Onder gesels ons met die talentvolle musikant, Jana van der Walt, van harpNOTED. Sy het vele musikale talente waarvan die harp net een is. Sy vertel ons meer hier onder oor die dienste wat sy kan bied en hoe haar besigheid begin het. Hierdie is beslis iets om ingedagte te hou as jy ‘n lekker atmosfeer wil skep by jou troue en nie die gewone agtergrond musiek wil gebruik nie!
Hoe het jou besigheid begin?
Musiek was nog altyd ‘n baie groot deel van my lewe deur verskeie platvorms. Die harp is een van my grootste passies in die lewe. Die besigheid het sonder beplanning ontstaan deur al hoe meer betrokke te wees by die musiek van troues en verskeie funksies of konserte. Dit was nie noodwendig ek wat beplan het om die besigheid te begin nie, maar die musiek wat “namens” my die besigheid gedryf het.
Watter tipes funksies tree jy op by en watter is jou gunsteling?
Ek tree gereeld by troues op. Die harp komplimenteer die atmosfeer van ‘n bruilofsdag so mooi. Ek tree ook op by verskeie formele etes, jaareindfunksies, huis-konserte, restaurante, werksfunksies en ensemble konserte. Dit is is my ongelooflik lekker om saam met orkeste te speel en by te dra tot een ongelooflike groot klank gevorm deur verskeie instrumente. Ek speel gereeld in orkeste regoor Suid Afrika, insluitend die Kaapse Filharmoniese Orkes op ‘n meer gereelde basis.
Watter dienste kan jy aan kliënte lewer?
Ek is geweldig lief daarvoor om saam met ander musikante te werk en altyd verwonder deur die musiek wat ons saam kan skep! Ek bied gewoonlik vir kliënte die opsie van solo harp, asook die moontlikheid om enige ander musikant of instrument van hul keuse toe te voeg.
Wat maak jou dienste uniek dat dit so gesog is onder kliente?
Ek glo dat elke kliënt presies die musiek moet kry waarna hulle soek. Hetsy dit ‘n uitvoering of agtergrond musiek is, klassiek of kontemporêr, formeel of meer informeel. Meeste musikante het ‘n vaste pakket, kombinasie van musikante en styl van musiek wat hulle verkies. Ek geniet egter nuwe uitdagings met vars idees vir unieke funksies. Mens moenie bang wees om te eksperimenteer met verskillende style, instrument kombinasies en nuwe idees nie. Ek glo dit is wat my dienste en musiekspel uitsonderlik maak.
Tree jy landswyd op vir funksies?
In beginsel ja! Vir uitvoerings in ander provinsies sal kliënte egter gewoonlik aangeraai word om ‘n harp te huur vir die uitvoering. Dit baie moeilik is om so groot instrument te vervoer. Dit is egter baie spesifiek vir elke situasie.
Tree jy op met ander instrumente ook?
Ek is baie lief daarvoor om met ander musikante te werk. Dit is baie stimulerend om elkeen se verskillende idees en talente te kombineer. Ek speel onderskeidelik op ‘n vaste basis met ‘n sangeres en tjellis wat huidiglik my gunsteling kombinasie saam met die harp is. Kliënte is egter welkom om hulle eie kombinasies met die harp saam te stel. Hulle kan kies uit ‘n wye reeks instrumente, soos onder andere klassieke kitaar, viool, fluit, kontrabas, klarinet, cajon, horing en verskeie ander.
Artikel Krediet
- Fotos verskaf deur harpNOTED