Ewald & Mia se Troue in die Vrystaat met ʼn Bosveld Styl

Ewald en Mia se elegante troue in Bloemfontein het ’n luukse bosveld-atmosfeer uitgestraal. Paartjies wat op soek is na trou inspirasie, is hierdie troue beslis iets wat jy nie wil misloop nie! Ons is heeltemal verlief op hul pragtige kleurskema en stylvolle detail. Hulle troue het ’n betowerende safari-gevoel gehad, veral met die oulike groen Land Rover wat deel van hul groot dag was en daardie unieke, persoonlike tikkie bygevoeg het.

Die trou venue was elegant versier en het gaste laat voel asof hulle na ’n ander wêreld gereis het. Die gebruik van wit drapering en verskillende teksture het onmiddellik ’n gevoel van luuksheid geskep. Drapering met sorgsaam gekose materiale is tans baie gewild en kan ongelooflik mooi lyk wanneer dit professioneel gedoen word.

Ons is smoorverlief op die pragtige blom ontwerpe regdeur die onthaalruimte. In warm herfskleure het die blomme ’n perfekte kontras geskep teen die wit tafeldoeke en dekor. Kandelare met sagte, warm lig, saam met die blomme se kleurskema en kerse, het ’n gesellige en elegante atmosfeer geskep. Die wit tafeldekor met subtiele goue elemente in die eetgerei het letterlik elegansie uitgestraal.

Mia het asemrowend gelyk in haar elegante trourok met fyn, delikate detail en groot, vloeiende riffels aan die agterkant. Haar wit handruiker was saamgestel uit verskillende sagte blomsoorte wat haar voorkoms perfek afgerond het. Ewald het ewe stylvol voorgekom in sy ligte troupak, met ’n klassieke swart strikdas wat die formele gevoel voltooi het.

Rol af om meer te lees oor hierdie pragtige paartjie se liefdesreis en hul dromerige troudag.

Trourok:


Van die begin af het ek ʼn idee gehad van wat ek sal van hou, maar was oop vir enige iets. Saam met my ma en sussie het ons by verskeie trourok-winkels rokke gaan aanpas, wat ’n heerlike ervaring! Hoewel ek nie die een rok gekry het wat my hart dadelik laat sê het Dis die een! nie, het ek besluit om eerder my droomrok te laat maak.

Stylvolle en elegante ontwerpe het nog altyd my hart vinniger laat klop, en tydens my eerste konsultasie met Zoureka is my verwagtinge ver oortref. Met hope idees in my kop het ek alles met haar gedeel, en haar terugvoer was eenvoudig ongelooflik. Sy het met soveel raad, geduld en kreatiewe voorstelle gehelp om my droomrok tot lewe te bring.

Die materiaal was regtig die hart van die rok. Ek het self gaan soek, deur rolle en rolle materiaal, op soek na iets besonders. Na ʼn lang dag se soekery, het ons uiteindelik dié spesifieke lap raakgeloop. Toe ek dit in die winkel oor my skouers drapeer, het ek onmiddellik geweet: dít is dit.
Die rok self het ’n eenvoudige V-nek ontwerp, terwyl die lap, met sy fyn kralewerk, die ware fokuspunt was.

My gunsteling deel? My rok het ʼn romp gedeelte gehad wat mens dan later die aand kan afhaal. Die romp het ‘n sagte, elegante flair aan alles gegee het. Vir my was dit die perfekte rok en ek is so dankbaar dat ek iemand soos Zoureka gehad het wat elke detail presies vasgevang het soos ek dit in my gedagtes gesien het.

Paartjie se Verlowing:


Ons verlowingsdag was alles en méér. My man het aan elke detail gedink om die dag só spesiaal vir my te maak. Alles en almal vir wie ek lief is, was deel van hierdie kosbare oomblik.

