Cardo & Ruvé se Hartroerende Selfdoen Plaas Troue in die Vrystaat

Hier by Mooi Troues is ons ongelooflik opgewonde om Cardo en Ruvé se hartroerende selfdoen plaas troue in die Vrystaat met julle te deel.

Daar het soveel handewerk en persoonlike detail in dié troue ingegaan. Paartjies wat self hul dekor wil aanpak, sal hope inspirasie uit Cardo en Ruvé se troue put. Die algehele atmosfeer was ontspanne, en die gaste het gedans tot met sonsopkoms die volgende oggend!

Hierdie liefdesfees het op Cardo se familieplaas plaasgevind. Hy en Ruvé het hul geloftes tussen hoë mielielande gedeel, ’n ware plaas droom. Houtbalke is met wit linne gedrapeer om skadu en ’n sagte atmosfeer te skep. Die gaste het op bale gesit, n perfekte plaas troue detail. Die feesviering is later voortgesit in die plaas se skuur.

Ruvé het pragtig gelyk op haar troudag in ’n rok wat haar hart gesteel het. Die rok is aangepas om haar unieke styl te weerspieël. ’n Gordel is bygevoeg om haar middel te beklemtoon en die vierkantige neklyn het haar breë skouers perfek gekomplimenteer.

Droom jy al van kleins af van jou trourok, maar is onseker of dit reg gaan lyk? Moenie bekommer nie, besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir professionele trourok ontwerpers wat jou met kundigheid en leiding sal bystaan om die perfekte rok vir jou droomtroue te kies.

Die plaas se skuur is omskep in ’n tydlose en elegante ruimte. Elemente soos wit gedrapeerde linne, betowerende feetjieliggies, pragtige blom ontwerpe en sprankelende kristal kandelare was alles die handewerk van plaaswerkers en ’n hulpvaardige buurvrou.

Rol af om meer van Cardo en Ruvé se hartroerende selfdoen plaas troue in die Vrystaat te sien en geniet die foto’s wat getuig van gemeenskapsliefde, familie en ’n troue wat werklik uit die hart van hul huis kom.

Trourok:


Ek en my ma lag altyd dat ons oë dadelik alles raaksien wat blink – en net so het my rok dadelik my oë (en hart) gesteel! Die blink materiaal het my persoonlike styl perfek weerspieël.

My ervaring by Sila Bride was regtig besonders. Ons het die rok ’n persoonlike touch gegee deur ’n beld by te voeg om my middel te beklemtoon, en die neklyn effens aan te pas na ’n meer vierkantige vorm – iets wat my breë skouers komplementeer. Subtiele cut-outs aan die kante van die rok het ook daardie ekstra tikkie moderne flair bygevoeg.

Paartjie se Verlowing:


Ek en Cardo het verloof geraak tydens ’n vakansie saam met vriende in Venesië, Italië.

Hy het my heeltemal onkant gevang — ek was seker die groot vraag sou eers kom wanneer ons terug is in Suid-Afrika, omring deur familie en vriende, veral omdat Cardo so ʼn sosiale mens is.

Maar toe verras hy my… soos net hy kan!

Ons het deur die dag al baie foto’s geneem, so toe hy vra vir nog ʼn foto, het ek glad nie iets vermoed nie. Wat ek nie geweet het nie, is dat dit die teken was vir ons vriende om reg te staan met hul kameras – die oomblik was hier!

Die aand na die verlowing het ons dit op ʼn tipiese Italiaanse wyse gevier: met pizza… en vir Cardo, ’n groot bier om die senuwees te kalmeer!

Verloof- en Trouringe:


My verloofring is ’n ovaalvormige diamant, omring deur fyn diamantjies op ’n platinum band. Die ring is ook effens opgebou om struktuur en hoogte te skep.

Cardo, aan die ander kant, verkies iets meer klassiek: ʼn tradisionele goue band wat ook prakties genoeg is vir sy daaglikse werk op die plaas.

Trou Dekor en Styl:


As ʼn plaaskind, was dit vir my man ʼn groot droom en eer om op die plaas te kan trou. Net so het sy twee sussies ook hier voor hom getrou.

Toe hy met die voorstel vorendag kom om die seremonie in ’n groen mielieland te hou, was ek eers skepties. Dit het soos ’n groot uitdaging gevoel, maar uiteindelik het die idee ook my hart gewen.

In November 2024 het ons die mielies geplant en die stuk grond uitgemeet waar die seremonie sou plaasvind — en toe het die wag begin! Teen die groot dag was die mielieland perfek: ons gaste het deur die rye geloop en hul sitplekke op grasbale ingeneem. Ons het ook houtpale geplant in die mielieland en met wit lappe drapeer om skadu te bied vir ons gaste en ook ʼn meer sagte atmosfeer te skep.

Die plaasstoor is omskep in ’n onthaalruimte, versier met wit drapering, fairy lights, blomme en kristal kandelare wat alles saam ’n tydlose en elegante gevoel geskep het.

Baie van die dekor is self gedoen – van blommerangskikkings, grasbale en palette-tafels tot die raamwerk van ons verwelkomingsbord wat handgemaak is deur plaaswerkers.

My buurvrou het selfs ure lank op ’n forklift gestaan om fairy lights op te hang buite die stoor, en het emmers vol eucalyptusblare op die plaas gepluk wat ons as addisionele dekor gebruik het.

Ons het van die begin af geweet ons wil ’n gemaklike, gesellige feesviering hê — en dis presies wat dit was. Ons gaste het saam met ons gekuier en gedans tot sonop die volgende oggend!

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het hul selfdoen-troue beplan oor ’n tydperk van ses maande, met ’n begroting van R350 000 en ’n gastegetal van 240 mense.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: