Marius en Dione se al fresco troue met ’n Italiaans-geïnspireerde styl is een wat julle nie wil misloop nie. Die paartjie se troudag was ’n gesellige en intieme geleentheid met 40 gaste in die pragtige Clarens-omgewing in die Vrystaat. Dit dien as ’n perfekte voorbeeld vir paartjies wat besig is om ’n kleiner, meer persoonlike troudag te beplan.
Dione het pragtig gelyk in haar elegante trourok, met fyn besonderhede wat uiters stylvol afgewerk is. Haar voorkoms is perfek afgerond met ’n oulike wit ruiker, bestaande hoofsaaklik uit wit rose. Marius het ’n donker pak gedra wat ’n klassieke, elegante aanslag aan die paartjie se styl gegee het.
Hulle het die dag gevier met ’n lieflike buitelug seremonie onder ’n prieel wat met stof gedrapeer is. Die omgewing, met sy uitgestrekte uitsigte, het die perfekte, skilderagtige agtergrond vir hul spesiale oomblik geskep.
Ons is dolverlief op die paartjie se fotosessie. Die natuurskoon was ideaal vir hul trou foto’s – ’n minimalistiese landskap met die rustige skoonheid van velde en berge in die pragtige Clarens-gebied.
Die onthaal se dekor was eenvoudig, elegant en stylvol. Dit was ’n buitelug geleentheid onder ’n tent wat die al fresco gevoel en Italiaanse atmosfeer versterk het. Lang tafels was met wit tafeldoeke gedek, en 250 kerse is gebruik om die lokaal te versier. Dit het nie net ’n gesofistikeerde voorkoms geskep nie, maar ook ’n romantiese atmosfeer. Die tafels het geen blomversierings gehad nie, want die kerslig alleen het die perfekte atmosfeer geskep.
Rol af om meer te lees oor Marius en Dione se al fresco troue en hul pragtige liefdesreis as paartjie.
Trourok:
My trourok is iets wat ek lank voor ons verlowing op Bridal Wardrobe se Instagram gesien het. Ek het onmiddellik verlief geraak op die styl – ʼn rok met ʼn oop rug, baie detail en ʼn lang sleep. Ek het ook ʼn sluier van 3.5 meter lank begeer, wat perfek by die rok gepas het.
Verloof- en Trouringe:
My ring het 11 ronde Moissaniet-stene en ʼn 9 karaat goue band, gemaak deur Ring Artisan.
My man se ring is van tungsten, in brons en bruin kleure.
Paartjie se Verlowing:
Ons verlowing het op Moedersdag 2023 plaasgevind. My “nou” man het ʼn staproete beplan, iets wat ons albei geniet.
Ons was nog nie eens bo aan die roete nie, toe vra hy my – in sy woorde – “Hy kon nie langer wag tot ons bo kom nie.”
Dit was vir my besonders kosbaar, want ons het daardie oomblik vir onsself gehad.
Trou Dekor en Styl:
Ons het gegaan vir ’n “Italiaanse gevoel,” wat perfek by ons venue gepas het. Die kleurskema was groen, swart en wit.
Ons fokus was meer op kerse as blomme, en uiteindelik het ons 250 kerse gehad wat die tafels ongelooflik mooi gemaak het – iets anders as net blomme.
Die venue, Castello II in Clarens, was reeds pragtig, so ons hoef nie veel veranderings aan te bring nie. Ons het ons onthaal onder ’n wit tent gehou, met ’n sit-down ete waar ons behoorlik bederf is met heerlike kos, gerieflike slaapplek, en die mooiste uitsig oor Clarens en Golden Gate.
Trou Begroting en Beplanning:
Ons het ʼn intieme troue met 40 gaste gehad en ons begroting was R250 000. Ons het vir 1 jaar en 4 maande aan die troue beplan, en dit was ʼn selfdoen-troue waar ons alles self georganiseer het.
- Fotograaf: By Mignon Photography | Kontak
- Venue: Castello II Clarens | Kontak
- Blomme: The Caar’i Flora Group | Kontak
- Bruidegom-pak: Le Roys
- Dekor: Self Gedoen
- Grimering: Shirley Keyser Artistry| Kontak
- Hare: Gilbert Mofubelu| Kontak
- Huweliksbevestiger: Dominee Clarens
- Juweliersware: Bridal Wardrobe| Kontak
- Kroegdiens: Castello II Clarens | Kontak
- Musiek: Self Gedoen
- Paartjie se verblyf: Castello II Clarens | Kontak
- Strooijonkers bykomstighede: Le Roys
- Skoene: Mango
- Skryfbehoeftes: Crownd Creative. Design | Kontak
- Spyseniering: Castello II Clarens | Kontak
- Strooimeisie-rokke: Bride & Co
- Tente: Castello II Clarens | Kontak
- Trourok: Bridal Wardrobe| Kontak
- Bruid se Trouring: Ring Artisian| Kontak
- Bruidegom se Trouring: Orbit Rings| Kontak
- Wittebrood Bestemming: Houtbaai
- Wittebrood Plek: Snooze Houtbay | Kontak