Frans en Alisha se stylvolle tuin troue in Centurion was ʼn dag vol warmte, geselligheid en onvergeetlike oomblikke. Die paartjie is reeds aan lesers bekend ná hul romantiese piekniek verlowing fotosessie wat vroeër op Mooi Troues gedeel is. Hierdie keer het hul groot dag die kollig gesteel met ʼn atmosfeer waar vreugde en romantiek saamgesmelt het.
Die seremonie en feesviering was gevul met kleurvolle besonderhede. Alisha se strooimeisies het helder rokke gedra wat ʼn vrolike kontras geskep het teenoor die natuurlike tuin, met handruikers wat perfek by die uitrustings gepas het. Sy self het asemrowend gelyk in haar trou rok met ʼn groot wit handruiker wat klassieke elegansie uitgestraal het. Frans en sy strooijonkers se tydlose swart pakke het ʼn kragtige balans gebring teenoor die kleurvolle gevolg.
Die huweliksbeloftes is gemaak in die venue se welige tuin, waar groen grasperke en blomryke plantegroei ʼn rustige atmosfeer geskep het. Intiem én feestelik, het geliefdes die paartjie omring in ʼn gees van liefde en samehorigheid. Ná die seremonie is hul fotosessie vasgevang in die sagte sonsaklig, wat die foto’s ʼn romantiese en tydlose gevoel gegee het.
Die onthaal was net so elegant. Lang houttafels met wit tafellopers en glas onderborde het ʼn stylvolle basis gevorm. Kleurvolle blom ontwerpe en wit Tiffany-stoele die vrolike, verfynde tema voortgesit het.
Mighty Fine Weddings het die dag op film vasgevang, en die video straal die vreugde en liefde uit wat die hele geleentheid deurdrenk het.

Trourok:
My trourok was op maat gemaak, ‘n trompet styl trourok met ‘n dalende neklyn, knope halfpad agter af. Die trourok sleep was medium lengte, en ek kon dit vas knoop vir die dansvloer. Toe ek die lap sien het dit my aan die Gatsby-era laat dink, geborduur in glinsterende krale in ‘n geometriese patroon.

Paartjie se Verlowing:
“Ons verlowing was soos iets uit ’n storieboek – letterlik. Ek het ’n storie vir Alisha geskryf en die hoofstukke weggesteek op spesiale plekke in Pretoria waar ons mekaar beter leer ken het tydens ons hofmaaktyd. Elke plek het ’n skat onthul oor wie sy is, en hoekom ek my lewe saam met haar wil deel. Die laaste leidraad het haar gelei na die Pretoria Botaniese Tuine, waar ek onder ’n boom vir haar gewag het met ’n piekniek. Daar het ek op een knie gegaan en haar gevra om met my te trou. Sy was in trane – ek ook – en sy het met die grootste glimlag en warmste drukkie ‘ja’ gesê. Dit was ’n oomblik van pure vreugde vir ons albei.”

Verloof- en Trouringe:
Ons het saam die verloofring ontwerp, dit is ‘n trilogie ring deur Louie Daniele. Die ring is geelgoud met drie ronde diamante met die middel diamant wat die grootse is. Die ring verteenwoordig God se drie-eenheid asook ons huwelik met die Here as die middelpunt. Binne in die verloofring is die Louie Daniel gratis diamant, die “0C”, aan paartjies wat ‘n verbondshuwelik aangaan. Hierdie diamant is bedoel as ‘n simbool van eenheid en seën.
Ons troupante is altwee eenvoudige geelgoud pante met “I Choose You” binne in gegraveer, dit verwys na Johannes 15:16 waar Jesus se dat Hy ons eerste gekies het, en dit is om ons vir altyd te herinner dat ons liefde vir mekaar uit Jesus se liefde vir ons oorvloei. “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.”

