaal van die rok betref, is dit gesofistikeerd en modern, sonder oormatige kant of versierings wat die fokus op die snit en pasvorm plaas. Die rok het drie unieke style: ʼn Indrukwekkende groot “overskirt” wat ek in die kerk gedra het vir ʼn meer dramatiese effek. Na die kerk het ek die “overskirt” verwyder, maar die sleep agter is steeds sigbaar. Die sleep kon ook aan die einde van die aand vasgemaak word, wat dit makliker gemaak het om die aand te geniet en lekker te dans.Die rok is stylvol, modern en tydloos. Die kleur van die rok was ivoor, so-ook my sluier wat met ʼn paar pêrels versier is.

Verloof- en Trouringe:


Net soos talle ander dames, het ek lank voor ons verlowing begin droom oor my perfekte ring. Pinterest was onder andere my speelgrond, so-ook soms, daardie neus teen die juweel-winkelvenster, met groot begeertes! Drome en realiteit is egter twee verskillende scenarios en ek het geweet dat so ’n ring nie sommer iets is wat jy net onbepland kies. Dis ’n lewenslange belegging, emosioneel én finansieel. My eggenoot het dit gelukkig in dieselfde lig beskou. Heino is pedanties in besluitneming, hy doen deeglike navorsing, vra vrae, kyk na detail. Die 5 C’s (cut, color, clarity, carat en cost) het hy behoorlik onder die knie gehad teen die tyd wat ons reg was om te begin kyk na ringe.

In 2022 het ons besoek afgelê by ʼn juwelier.Ek wou die verskillende snitte en style op my eie hand sien. Ek wou seker wees dat, wanneer Heino uiteindelik kies, die diamant regtig mooi sal lyk op my vinger. Dis een van daardie dinge wat jy net weet, wanneer jy dit self sien. Van daardie dag af het ek hom 100% aan die stuur van sake gelaat. Hy het alles self gereël, van die keuse van die steen tot die ontwerp van die ring. So goed soos ek Heino ken en die vertroue wat ek in hierdie ongelooflike man van my het, het ek net geweet hy sou met iets uitsonderlik vorendag kom.

Die ring van my drome:

Die eindresultaat het natuurlik my voete onder my uitgeslaan en geheel en al my grootste verwagtinge oortref. My verloofring is ’n 1.7 karat square cushion brilliant cut met ‘n hidden halo en fyn diamandjies op die band van 0.3 karaat. Die kleur is D, clarity is VVS1, Materiaal is 950 Platinum. Die ring is elegant, klassiek, en pas perfek by my simplistiese styl van “less is more”. Nie net is dit beeldskoon mooi vir my nie, dit is tydloos. Die troupant was weer ʼn maklike keuse. Ek het geweet ek wil net iets simplisties hê wat die diamandjies aan die kant van my verloofring weerspieël, niks oorweldigend of oordadig nie.

Meer oor Palala Boutique Game Lodge & Spa:


Palala Boutique Game Lodge & Spa is die ideale venue vir jou droom bosveld troue, geleë in die hartjie van die wildernis langs die pragtige Limpopo rivier.

Ons kapel, met die majestueuse Kremetartboom as fokuspunt, bied die perfekte agtergrond vir jou groot oomblik. Ná die seremonie kan gaste die asemrowende sonsondergang op ons eiland geniet terwyl hulle bederf word met heerlike kos en verfrissings.

Intussen neem ons professionele veldwagters die pasgetroudes op ’n unieke foto toer na die mooiste plekke op die lodge.

Die onthaal word gevier in ons moderne Oryx Venue, ’n prentjiemooi ruimte wat selfs sonder dekor al asem wegslaan. Ons trou-pakkette sluit tafels, stoele, eetgerei, ’n keuse van spyskaart-opsies én ’n wye verskeidenheid drankies in.

Vir die bruidspaar wag daar ’n onvergeetlike nag in ons romantiese wittebrood-suite, ingesluit by die pakket.

Laat dit aan ons toegewyde en professionele trou-koördineerders oor om elke oomblik van jou dag volgens plan te laat verloop, sodat jy net kan ontspan en die liefde kan vier.

Paartjie se Verlowing:


April 2023 het Heino my verras met ʼn weeklange wegbreek na Hoedspruit. Waarheen, wou hy nie sê nie. In die kar het ons Hangman gespeel totdat ek uiteindelik die naam kon raai: Kapama Karula. Ongelooflik,met ons deurry deur die hek, is ons begroet met sewe kameelperde wat die pad volgestaan het, ’n simbool wat vir my lank in my lewe reeds ’n teken van seën en goeie dinge is. Ek kon skaars my oë glo! Kapama Karula het my wildste drome oortref. Ek kon regtig sien Heino het uiterse baie moeite gedoen met elke, stukkie detail van ons verblyf en reëlings.

Toe die groot oomblik aanbreek…

Op ons tweede dag by hierdie asemrowende lodge het Heino genoem dat ons ’n couples photoshoot gaan doen tydens die middag se wildrit, iets waarvan ons al tevore oor gesels het, daarom ek het niks agterdogtig gevind nie. Ons het nog skaars die lodge verlaat toe daar ‘n kameelperd langs die pad staan. Die fotograaf het vir die gids gevra om te stop sodat ons kan uitklim om foto’s te kon neem. Ek het geensins besef wat aangaan, tot Heino voor my op een knieg, die groot vraag gevra het.Net daar in die middel van die bos met die kameelperd in die agtergrond!
Ek was totaal verras en oorweldig.Natuurlik het ek sonder om ʼn oomblik te aarsel, ja gesê!

Na die fotosessie het Heino gereël dat ons vervoer word na ’n majestueuse boom, diep in die hart van die bosveld, waar daar ’n eksklusiewe buitelug kroeg afdeling met sorg ingerig was,vir ons deur Kamapa. Daar was ’n wye verskeidenheid van stylvolle eethappies en premium drankies aan ons bedien, van vonkelwyn tot handgemaakte skemerkelkies. Hierdie was egter nie net enige boom nie, maar ʼn kremetart boom. Presies ook dieselfde boom waaronder ons sou trou sweer aanmekaar 2 jaar later. In die bos, omring deur die geluide van die natuur en die sagte skadu bewegings van die wild in die verte, was die atmosfeer uiters intiem en romanties.’n Glasie vonkelwyn in die hand, terwyl die son saggies agter die bome insluip.

’n Oomblik van liefde, eenvoud en elegansie.

Meer oor Mighty Fine Weddings


Mighty Fine Weddings is populêre trou video- en fotograwe gebaseer in Pretoria, maar wat al regoor Suid-Afrika paartjies se liefdesverhale vasgevang het.  Mighty Fine Weddings, vang nie net hierdie oomblikke nie; hul vestig dié oomblikke saam met jul.  Hul passie vir troues inspireer hulle om die ekstra myl te loop, en hul sorgvuldige aandag waarborg ʼn gladde, stresvrye ervaring op julle spesiale dag.

Trou Dekor en Styl:


Waar ons liefde gevier is:

Ons trou venue is iets wat met die grootste geluk oor ons pad gekom het. Met ons ongelooflike verlowing in die bos, wou ons bitter graag, derhalwe ook in die bos trou. Die enigste voorwaarde was dat dit aan die standaarde, eie aan ‘n stylvolle lodge moes voldoen. Luuks, met al die regte Afrika bos elemente. Palala Boutique Game Lodge & Spa het soveel uiteenlopende fasette om in te neem. Hierdie bogenoemde redes het gelei tot die finale keuse van ons dekor. Hierdie aspekte was die keuse om geen spesifieke kleure by te voeg, net aardse natuurlike kleure te gebruik met oorwegend verskillende wit rose, wit blomme, enkele orgideë, bitter min groen loof, min gyp, tonne glasvase, kristal, houttakke, spieël, Perspex, baie kerse, houtbakke en grasmandjies na gelang van die area.

Luuksheid ontmoet natuur:

Ons trou dekor was deurdag bedink en ons het ook in ons dekor verskeie interaktiewe stasies ingesluit, wat ‘n groot treffer blyk te gewees het by ons gaste. Die uiteinde van ons dekor was ‘n luukse, sagte, sprokiesmooi uitleg van natuurlike elemente tesame met wit blomme, glas, kristal en kerse. Die imposante groot oop kerk met soliede houtdeure en ‘n reusagtige venster wat oopmaak op ‘n kremetart boom. Al wat ons bygevoeg het was sagte wit lap draperings, wit roosblare op die lodge se tapyt, met ‘n spierwit mat en ons persoonlike logo daarop, baie kerse en silwer lanterns.

Die eiland van smake en geselskap:

Die canapé-eiland, met sy brug, wat in die middel van ‘n groot meer geleë is met Botswana aan die een kant en SA aan die anderkant.Hierdie area het ons weer die geleentheid gegee om die bos te omhels met grasmandjies, groot ligte houtvase en take. Ontspanne dekor vir ‘n ontspanne area. Uiterste stylvolle onthaalsaal met 5 ster interieur. Hier is gebruik gemaak van wit en ivoor los hangende lappe oor die tafels, wat opbondel op die vloer gelê het, met baie kerse in glasvase vir die toweragtige sprokies gevoel, weereens met tonne klein glasvasies van verskillende hoogtes met enkel wit rose in en kristalvase met tealight kerse.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: