Renaldo en Angelique se moderne herfs troue kombineer styl en geselligheid met aardse elemente, unieke detail en pragtige herfs inspirasie.
Angelique se trourok was vir ons besonders mooi en perfek gepas vir hul herfs troue. Die rok was eenvoudig, maar ongelooflik stylvol, met net genoeg fyn detail en vloei om ’n elegante voorkoms te skep. Die pofferige moue het ’n tikkie drama bygevoeg en ook daardie bietjie ekstra warmte gebied vir die koeler herfsseisoen. Haar strooimeisies het pragtig gelyk in hul wynrooi uitrustings, terwyl Renaldo dapper en stylvol vertoon het in sy donkergroen pak, gekombineer met ’n donker wynrooi das en bruin skoene.
Die paartjie se onthaal is ingerig met ’n moderne, simplistiese styl, aangevul met aardse elemente soos houttafels en pragtige gedroogde blom ontwerpe. ’n Besonder oulike detail vir ons was die speletjies wat by die troue ingesluit is en kreatief geïntegreer is in hul skryfbehoefte ontwerpe. Nog ’n hoogtepunt was die klank-gasteboek, waar gaste spesiale boodskappe kon los.
Lang tafels, gedek met wit doeke waarop die spyskaart direk opgedruk is, het aan die onthaal ’n interessante en feestelike gevoel gegee. Die subtiele swart aksente wat gesien kon word in die borde, lanterns en blompotte het ’n deftige atmosfeer geskep en perfek by die moderne tema gepas. Die paartjie het ook ’n vonkelwyntoring gehad wat een van ons gunsteling troue elemente is! Daar is net iets besonders pret aan ’n vonkelwyntoring.
Trou julle binnekort? Besoek ons aanlyn trougids vir professionele trou diensverskaffers om julle groot dag perfek te maak. Rol af om meer te lees oor Renaldo en Angelique se liefdesreis.

Trourok:
My droom was om my trourok saam met my ouma te maak – haar gesondheid het dit egter nie toegelaat nie en ons moes alternatiewelik iemand opspoor om my te help. Ek wou graag hê dat my trourok spesiaal, asemrowende en ‘n unieke skepping moes wees wat wat elegansie, romanse en persoonlike uitdrukking perfek kombineer. So het ek afgekom op Micayla wat my gehelp het in Potch.
Silhoeët en Lengte:
Die rok het ʼn A-lyn silhoeët met ʼn vloeiende, vloerlengteromp wat dit ʼn dromerige, romantiese voorkoms gee. Vir die seremonie het die ek ʼn sprankelende, verwyderbare oorromp gedra, wat ekstra volume en daai wow-faktor gegee het. Later het ek die gaste en my man verras, want die rok verander in ʼn ligter, meer elegante rok met ʼn lang reguit maar vloeiende spleet romp, vir die aand en om te kan gemaklik dans (met arial lifts).
Materiaal en Detail:
Gemaak van liggewig, vloeiende materiale soos tule en chiffon, laat die rok beweging en dans toe. Dit bevat handewerk vir die krale en pêrels, met blom-geïnspireerde borduurwerk wat die skoonheid van die natuur en lelies weerspieël.
Moue:
Die moue is ʼn uitstaande kenmerk: deursigtige, golwende, verwyderbare biskop-styl moue met blommotiewe op die binneste laag. Hierdie dramatiese moue voeg ʼn romantiese en eteriese aanraking by, wat die rok veelsydig in styl maak- grasieus en elegant.
Halslyn en Lyf:
Die lyf het ʼn diep V-halslyn met delikate skouerbandjies. Dit is gepas en ryklik gedetailleerd met kant-applikasie en handkralewerk, asook ‘n oop rug en splete aan die kante van die bo-lyf – sagte net met krale versprei daarop wat lyk soos sterre in die hemelruim.
Kleur: Wit, wat suiwerheid, maagdskap en die Heilige Verbond wat voor God gemaak word, simboliseer.
Algemene Styl en Simboliek:
Die rok vang die bruid se persoonlikheid pragtig vas: kreatief, gegrond en vol lewe.
Oorsprong:
Ontwerp en handgemaak in Oekraïne deur Mary Angel Sposa. Gekoop by Cayla’s Bridal Boutique in Potchefstroom, Suid-Afrika.

Paartjie se Verlowing:
Na ʼn besoek aan die Emergency Room na ʼn lugballon insident waar ons op set-up crew gehelp het, en ek byna al my vingers amper verloor het – verloop ʼn week in pyn met verbinde vingers. So beplan Renaldo toe om my vanuit Potch te ry na my ouers in Vanderbijlpark, waar my ma my kan versorg en help.
Hy beplan toe egter ook ʼn ander bestemming vir die dag daarna, met my ouers se instemming dat hy mooi na my sal kyk. Ek slaap lekker op die passasiers sitplek met die sterk pynpille wat ek moes gebruik, terwyl hy bestuur- ek met die indruk dat ons ʼn plek in Gauteng gaan besoek. Die volgende oomblik toe ek wakker word, sien ek ons is by ʼn vulstasie in Petrusteyn van alle plekke – VRYSTAAT ! Ons gaan nie na die plaas in Bethlehem toe nie? My ouma en oupa het dan al getrek… Waarheen gaan ons dat ons so ver ry ? Weer aan die slaap met vertroue dat die avontuur goed sal uitdraai. 🙂
Die groot vraag:
So eindig ons met sonsopkoms bo op die Drakensberge by Witsiehoek. Met ʼn asemrowende uitsig vol wolke wat dans in die ryk kleurige lig en geen ander mense in sig – gooi Renaldo ʼn kombers oop op die groen gras bedek met klein wit berg blommetjies. Hy het reeds ʼn piekniek mandjie gepak vol heerlike kos en sjampanje waaraan ons smul in die vroeë môreson. Dit was die perfekte plek, die perfekte oomblik.
Renaldo het my in die Drakensberge uitgevra in 2023 by Gudufalls en later in Mei 2024 het ons na die Tugela Falls gehike saam met vriende. Dis op daardie hike waar ons almal lag en sê dit sal die perfekte plek wees vir ʼn verlowing ! En siedaar – hier sit ons toe op die berg einde 2024. Renaldo het op sy knieg gegaan met die ringboksie in sy hand en my gevra om te trou. Natuurlik kon ek nie die ring al dra met al die vingerverbande nie, maar JA was my antwoord beslis. So deel ons toe ook ons eerste soen in die Here se natuurprag. Na ontbyt reis ons toe terug deur die Golden Gate Natuur reservaat en Clarens op pad huiswaarts.

Verloof- en Trouringe:
My verloofring was silwer, elegant en fyn met 3 steentjies (verwysend na die 3-enige God – Vader, Seun, Heilge Gees).
Ons trou ringe was vanuit dieselfde goud gemaak – met beide dieselfde patroon. My ring was fyn en het dele wat inmekaarvleg met 5 stene rondom versprei – soos ʼn kroon wat op Jesus se kop was. Renaldo se ring was groter met ʼn donker grys soliede band buite en dieselfde goue kroon patroon bo-op die grys – die binnekant van sy ring ook heeltemal goud met die kroon patroon uitgekerf daarin. My ring pas perfek binne in daardie uit gekerfde groewe van sy ring soos wat ons dan ʼn eenheid vorm. Dit simboliseer dat Renaldo die koning van ons huis is, en ek sy kroon, maar met Jesus as ons huweliks fondasie – dat ons altyd eers na Hom moet kyk om te weet wat ware liefde is en vanuit daardie harts-posisie mekaar kan liefhê op die regte manier.

Trou Dekor en Styl:
Hoof kleurskema:
Die strooimeisies in wynrooi rokke, wat die bloed van Christus verteenwoordig en vergifnis voorstel. Renaldo in groen, wat vernuwing, groei en eenheid simboliseer. Angelique in wit – reinheid en heiligheid.
Die kleurpalet en dekor vir die dag was beide eenvoudig en diep:
ʼn Balans van herfs warmte en pastel sagtheid in gaste se kleredrag. Swart-en-wit minimalistiese dekor gepak op muurpapier (die geregte se details daarop geteken met koki-pen). Hout tafels wat vir ʼn tapas-fees met kerse en lanterns gedek is, het ʼn verwelkomende familie-atmosfeer geskep en eenvoudige droë plante soos bunnytails, oats en gekleurde takkies.

Trou Begroting en Beplanning:
Die paartjie het hul troue self beplan oor ’n tydperk van ses maande, met ’n trou-begroting van R200 000. Die intieme viering is bygewoon deur 70 gaste, wat bygedra het tot die warm en persoonlike atmosfeer van hul spesiale dag.

- Fotograaf: Tales of Light Photography | Kontak
- Venue: The Nut Farm | Kontak
- Bruidegom-pak: Sedgars | Kontak
- Dekor: A&E dekor| Kontak
- Fotohokkie: Backdrop and Decor Hub| Kontak
- Gaste Geskenke: Live Cartoon Portraits| Kontak
- Grimering: Micaela Benn Make-Up| Kontak
- Hare: Hairtrends Salon (Zelmari Snyman)| Kontak
- Huwelik kontrak: Matthys Coetzee Attorneys| Kontak
- Huweliksbevestiger: Hendri Hofmeyr (Every Nation Faith City)| Kontak
- Koördineerder: The Nut Farm – Lara| Kontak
- Kroegdiens: The Nut Farm| Kontak
- Musiek: Predzyl Band – Eduan & Zylia Naude| Kontak
- Paartjie se verblyf: Migdash Guesthouse| Kontak
- Strooijonkers bykomstighede: Mr Price
- Spyseniering: The Nut Farm| Kontak
- Strooimeisie-rokke: Shein
- Trourok: Cayla’s Bridal Boutique| Kontak
- Troukoek (Kolwyntjies): Tannie Alta Poolman| Kontak
- Videograaf: Dearest Darling| Kontak
- Wittebrood Plek: Zuidste Gemak| Kontak
