Met baie opgewondenheid deel ons die tydlose en elegante romantiese trou inspirasie fotosessie met Mooi Troues se lesers. Hierdie pragtige gestileerde fotosessie was by die mooie Smitsfield plaas in die hoëveld van Mpumalanga. Dit is enige paartjie se droom trou bestemming, met pragtige natuurskoon, landskappe en prentjie mooi moderne argitektuur en skoon lyne.
Die hele gevoel van die fotosessie het ʼn Toskaanse, Italiaanse voorkoms gehad daarom het hulle elemente gebruik soos die Pavlova, Pizza, Kersies, Skemerkelkies en ook Sjampanje. Gedrapeerde lap bring daardie moderne, maar ook baie stylvolle en dromerige voorkoms na die gestileerde fotosessie. Ons is mal oor die kleurskema wat in skakerings van diep rooie en skakerings van wit is.
Die bruid se trourok was asemrowend mooi. Ons is totaal en al versot op haar trourok se voorkoms wat so eenvoudig, maar tog so elegant is. Die manier hoe haar trourok so mooi vloei en perfek by haar pas is besonders mooi. Om haar voorkoms te komplimenteer het sy die mooiste wit handruiker gehad wat uit die mooiste pofferige wit blomme bestaan het. Die bruidegom het ʼn swart pak aangehad met ʼn strikdas en wit skoene, wat weereens daardie ontspanne, maar formele gevoel gegee het.
Die simplistiese twee sitplek tafel gevul met pragtige dun wit kerse en die kandelaar wat bo dit hang is verstommend mooi. Dit gee ʼn warm en baie romantiese atmosfeer en pas perfek by die tydlose gevoel van die fotosessie. Wit blom ontwerpe wat regdeur die fotosessie gesien kan word bring weereens daardie romantiese en sagte voorkoms te vore.
Om alles mooi af te rond was daar ook ʼn rooi outydse Mercedes-Benz wat deel gevorm het van die fotosessie. Die modelle het te mooi en deftig gelyk by die motor.
Rol af en geniet die pragtige foto’s wat Kreativ Photography & Film afgeneem het.
Wie het die fotosessie gereël?
Smitsfield en Kreativ Photography & Film.
Inspirasie agter die fotosessie:
Op ons troudag van 21 September 2024 by Smitsfield was dit yskoud en reënerig. Almal sal onthou dat dit seker die koudste dag van die jaar was en dit het regoor die land gesneeu. Kreativ Photography & Film was ons trou fotograaf. Hulle het op ons troudag voorgestel dat ons na die troue met beter weer terug gaan na Smitsfield om ons trou fotos te neem. Smitsfield het lank voor ons troue al met Kreativ Photography & Film gereël om ʼn inhoudsessie te doen. Met die dat ons trou fotos nog geneem moes word, het Smitsfield voorgestel dat hulle ons as die paartjie gebruik vir die inhoudsessie. Dit het ideaal uitgewerk dat Smitsfield ʼn inhoudsessie kon aanbied, wat die perfekte geleentheid geskep het. Ons kon terselfdertyd ons troufoto’s neem in hierdie pragtige omgewing.
Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?
Die diensverskaffers was gekies deur Smitsfield. Hulle was gekies as gevolg van die feit dat hulle al baie tevore sulke inhoudsessies gedoen het. Hulle het almal presies geweet watse tema Smitsfield wou uitbeeld – Timeless Romance. Kreativ Photography & Film en Skat Studios (blomme en dekor) het soortgelyke smaak in styl en elegansie, dus wou Smitsfield hierdie twee diensverskaffers vir die inhoudsessie gebruik.
Agter die skerms van die fotosessie:
Heel toevallig, het die inhoudsessie amper weer uitgereën, net soos ons troudag! Met die baie reën en koue wat ons ervaar het op ons troudag, was niemand weer lus vir koue en reën nie. Die inhoudsessie sou die 15de Oktober 2024 plaasgevind het, maar toe word daar baie reën en koue voorspel vir die dag. Dus moes die fotosessie uitgeskuif word na die 17de Oktober 2024.
