Wie het gesê jy kan nie pragtige foto’s in die reën neem nie? Christo en Ronelda se diep sinvolle winter verlowing fotosessie wys juis hoe betowerend reën op foto’s kan wees.
In die foto’s hieronder sal julle sien hoe winter en reën soveel meer kan wees as net ʼn koue, onaangename seisoen. Ronelda het spesifiek gehoop vir daardie perfekte “Rainy Day” gevoel en dit het die fokuspunt van hul hele fotosessie geword.
Die waterplasse, gevul met reënwater, het ’n unieke element aan die foto’s gegee, prentjies wat jy beslis nie elke dag sien nie! En watter meer perfekte inspirasie vir trou uitnodigings kan daar wees?
Die sagte winter kleure van grys en die aardse bruintone in hul uitrustings het saamgesmelt in ʼn dramatiese, tog intieme atmosfeer.
Beplan julle ook ʼn verlowing fotosessie? Begin deur ʼn fotograaf te kies wat weet hoe om julle visie vas te vang en in tydlose herinneringe te omskep. Besoek gerus Mooi Troues se aanlyn trougids vir talentvolle fotograwe wat spesialiseer in verlowing- en trou fotosessies.
Maak dit dan ekstra spesiaal deur iets persoonliks in te sluit, dalk ’n stokperdjie, gunsteling plek of iets simbolies wat julle storie vertel.
Rol af en geniet Christo en Ronelda se diep sinvolle winter verlowing fotosessie en deel dit asseblief wyd en syd!


Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het mekaar raak geswipe op Tinder na grendeltydperk in 2020. Toe het ons vir so rukkie gesels oor die foon en toe mekaar gekry vir koffie. Ons was 2 en ʼn half jaar saam voordat ons profetiese woord gekry het om te trou. Ons is toe 2 jaar later verloof (4 en ʼn half jaar saam toe ons verloof geraak het).

Die groot vraag:
Christo het ʼn ongelooflike groot passie vir vliegtuie. Hy het met ʼn vriend van hom gereël om ons te vat vir ʼn vlug een Saterdag. Ons was ongelooflik vroeg in die lug en toe ons land toe vra die vriend vir my of ek gou op die kaart wil kyk na die roete wat ons gevlieg het. Toe ek op die kaart kyk het daar op die kaart gestaan “As jy met my wil trou kyk agter jou.” en toe ek omdraai toe staan Christo op sy knieg met ʼn ring.
Van ons vriende het in die vliegtuig hanger gestaan en skelm foto’tjies geneem. Die verlowing was ʼn verassing, maar ek het vermoed iets is aan die gang.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Agt Maande. Ons het die 16de Februarie verloof geraak en ons trou die 6de September.

Die verloofring:
Dit was ʼn verassing vir my gewees.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Meestal vir fotos vir die trou uitnodigings en ook vir fotos vir die huis.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ek het baie lank gebid oor die troue en wat God deur die huwelik wil uitbeeld en die versie wat ek ervaar het was 2 Peter 3:13 – “But according to his promise we are waiting for new heavens and a new earth in which righteousness dwells.”
Anje het my toe gekontak en vir my die prentjie verduidelik wat sy sien en dit lyn toe nou presies op met wat ek ervaar het rondom ons troue… Die prentjie wat sy gekry het was ʼn prentjie van hoe die aarde die hemele reflekteer. So het ons gewag toe vir ʼn lekker “Rainy day” sodat ons in die water se refleksie kon fotos neem.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ek dink dit is ʼn lekker stresvolle tyd is baie mense se lewens, veral om seker te maak alles is in plek vir die groot dag maak ook vir na die groot dag. ʼn Klomp goed moet in plek kom.

Visie vir droomtroue:
Ons trou is in ʼn vliegtuig hanger, Airspan Exective airport. My droom is om op die aanloopbaan te trou en dan die onthaal te hê in die hanger self.
Ons het ʼn troubeplanner wat ons gebruik en dan gaan ons 100 mense daar hê.
Ek is ongelooflik opgewonde om te sien hoe die dag gaan uitspeel en ook om te sien hoe dekor gaan uitwerk.

- Fotograaf: Madison and West | Kontak
- Fotosessie Ligging: Die Ooskerk – Loftus en dan Hazelwood Village