Net so ’n bietjie agtergrond: ek en Ewald is hoërskoolliefdes. Ons was saam vanaf einde graad 10 en dit het beteken dat ons mekaar al deur en deur geken het teen die tyd dat hy my gevra het om te trou. Ek is ’n nuuskierige mens van aard en het ek altyd gedink ek sou presies weet wanneer hy my sou vra. Maar dié keer het hy my heeltemal verras. Ek het glad niks vermoed nie, nie eers ’n bietjie nie.

Die Groot Vraag:

Ons verlowing was ongelooflik spesiaal. Ewald het gereël dat ons, saam met albei ons families, vir vadersdag by Brandkop Plaas in Bloemfontein gaan middagete eet. Omdat dit Vadersdag was, was ek nie vir ʼn oomblik agterdogtig nie.

Toe ons by die plaas aankom, het almal soos gewoonlik normaal opgetree en ek het geen leidrade opgetel nie. Ewald het my egter op ’n stadium eenkant toe geneem en gesê hy wil hê ek moet na iets luister wat hy vir my wil sê. Ek het sonder enige agterdog ingestem.
Ons het begin stap in die rigting van die tuin… en toe sien ek dit: roosblare wat op die grond uitgestrooi was. Daar was ook die mooiste blomme rangskikking in die vorm van ʼn boog. Op daardie oomblik het ek geweet, hier kom dit nou.

Ewald het op een knie gegaan en my gevra om met hom te trou. Ek het van opgewondenheid geskree, hom styf vasgedruk en natuurlik JA gesê! Trane van blydskap het oor my wange gerol. Dit was ’n oomblik wat ek vir altyd in my hart sal bêre, een van die mees spesiale dae van my lewe.

Verloof- en Trouringe:


Ons trouringe is vir ons ongelooflik besonders. My verloofring is ’n goue ring met ʼn oval diamant met ’n “hidden halo” en klein steentjies op die band. Ons het saam na die juwelier gegaan en die ring self ontwerp, wat dit nóg meer betekenisvol maak. My trouring pas perfek daarby. Dit is ook van goud, met klein ovaal diamantjies wat die ontwerp pragtig aanvul en die twee ringe soos een laat voel. My man se ring is ’n moderne en unieke Carbon Fibre ring, swart in die middel met ’n fyn silwer rand aan beide kante, wat dit ’n tydlose en stylvolle voorkoms gee.

Trou Dekor en Styl:


Ons troue was regtig net ’n droom wat waar geword het! Omdat ons altwee mal is oor die bosveld, wou ons daardie gevoel van natuur en eenvoud in ons groot dag inbring.

Die algehele kleurpalet het bestaan uit ’n kombinasie van herfs- en aardse kleure van wit, room, cappuccino, bruin met goue aksente. Linne materiale het regdeur die venue verskyn en ’n sagtheid en organiese gevoel geskep. Die dak was met vloeiende linne-draperings oorlaai, dit het gevoel soos ’n magiese bosveld-nag onder die sterre Die tafels was minimalisties, maar pragtig, met krismisrose as blommerangskikkings, terwyl die bruidstafel dramaties versier was met ’n reuse rangskikking van vars én droë blomme in ons kleure.

Ons het ook baie self gedoen en DIY-elemente ingebring, wat ’n persoonlike en unieke stempel op die dag gelê het. Ná die troue het ons ons wittebrood in Italië deurgebring, en omdat ons dit met ons geliefdes wou deel, het ons selfgemaakte Limoncello gemaak en vir elke gas ’n klein botteltjie as herinnering gegee.

Die dress code was black-tie en al die gaste moes swart aantrek. Dit het ’n ongelooflike elegante kontras geskep teenoor die natuurlike dekor en dit het die hele viering ’n tydlose en stylvolle karakter gegee.

Trou Begroting en Beplanning:


Hulle het hul troue self beplan oor ’n tydperk van tien maande en het daarin geslaag om elke detail perfek te maak binne ’n begroting van ongeveer R250 000. Met 115 gaste wat saam hul spesiale dag gevier het, was dit ’n intieme, stylvolle en persoonlike viering wat hul unieke liefdesverhaal mooi weerspieël het.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: