Mooi Troues se lesers kan elke maand ons 12-stap troubeplanning advies reeks volg wat jou stap vir stap deur die beplanningsproses help. Deur alles in kleiner dele op te breek, raak die troubeplanning sommer meer hanteerbaar en heelwat minder oorweldigend.
Om ’n troue te beplan kan stresvol wees, veral as julle ’n selfdoen troue wil hou. Met hierdie opvolg reeks help Mooi Troues jou om die proses eenvoudiger en meer bekostigbaar te maak. Klik hier vir nog advies artikels.
In ons vorige artikel, die vyfde van die twaalf maande, het ons gesels oor die bespreking van belangrike diensverskaffers. Teen dié tyd behoort julle al ’n goeie idee te hê van wie julle wil gebruik, en die beplanning behoort stadigaan bietjie meer struktuur te kry.
As julle nog nie alles van die vorige artikels afgehandel het nie, moenie stres nie en werk rustig teen julle eie pas. Hierdie reeks is ’n riglyn om jou troubeplanning oor ’n jaar uit te versprei, maar ons weet nie alle paartjies volg dieselfde tydlyn nie, en dit is heeltemal reg so.
Vir ons sesde artikel van die 12-stap troubeplanning advies reeks, rol af.

Wat jul teen die tyd moes gedoen het:
As julle nog nie begin beplan het nie, moenie stres nie. Daar is altyd genoeg tyd, dit beteken net julle moet meer fokus en aandag gee oor ’n korter tydperk.
Onder is ’n riglyn van min of meer wat jul teen nou al moes gedoen het:
• Die Begroting moet nou al gefinaliseer wees, sodat julle weet waarop wat spandeer kan word.
• Trou Datum van julle troue moet definitief vasgestel wees. Sonder datum kan niks bespreek word nie.
• Venue vir jul troue moet teen die tyd al bespreek wees. Onthou deposito en lees die kontrak noukeurig.
• Bekende Trou Diensverskaffers moet teen nou al bespreek wees.
• Fotograwe en Videograwe moet bespreek wees.
• ʼn Idee van die dekor styl en algehele trou styl.
• Julle troue moet al verseker wees.
• Finaliseer die gastelys van buitelandse gaste.
• Finaliseer trourokke en bruidegom se pak.
• Platejoggie, klank en musiek moet al bespreek wees.
• Finaliseer verblyf opsies vir gaste.
• Maak kortlys van dekor items vir huur.
• Finaliseer die troukoek.
• Beplan en bespreek die wittebrood.
• Begin met repetisie aandete planne.
• Trou skryfbehoeftes ontwerper moet bespreek wees.
• Save-the-Date kaartjies moet uitgestuur wees.
• Grimering en haarstyl proeflopies moet bespreek wees.
• Lys van dinge om te doen vir buitelandse gaste.
• Verlowing fotosessie moet bevestig wees.
• Vervoer vir jul trou gaste moet bespreek wees.

Seremonie Besonderhede:
Begin belangrike detail bespreek oor julle seremonie. Dink aan dinge soos julle geloofsoortuigings, familie tradisies en natuurlik julle geloftes. Hierdie elemente vorm die hart van julle klassieke seremonie en maak dit persoonlik en betekenisvol. Daar is soveel om aan te dink wanneer dit by die seremonie kom, daarom is dit belangrik om vroeg reeds saam te sit en alles rustig deur te praat.
- Wil julle ’n formele of meer informele seremonie hê?
- Gaan dit ’n kleiner, intieme liefdesviering wees?
- Wie gaan julle trou en watter rol speel geloof in die seremonie?
- Wil julle die seremonie by julle perfekte venue hou of op ’n ander ligging?
- Moet al julle trou gaste die seremonie bywoon?
Deur hierdie besonderhede vooraf te bespreek, skep julle ’n seremonie wat eg voel en onvergeetlike oomblikke vir julle en jul gaste bied.

Ontmoet met julle huweliksbevestiger:
Ontmoet julle huweliksbevestiger teen nou, want hulle kan waardevolle idees gee om die seremonie meer spesiaal en persoonlik te maak. Bespreek die fynere besonderhede, sodat julle as paartjie weet wat waar gebeur en hoe alles verloop. Die seremonie is die mees emosionele deel van die troudag en dra herinneringe wat vir altyd sal bly.

Kies die persone vir spesifieke rolle:
By elke troue is daar verskeie belangrike rolle wat deur mense naby aan julle harte vervul word. Dit sluit onder andere die strooimeisies en strooijonkers, inluiers, die seremoniemeester en ander helpers in wat met praktiese take sal bystaan.
Begin deur ’n lys te maak en name langs elke rol te plaas, sodat julle elke persoon persoonlik kan vra of hulle gemaklik is om die rol te vervul. Dit is ’n spesiale gebaar en ook ’n verantwoordelikheid, daarom is dit belangrik om mense te kies wat betroubaar is en die gaste-ervaring sal help dra.
Moet egter nie aanvaar dat iemand outomaties ja sal sê nie. Elke persoon hanteer stres en verantwoordelikhede verskillend, veral op so ’n emosionele dag. Respekteer hulle antwoord en kies wat vir almal die gemaklikste voel, dit dra by tot ’n meer ontspanne en stylvolle troue.

Begin met jul danslesse:
As julle nie kan dans nie, begin vroeg met danslesse. Dit is die perfekte tyd om pret te hê en seker te maak julle is gemaklik op die dansvloer. Julle hoef nie professionele dansers te wees nie, maar moet genoeg vaardigheid hê om die dansvloer met selfvertroue oop te maak.

Werk aan jul musiek keuses:
Musiek speel ’n groot rol in die atmosfeer en gaste-ervaring van julle troudag. Begin vroeg om ’n duidelike musiek lys saam te stel wat die gevoel van julle romantiese troue weerspieël. Dink mooi oor elke oomblik waar musiek ’n rol speel en hoe julle wil hê dit moet voel.
Maak ’n lys van liedjies vir:
- Die oomblik wanneer julle die onthaal lokaal binnekom, dit skep dadelik die toon vir die aand.
- Jul eerste dans as bruid en bruidegom – ’n tydlose herinnering wat altyd spesiaal sal bly.
- Agtergrond musiek tydens ete, sodat gaste gemaklik kan gesels.
- Sagte musiek of instrumentele klanke tydens toesprake, sonder om aandag af te lei.
- Energievolle musiek vir die dansvloer en algemene atmosfeer deur die aand.
Besluit ook of julle gaste die geleentheid gaan kry om ’n paar liedjies te versoek. Dit maak die ervaring meer persoonlik en interaktief. Klik hier vir gratis liedjie versoek kaartjies wat gaste kan gebruik sonder om die platejoggie heeltyd te pla.
Die laaste ding wat julle wil hê, is stil oomblikke of tegniese probleme wat die vloei van julle elegante onthaal breek. Kies daarom ’n betroubare, professionele platejoggie wat weet hoe om die energie van die aand te lees.

Artikel Krediet:
- Foto’s: Pexels
- Artikel: Mooi Troues