Merkwaardigste deel van die fotosessie:
Die merkwaardigste deel van die fotosessie vir ons was die feit dat ons die beste dag van ons lewens, ons troudag, vir ʼn tweede keer kon ervaar. Ons het weer dieselfde trourok en troupak aangetrek vir die fotosessie by dieselfde trou venue, en dit het baie kosbare herinneringe teruggebring vir ons.
Dekor:
Die dekor was gekies deur Smitsfield en Skat Studios. Die dekor is gebaseer op die Timeless Romance tema wat ʼn Toskaans en Italiaanse gevoel meebring. Daarom is ʼn pavlova, pizza, kersies, skemerkelkies, sjampanje en moderne minimalistiese dekor op die tafels gebruik.
Kleurskema:
Ons troue se tema was swart en wit en omdat ons dieselfde kleredrag gebruik het vir die fotosessie, het Smitsfield en al die diensverskaffers dit goed gedink om die kleur rooi te gebruik, omrede rooi, wit en swart mekaar goed komplimenteer. Aanvanklik wou Smitsfield neutrale kleure gebruik het as die hoof kleure van die inhoudsessie deur ʼn wit vintage kar te gebruik vir die fotos in die fotosessie. Smitsfield kon slegs ʼn rooi vintage kar kry om te gebruik tydens die inhoudsessie. So het die hoofkleur van die inhoudsessie verander na rooi, wit en swart deur die rooi van kersies, rooi skemerkelkies, rooi kleure in die koeke en terte en die rooi kleur van die kar in te sluit.
Venue en Ligging:
Smitsfield is gekies as die plek vir die fotosessie omrede Smitsfield by hulle venue ʼn inhoudsessie wou doen as advertering vir hulle pragtige venue en sodoende uit te beeld wat hulle venue alles vir ʼn troue kan bied. Omrede ons troudag ook by Smitsfield plaasgevind het, was dit net ideaal gewees om weer terug te gaan na Smitsfield en daar ons trou fotos te neem waar ons getrou het.
Trourok en bruidegom pak:
Ons hele tema van ons troue was swart en wit. Alle gaste moes swart en deftig aantrek met ʼn kinkel om wit tekkies by hulle klere aan te trek. Die bruid en bruidegom is albei baie lief vir tekkies en het daarom gevoel hulle wil die troue uniek hê deur alle gaste te vra om hulle tema met wit tekkies te omhels.
Trourok en trou skoene is gekoop by Vonve Bridal Couture. Trourok was ʼn stylvolle wit swaar satyn rok met dramaties moue en ʼn lang sleë. In plaas van ʼn sluier het die bruid besluit op ʼn hoed wat gedien het as haar sluier om te pas by die moderne en dramatiese gevoel van de trourok.
Troupak was ʼn swart pak met ʼn swart onderbaadjie, swart strikdas, wit hemp en wit tekkies. Die bruidegom het ook die tema van wit tekkies omhels.
Advies aan toekomstige paartjies wat troue beplan:
Timeless Romance spreek vir dit self, deurdat dit ʼn tema is wat tydloos en elegant is. Die dekor is minimalisties, ultra modern en gee mee ʼn gevoel van liefde, en intimiteit wat gevier word in die mees oortreflike wyse wat die perfekte kombinasie van klassiek, elegant en “timeless romance weerspieël”.
Indien paartjies hierdie tema en inspirasie wil volg vir hulle troudag, is Smitsfield, Kreativ Photography & Film en Skat Studios die perfekte kombinasie om dit te laat realiseer.
ʼn Klassieke kar is ʼn unieke bydrae tot hierdie tema.
Jou troudag sal dan definitief tydloos en romanties wees!
- Fotograaf: Kreativ | Kontak
- Venue: Smitsfield | Kontak
- Blomme: Skat Studio | Kontak
- Dekor: Skat Studio| Kontak
- Grimering: Kreativ| Kontak
- Hare: Cheneé Steyn
- Koördineerder: Smitsfield| Kontak
- Skoene: Vonve Bridal Couture| Kontak
- Trourok: Vonve Bridal Couture| Kontak
- Bruid se Trouring: Lumen By Poggenpoel Diamonds| Kontak
- Troukoek: Meraki Cake & Patisserie| Kontak
- Videograaf: Kreativ| Kontak