Benjamin en Lianca se gemaklike en natuurlike verlowing fotosessie is ’n pragtige voorbeeld van eenvoud op sy mooiste. In elke foto straal hul liefde vir mekaar. Die twee lyk so tuis en ontspanne voor die kamera, asof hulle heeltemal vergeet het van die fotograaf se teenwoordigheid.
Die rustige natuurtonele van Venue Nouveau, vasgevang in die sagte laat middag lig, het ’n romantiese en intieme atmosfeer geskep. Hierdie omgewing het perfek bygedra tot die warm, sagte en tydlose gevoel van die fotosessie. ’n Herinnering waarop die paartjie met ’n glimlag sal kan terugkyk oor jare heen. Hierdie foto’s is ideaal vir hul “Save the Date”-kaartjies en trou uitnodigings.
Vir hul verlowingsessie het Lianca ’n vloeiende wit rok gekies. Benjamin netjies gelyk het in ’n neutraal kleurige chino en ’n ligte hemp met opgerolde moue. Hul uitrustings het perfek saamgesmelt met die natuurlike agtergrond van oop grasvelde en bome.
Mooi Troues se lesers kan nou afrol en saam met ons dié paartjie se outentieke liefdesverhaal geniet. Moenie vergeet om ook ’n draai te maak by Mooi Troues se aanlyn trougids vir professionele trou fotograwe nie.
Geniet Benjamin en Lianca se pragtige verlowingsessie, en ons wens die paartjie alle sukses toe met hul troubeplanning!

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons altwee het op die Puk studeer. Ek was eerstejaar in Heide Dameskoshuis en hy ʼn derde jaar in Patria Manskoshuis. Tipies studente, het ons een gang in Heide besluit om brandewyn raffle tickets te verkoop om bietjie geld in te samel. Ons het toe Patria toe gegaan en daar het ek die mooiste man wat ek al gesien het ontmoet. Alhoewel ek bietjie skaam was en eintlik net eenkant gestaan het terwyl die res van my vriendinne hom oorreed het om ʼn paar kaartjies te koop. Hy het ’n hele klomp raffle kaartjies gekoop met die hoop dat hy sal wen sodat hy my weer sal kan sien as ek vir hom die bottel brandewyn vat, maar ongelukkig was dit nie die geval nie.
Daardie aand het ek vir my een vriendin gesê dat hy die mooiste man is wat ek al gesien het, net om te hoor dat hy haar al lank tevore gevra het om my aan hom voor te stel, want hy wou my graag beter leer ken. Die res is geskiedenis en ons het uiteindelik by mekaar uitgekom. Van dag een af was daar iets besonders en ek het net dadelik geweet dat hierdie my trou man is. Ons was 2 jaar in ʼn verhouding toe ons verloof geraak het.

Die groot vraag:
Ons verlowing het tydens ’n onvergeetlike vakansie in Thailand saam met sy gesin plaasgevind. Alhoewel ons al voor die tyd oor verlowing gepraat het en ek so ’n klein voorgevoel gehad het dat dit dalk op die reis kon gebeur, het ek dit glad nie verwag op die presiese oomblik toe dit gebeur het nie.
Op 25 September 2024 het ons ’n klein familie fotosessie op Kata Beach beplan. Met almal in wit aangetrek het ek glad nie iets agterdogtig gevind nie. Die sonsondergang was ongelooflik mooi. Ek het sommer self voorgestel dat sy suster ’n video van ons neem terwyl ons langs die strand stap. Net daar, met die mooiste agtergrond, het Benjamin op een knie gegaan en my gevra om sy vrou te word. Dit was een van die mees spesiale oomblikke van my lewe en ek was in die sewende hemel!

Hoekom ons mekaar liefhet:
Syne van haar: Wat ek die meeste van haar liefhet, is haar sagte geaardheid en haar klein hartjie wat regtig diep omgee, soms amper té veel! Sy is liefdevol in alles wat sy doen. Haar liefde wys sy nie net met woorde nie, maar deur aanraking en teenwoordigheid. Sy het ’n aansteeklike lag en sy bring soveel lig in my lewe.
Hare van hom: Ek bewonder sy geduld en sy rustige geaardheid, niks is ooit te veel vir hom nie. Hy het hierdie mooi balans van sterk en sag, en ek weet ek kan altyd op hom staatmaak. Sy sin vir humor hou my op my tone, en ek is elke dag dankbaar vir die manier waarop hy my liefhet met soveel respek, warmte en stabiliteit.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons is nou al ses maande verloof en dit was regtig die beste ses maande van my lewe tot dusver! Die beplanning van ons droomdag is volstoom aan die gang en ons sien ongelooflik uit daarna om op 7 Februarie by Bona Bona Game Lodge die knoop deur te haak. In totaal gaan ons sowat ’n jaar en ’n half verloof wees, die perfekte tyd om alles mooi en met liefde te beplan.

Die verloofring:
Benjamin het my werklik geseën met die mooiste ring! Voor ons verloof geraak het, het ons saam na ’n paar ringe gaan kyk, en ek het van tyd tot tyd vir hom ’n paar Pinterest foto’s gestuur net om so ’n bietjie te skimp en te wys waarvan ek hou. Op die ou einde het hy die ring self ontwerp, presies volgens my smaak en droomstyl. Toe ek die ring sien, was ek absoluut verlief. Dit is alles wat ek ooit wou hê, en nog meer!

Rede vir die verlowing fotosessie:
’n Verlowings fotosessie is ʼn wonderlike manier om ʼn spesiale mylpaal in ’n paartjie se reis saam te vier. Dit gee ons die kans om die opwinding en liefde wat ons deel voor die groot dag vas te vang en skep blywende herinneringe in ’n meer ontspanne, persoonlike omgewing. Dit is ook ’n goeie geleentheid om gemaklik voor die kamera te raak en ’n verhouding met die fotograaf te bou. Boonop wou ons fotos gehad het vir “save the dates”, uitnodigings, trouversierings, of net om terug te kyk na ’n betekenisvolle hoofstuk in ons storie.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons wou hê die fotosessie moet gemaklik en natuurlik voel, niks te formeel nie, net ons twee wat onsself is. Ons is lief vir die buitelewe, so ’n rustige plekkie in die natuur met mooi lig teen laatmiddag het net reg gevoel. Dit het daardie romantiese en gemaklike gevoel gegee wat ons gesoek het. Ons wou hê die foto’s moet wys hoe gemaklik, liefdevol en gelukkig ons saam is en daarom het ons ’n eenvoudige plek gekies waar ons kon rondstap, lag en net mekaar geniet. Die styl was sag, warm en tydloos, iets waarna ons oor jare nog met ’n glimlag sal kan terugkyk.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons sien ongelooflik uit daarna om hierdie spesiale tyd saam te geniet om die groot dag te beplan, saam drome te bou en te sien hoe alles stadig maar seker bymekaar kom. Dit is ’n tyd van groei, saam leer en nog nader aan mekaar beweeg. Daar is natuurlik ook ’n paar vrese soos om oorweldig te voel met al die reëlings of dat iets dalk nie perfek uitwerk soos beplan nie. Maar met goeie kommunikasie, geduld en ’n paar grappies tussenin, glo ons dit gaan ’n ongelooflike mooi seisoen wees.

Visie vir droomtroue:
Ek droom al van my troudag vandat ek ’n klein dogtertjie is. Omdat ons weet hoe vinnig so ’n spesiale dag verbygaan, het ons besluit om die beplanning self te doen om die ervaring so lank en betekenisvol as moontlik te maak. Vanaf die oomblik wat ons Bona Bona Game Lodge besoek het, het ons albei geweet dit is die plek waar al ons drome ’n werklikheid gaan word. Die idee om tussen die rustigheid en skoonheid van die natuur te trou, voel vir ons absoluut reg.
Ons droomtroue is intiem, met net ons familie en naaste vriende. ’n Gemaklike, middelmatige grootte troue waar die fokus op saamwees en egtheid lê. Ons wil graag die geleentheid oor ’n hele naweek strek en by Bona Bona is dit moontlik. Vrydagaand hou ons ’n gesellige braai saam met ons ouers, aanstaande ouers en gevolg en Saterdag vier ons ons groot dag. Sondagoggend sluit ons die naweek af met ’n lekker ontbyt saam al ons gaste, voordat almal weer huis toe vertrek.
Bona Bona voorsien ook ’n troukoördineerder, wat vir ons ’n groot gemoedsrus gee dat alles op die dag glad sal verloop. Ons sien uit na ’n stylvolle, maar eenvoudige troue. Een waar almal dit net opreg kan geniet om die dag saam met ons te deel.

- Fotograaf: Zané Slabbert Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Venue Nouveau | Kontak
- Grimering: Leila Maree at Revivified Beauty| Kontak
- Hare: Megan Buitendag at Revivified Beauty| Kontak
- Verloofring: Ralph Jacobs| Kontak

