Paartjies wat lief is vir die buitelewe en natuur, sal mal wees oor Mark en Anke se dromerige verlowing fotosessie in die bos. Hierdie sessie weerspieël hul gedeelde liefde vir avontuur en die natuur.
Nie net het dié fotosessie die paartjie die kans gegee om hul fotograaf beter te leer ken nie, maar dit was ook die fotograaf wat dié pragtige ligging aanbeveel het. Dis belangrik dat paartjies gemaklik voel voor die kamera en hul fotograaf genoeg vertrou om hulle professioneel te lei. ’n Professionele fotograaf weet hoe om jou mooi te laat lyk met die regte poses en beligting.
Dames, net soos daardie droom trou rok dalk nie altyd so perfek aan jou pas soos jy gehoop het nie, mag daardie aanlyn pose ook nie werk soos jy dit gesien het nie. Vertrou dus jou fotograaf, julle het hom/haar immers gekies op grond van ’n indrukwekkende portefeulje.
Die ligging vir Mark en Anke se sessie het ’n romantiese atmosfeer geskep. Ons is veral mal oor die ou grondpad, iets wat diep in ’n Afrikaner se hart lê. Die bos het ’n avontuurlike element bygevoeg, terwyl ’n klein tuintjie met pragtige blomme daardie dromerige, sprokies gevoel gegee het.
Beplan julle tans aan jul eie verlowing fotosessie? Besoek gerus Mooi Troues se Trougids vir talentvolle trou fotograwe.
Rol af en geniet die opregte en gelukkige oomblikke vasgevang in Mark en Anke se dromerige verlowing fotosessie in die bos vol lag en liefde.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ek en Mark het mekaar die paasnaweek van 2017 ontmoet. Ek het saam met familie in die Cederberge gaan kamp. Daar het ek een van my vriende raak geloop en Mark het saam met hulle daar gekamp. Ek het onmiddellik ʼn konneksie gehad met hom, maar het my nie daaraan gesteur nie. Ek het gedink dat dit net kan wees omdat hy die langste mens is wie ek al ooit gesien het. 😀
Mark het my in Augustus 2017 uitgevra. Ons was byna sewe jaar saam toe hy my gevra het om sy vrou te wees in 2024. Hierdie was seker die maklikste ja OOIT.

Die groot vraag:
Mark het alles baie mooi geheim gehou, ek het niks vermoed nie. Hy het my die 17de Junie gevra om sy vrou te wees. Dit was ʼn lang naweek, maar ek het twee ekstra dae verlof gevat om bietjie meer tyd met hom te kan spandeer. Hy het vir my gesê dat hy lus was om iets te doen in die Kaap.
Hy het die voorstel gemaak dat ons na die Botaniese tuine toe moet gaan en daarna na ʼn fancy wynplaas. Ek het nie enige vermoede gehad nie, want ons vriende wat die dag saam met ons spandeer het, hou van lekker wyn drink. Met die wat ons na die wynplaas gaan, het hy gesê dat ek mooi moet aantrek.
Ons het by die Botaniese tuine aangekom en Mark het ons almal aan die sweet gestap. Ons het tussen al die bome gestap en ek het voor gestap. Iewers het ek agter gekom dat almal ophou stap het, maar ek was besig om ʼn storie te vertel toe ek sien dat Mark eenkant staan met sy hande agter sy rug.
Hy het ʼn spesiale kyk in sy oë gehad toe ek na hom kyk. Hy het na my toe aangestap en op sy knie gesak. Ek het begin huil en kon nie ʼn woord uitkry nie. Toe hy vra of ek met hom sal trou, kon ek net my kop knik. Geen woorde, net baie trane.

Hoekom ons mekaar liefhet:
Mark: Anke se mooiste eienskap is haar liefde vir mense rondom haar. Sy sal haar laastes vir iemand anders gee om hulle gelukkig te sien.
Anke: Mark se mooiste eienskap is sy geduld en liefde. Hy is seker die mens met die meeste geduld wie ek ken. Sy liefde is in oorvloed vir die mense rondom hom en ook vir diere.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons gaan net 11 maande verloof wees. ʼn Mens raak immers verloof om te trou en ek sien nie die nut daarin om langer as een jaar verloof te wees nie. Ek het altyd gesê dat ek binne ses maande wil trou, maar in die werk wat ons doen is dit nie moontlik nie. Ons trou datum is 31 Mei 2025.

Die verloofring:
Desember 2023 het ek vir Mark ʼn paar foto’s gestuur van die ringe waarvan ek hou. Hy het later vir my gesê dat daar te veel is en dat ek vir hom ʼn top drie moet gee. Ek het so gemaak, maar het ook vir hom gesê dat een my gunsteling is. Hy het met my Ma gepraat sodat sy by my moet uitvind watter metaal ek wil hê (goud, witgoud/platinum). Hy het met een van sy vriende ook gesels om te hoor waar hy my ring kan laat maak.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons het die verlowing fotosessie gedoen omdat dit deel is van ons fotograaf se pakket. Ons het dit ook gedoen om gemaklik te raak voor die kamera. Mark is nie iemand wat hou van foto’s nie, maar hy was baie gemaklik voor die kamera. Ons wou ook graag die fotosessie doen om die fotograaf te leer ken en om foto’s vir die huis te hê.
Boonop het ons van die foto’s ook gebruik in ons trou uitnodiging. Ons het BAIE komplimente gekry oor dit.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ek het met ons fotograaf gepraat en vir haar gevra om ʼn plek voor te stel. Ons wil net in die natuur gewees het, omdat beide van ons mal is oor die natuur en avonture. Sy het vir Doolhof voor gestel. Daar was n oop vlakte met ʼn woud aan die agterkant sowel as ʼn tuintjie met pers blommetjies wat soos ʼn feetjie tuin gelyk het. Dit het die mooiste foto’s gemaak en ons wildste verwagtinge oortref.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons verwagtinge is dat alles vlot en goed sal verloop. Die verlowing periode is ʼn spesiale fase in jou lewe waar jy net alles moet geniet. Ons beplan self ons troue en gelukkig tot dusver het ons nog geen uitdagings gehad nie.
My droom troue sou natuurlik groot wees, maar alles is in vandag se lewe te duur. Mark het vir my gesê dat ons eerder ʼn lekker wittebrood kan gaan hou met ʼn kleiner troue.
Ons het saam gaan sit en besluit op die moets en moenies sodat ons ʼn goedkoop troue kan hê.

Visie vir droomtroue:
Ons beplan self ons troue en is beide mal oor die rustieke tema, die plaas lewe en die natuur. Verder gaan ons in ʼn lapa trou wat baie rustieke is met boheemse dekor en maak baie van die dekor self. Gelukkig het ons families wat ons ook gaan help met die opmaak van die onthaalsaal.
Ons gaan 100 mense nooi, maar ons weet ook dat almal nie sal kan kom nie. Ons gaan net 100 mense nooi en indien almal nie kan kom nie, is dit ook reg. Dit is vir ons belangrik om nie onnodige mense te nooi nie. Ons nooi net ons naaste familie en vriende.
Ons visie is om ʼn viering van liefde te hê saam met ons belangrikste familie en vriende.

- Fotograaf: Zana’s Lens | Kontak
- Fotosessie Ligging: Doolhof
- Verloofring: Grand Diamonds| Kontak

