John-Basil en Nastien se betowerende paartjie fotosessie is ʼn fees vir die oog, met die asemrowende natuurtonele van die Franschhoek-vallei as agtergrond. Die twee het duidelik elke oomblik van hul sessie terdeë geniet.
By Mooi Troues is ons absoluut versot op paartjie fotosessies. Dit is daardie spesiale tyd waarin julle net kan ontspan, mekaar se geselskap geniet en terselfdertyd waardevolle herinneringe vasvang in pragtige foto’s. As paartjie neem ons so selde regtig mooi foto’s saam – ’n professionele fotosessie is dus nie net pret nie, maar ook iets besonders om te koester.
Nastien het bekoorlik gelyk in haar ligte rok met ’n fyn blompatroon. John-Basil het gemaklik en stylvol voorgekom het in donker denim en ʼn snoesige trui. Hul uitrustings het perfek ingepas by die natuurlike agtergrond en het op kamera uitstekend saamgewerk.
Ons is so bevoorreg in Suid-Afrika met ongelooflike natuurskoon, wat dit maklik maak om die ideale ligging vir ʼn paartjie-fotosessie te vind. Die sagte sonlig in hul foto’s dra by tot ’n romantiese en warm atmosfeer. Met ’n mengsel van berge, wingerde en selfs water as agtergronde, skep dit ’n dinamiese en interessante visuele tema.
Waarvoor wag julle nog? Hierdie fotosessie gaan jou verseker inspireer om aan julle eie paartjie fotosessie te begin dink! Vind jul fotograaf sommer ook hier op Mooi Troues se aanlyn trougids.
Rol af om meer van die pragtige foto’s van John-Basil en Nastien se sessie in Franschhoek te sien, en ’n kykie te kry in hul liefdesreis.

Die eerste ontmoeting:
Ons het aanlyn ontmoet en ons eerste ontmoeting vir koffie gegaan by Obz Café en ek kon vir John-Basil oortuig om darem ʼn snytjie koek met my te deel, al het hy gedink ek was bietjie voorbarig!
Ons was op 19 Januarie 2025 ʼn jaar lank al in ʼn verhouding.

Gunsteling eienskappe van mekaar:
Nastien: Sjoe, daar is baie! Maar ek sal sê my heel gunsteling is John-Basil se geduld en sy omgee hart en sy oneindige ondersteuning in alles wat ek doen.
John-Basil: Nastien se sagte hartjie, haar empatie, hoe sy altyd ʼn mens kan laat glimlag en sonder twyfel, haar sin van humor.

Drome as paartjie:
John-Basil: ek voel bevoorreg dat ek elke dag my ‘droom’ kan uitleef met Nastien. Ons bly baie lekker saam vir ʼn tydjie al. En sal graag in die toekoms ʼn 4 poot asempie by kry, soos ons verder aan ons toekoms saam bou. Ons wil ook baie graag gaan reis en plekke gaan besoek wat in van ons gunsteling films verskyn.
Nastien: John-Basil was my grootste droom wat kon waar word. Verder droom ons, soos John-Basil gesê het, om baie te gaan reis en ʼn katjie te kry. Ek is baie opgewonde om nog meer drome te bou saam met John-Basil.

Dinge wat die paartjie hou van om saam te doen:
Ons hou baie daarvan om films saam te kyk (by die huis of in ‘n film teater) en om na konserte te gaan of ʼn piekniek te pak en by die see te gaan sit vir ʼn sonsondergang. Ons is ook mal daaroor om nuwe plekkies te gaan verken. Ook saam met ons familie en vriende tyd te spandeer.

Rede vir die fotosessie:
Dit was eintlik vir onderstel om ʼn gesin fotosessie te wees, maar my ma het vir John-Basil saam genooi omdat hy al deel van die familie is. Toe het dit sommer ʼn paartjie fotosessie geword ook.

Inspirasie agter die fotosessie:
Ons is mal oor Franschhoek en het familie wat daar bly en ʼn kampeer terrein bestuur. So met hul toestemming het ons dit sommer daar gedoen.

Visie vir ʼn romantiese afspraak:
Nastien: Ons is nie mense vir ‘fancy’ plekke nie so om vir ʼn vinnige koffietjie te gaan, sien ons ook as dates. Maar as ek moet kies is dit om na ʼn mooi wynplaas te gaan.
John-Basil: enige plek waar ons lekker met mekaar kan gesels en ʼn gesamentlike ervaring hê is vir my romanties. Ek geniet graag om nuwe plekkies met Nastien te ontdek soos koffie winkels, restaurante, wyn plase, ens. Maar as ek een moet kies, sou ek sê ʼn rustige naweek langs die see met haar voel altyd soos Hemel op aarde.

- Fotograaf: Anida van Rhyn Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Franschhoek Camping
