Baie geluk met julle verlowing! Dit is ’n ongelooflik opwindende mylpaal in paartjies se liefdesreis. Jul wonder seker: “Wat nou? Wat is die volgende stap?” Dis presies dieselfde vraag wat baie paartjies aan ons hier by Mooi Troues vra.
Sommige paartjies raak só oorweldig dat hulle onmiddellik in die troubeplanning inspring, sonder om eers hierdie kosbare oomblik ten volle saam te geniet. Wanneer jou geliefde jou vra om te trou, staan die wêreld as’t ware stil! Dit is ’n herinnering wat vir altyd by julle gaan bly. Geniet elke sekonde, haal asem, en wees net saam in die oomblik.
Ná die groot verrassing kan die opwinding vinnig oorweldigend voel, veral sodra julle begin om die nuus met ander te deel. Almal gaan vra hoe dit gebeur het, waar dit was en hoe jy gevoel het. Maak dus gereed om die storie oor en oor met dieselfde glimlag te vertel!
Om dinge makliker te maak, het ons ’n paar eenvoudige stappe saamgestel wat julle kan volg ná jul verlowing. Onthou, dit is slegs ’n riglyn en elke paartjie kan hul eie pad stap. ’n Lekker moderne manier om die nuus te deel, is byvoorbeeld ’n kort video van die groot oomblik saam met ’n vinnige storie van hoe en waar dit gebeur het.
Blaai gerus verder om uit te vind watter eerste stappe julle kan neem en deel hierdie artikel met ander paartjies wat ook onlangs verloof geraak het, sodat almal ’n stresvrye verlowing periode kan geniet.

Neem ʼn ring foto en “selfie” saam met jou verloofde:
Vang die vreugde van die oomblik vas! ’n Spontane selfie van julle twee as nuut verloofde paartjie sal altyd ’n kosbare herinnering bly. As ’n fotograaf of videograaf reeds daar was, nóg beter. Hierdie eerste foto is ook handig om vinnig met nuuskierige familie en vriende te deel.

Deel die nuus met jul ouers, familie en vriende:
Tel die selfoon op en bel die mense wat die belangrikste vir julle is. Indien jou verloofde reeds mense betrek het om jou te verras, geniet die viering saam. Dit is ’n baie spesiale oomblik wat met liefde en vreugde gedeel moet word.

Verseker julle verloofringe so spoedig moontlik:
Ons weet dit is nie die mees romantiese stap nie, maar dit is noodsaaklik. Laat jou ring so gou moontlik verseker, sodat jy gerus kan wees indien iets sou gebeur. Die beste is om dit sommer by die juwelier te doen wanneer jy die ring gaan haal.

Laat pas jou verloofring by die Juwelier:
Omdat verlowing ringe dikwels as verrassing ontwerp word, gebeur dit gereeld dat die grootte nie perfek is nie. Moet dus nie stres nie! Jou juwelier sal vinnig die nodige aanpassings maak sodat dit perfek pas.

Neem ʼn oomblik of reël ʼn romantiese wegbreek:
Voor julle dadelik in die troubeplanning duik, neem tyd vir net julle twee. Selfs ’n kort wegbreek kan waardevol wees om die verlowing te vier, die nuwe reis te besin en rustig saam die volgende stappe te bespreek.
Na julle stil oomblik of romantiese wegbreek kan julle stadig begin dink aan jul trou reëlings. Jul kan gerus bietjie rondkrap op Mooi Troues se webblad vir trou advies en –inspirasie van regte troues.

Begin met die eerste stappe van jul trou reëlings:
Na julle oomblik van stilte of ʼn romantiese wegbreek, nou kan julle begin met jul troubeplanning. Mooi Troues skryf gereeld advies artikels vir paartjies wat besig is om hul troue te beplan. Ons trougids is gevul met fantastiese trou diensverskaffers wat jou visie vir jou troue ʼn realiteit sal maak.
Om die begin van jul trou beplanning proses te vergemaklik, het ons so ʼn paar punte hieronder gelys waaraan julle solank kan dink.
- Bepaal ‘n trou datum
- Bespreek die trou begroting (wees eerlik met mekaar hieroor)
- Besluit of julle self wil beplan of ’n trou koördineerder wil huur?
- Watter grootte troue wil julle hê?
- Dink aan moontlike venues en ligging
Hierdie punte is slegs ’n begin om die gesprek aan die gang te kry. Vir verdere inspirasie en praktiese wenke, besoek gerus die Mooi Troues webblad vol idees, stories en diensverskaffers wat julle groot dag ’n realiteit kan maak.

Artikel Krediet:
- Geskrewe: Mooi Troues
- Foto’s: Pexels