Meer oor Mighty Fine Weddings:
Mighty Fine Weddings is ʼn geliefde trou fotografie en videografie span gebaseer in Pretoria, wat reeds regoor Suid-Afrika paartjies se mooiste liefdesverhale vasgevang het. Hulle neem nie net pragtige foto’s nie, hulle help om herinneringe te bou wat ʼn leeftyd hou. Met ʼn passie vir troues en ʼn oog vir detail, sorg Mighty Fine Weddings dat elke oomblik van jou groot dag met styl en emosie vasgelê word. Hul professionele benadering en warm persoonlikheid maak die ervaring glad, natuurlik en stresvry. Kies Mighty Fine Weddings om jou unieke liefdesverhaal in tydlose foto’s en video’s te bewaar.

Trou Dekor en Styl:
Ons kleurtema dra diep simboliek en is gegrond in ons verstaan van die huwelik soos God dit ontwerp het—’n beeld van Christus se verhouding met Sy bruid, die Kerk.
Jy mag dalk opgemerk het dat baie gaste, insluitend die bruidegom se gevolg, vandag swart dra. Al voel dit aanvanklik ernstig of somber, simboliseer swart die afsterwe van die self—soos waartoe ons geroep is in ons verhouding met Christus en nou ook in die huwelik. Dit herinner ons aan die selfopofferende liefde en onbaatsugtigheid wat die huwelik vra—om jouself neer te lê vir die ander, soos Jesus Sy lewe vir ons gegee het.
Die strooimeisies dra kleure wat geïnspireer is deur die sonsopkoms. Hierdie kleure simboliseer die nuwe begin wat volg op oorgawe en donkerte. Die sonsopkoms herinner ons aan daardie oomblik toe God gesê het: “Laat daar lig wees.” Dit is ’n prentjie van hoop, groei, opstanding en ’n nuwe seisoen—’n lewe wat in God se lig en beloftes gebou word.
Frans dra groen, wat verwys na die boom geplant by lewende water, soos beskryf in Jeremia 17:8. Groen simboliseer lewe, vrugbaarheid, standvastigheid en geworteldheid—’n man wat in God geplant is, nie vrees vir droogte nie, en voortdurend vrug dra.
En ek, die bruid, dra wit—’n kleur wat in die Bybel reinheid, geregtigheid en oorwinning simboliseer. Dit verteenwoordig die verlossing wat ons in Christus het, en die vreugde en goedkeuring van God oor ’n verbond wat Hom eer. Openbaring 19:8 beskryf die bruid in fyn, blink wit linne—dit was ons inspirasie en hart agter hierdie oomblik.
Saam vertel hierdie kleure ’n storie: van dood na lewe, van oorgawe na vreugde, van duisternis na sonsopkoms, en van gebrokenheid na verlossing. Hierdie dag is nie net ’n troue nie—dit is aanbidding.

Trou Begroting en Beplanning:
Die paartjie het ʼn intieme troue met 55 gaste gehad en ʼn stylvolle dag binne ʼn begroting van R140,000 beplan. Met slegs vier maande se beplanningstyd is elke detail perfek uitgevoer, danksy die kundigheid van ʼn toegewyde troubeplanner wat seker gemaak het dat alles glad en sorgvry verloop.

- Fotograaf: Julian van Niekerk Photography | Kontak
- Venue: Kleinkaap Boutique Hotel | Kontak
- Blomme: Bella Vista – Maryna Le Roux | Kontak
- Bruidegom-pak: Your Pal | Kontak
- Dekor: Kleinkaap Boutique Hotel | Kontak
- Grimering: Lynette van Zyl| Kontak
- Hare: Lynette van Zyl| Kontak
- Koördineerder: Kleinkaap Boutique Hotel – Wendy Hattingh| Kontak
- Musiek: AV Select (Pty) Ltd – Anthony Jenkinson| Kontak
- Paartjie se verblyf: Kleinkaap Boutique Hotel | Kontak
- Trourok: Mimie Bridal Atelier| Kontak
- Bruid se Trouring: Gold of Africa – Neels Beukes| Kontak
- Bruidegom se Trouring: Gold of Africa – Neels Beukes| Kontak
- Troukoek: The Cake Bakery| Kontak
- Videograaf: Mighty Fine Productions| Kontak

