Marius & Crystal se Verrassings Verlowing Fotosessie in ʼn Kelder

Ons by Mooi Troues is opgewonde om Marius en Crystal se verrassings verlowing fotosessie met julle te deel – dit het afgespeel in ʼn pragtige kelder in die Franschhoek Vallei. Droom jy daarvan om die groot vraag te vra? Marius se voorbeeld bied hope inspirasie!

Hy het ʼn romantiese wynkelder gereël waar hy Crystal met die groot vraag kon verras. Die massiewe wynvate was met foto’s van die paartjie versier – ʼn oulike en persoonlike idee wat die oomblik nóg meer spesiaal gemaak het. Toe Crystal die kelder binnekom, was sy oorweldig deur die pragtige dekor en die liefdevolle atmosfeer. Kort daarna het Marius op een knie gegaan met ʼn asemrowende verloofring – ʼn oomblik wat hulle vir altyd sal koester.

Na die verlowing het die paartjie pragtige foto’s laat neem in die wynplaas se tuin. Die sagte sonlig wat deur die bome geskyn het, het ʼn romantiese gloed aan die foto’s gegee. Hulle het ook betowerende foto’s tussen die pienk en pers Hydrangea’s geneem – ook bekend as Kersfeesrose. Dit is duidelik dat hulle die sessie terdeë geniet het en hope pret gehad het. ʼn Waarlik spesiale dag wat perfek vasgevang is.

Beplan jy om die groot vraag te vra? Onthou om ʼn professionele fotograaf te huur om hierdie unieke oomblik vir altyd vas te vang. Dis ʼn kosbare herinnering wat beslis bewaar moet word. Ná die verlowing begin die beplanning van die groot dag – en ons trougids is die perfekte hulpmiddel om die regte diensverskaffers te vind wat julle droomtroue sal waar maak.

Rol af om meer te lees oor Marius en Crystal se liefdesreis en hul onvergeetlike verrassings verlowing!

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ek en Crystal het saam op die Puk studeer. In ons 2de jaar het ek my geluk gedruk en haar vir haar nommer gevra, maar sy het my ge-“bat”. Drie jaar later het ons saam Meesters gedoen en onsself in dieselfde nabye vriendekring bevind. Ons het baie goeie vriende geraak, alhoewel almal in ons vriendegroep toe al gedink het ons was saam. Op ons vriende-vakansie het ons toe besluit om ʼn verhouding aan te knoop.

Die groot vraag:


Die verlowing was heeltemal ʼn verrassing. Dit het ʼn redelike hoeveelheid wit leuentjies van my kant af gevat (ek het darem ʼn kort video’tjie) na elke leuen gemaak, net om my gat te beskerm! My gesin het so 3 maande voor die tyd geweet van die verlowing, maar ek het so 5 dae voor die verlowing eers ouers gevra. Ek kon eers kort voor die verlowing met haar ouers gesels omdat ek dit graag in persoon wou doen en hul in die Kaap woon. Desember was die perfekte geleentheid om te vra want Crystal se oudste en jongste sussies, haar swaer en hul kinders was ook daardie Desember in die Kaap. Ek het geweet Crystal wou graag die geleentheid deel met ons gesinne, maar alleen gevra word.

Gevolglik het ek al in September die dag vasgemaak en vir almal (behalwe my gesin wat geweet het) gevra om die aand van die 23ste oop te hou vir ʼn “familie-ete” met al ons mense. Ek het toe met ʼn wynboer gereël om sy kelder te leen en op te maak met blomme en klomp foto’s van ons. Toe ek ouers vra het ek hulle en die twee sussies ook aanboord gekry met die beplanning. Hulle het my help dit wegsteek van haar.

Die perfekte geleentheid

Die aand van die verlowing het ek, haar pa, en haar swaer vroeër gery om “te kyk na ʼn plaas wat haar pa dalk kan verkoop” maar eintlik het ons my pa’lle en oupa en ouma vroeër by die kelder gekry om die plek op te maak. Crystal, haar ma en sussies het so uur later daar aangekom. Ek het haar gebel en gesê ons wag in die parkeer area om hul te wys waar ons kamstig sit vir ons ete. Toe hul daar aankom het my oupa en haar pa hul ontvang en vir haar gesê ek is in die kelder om wyn te kies vir die aand, sy moet my kom help. Toe sy instap toe is dit net ons twee in die kelder en kon ek haar vra. Ons gesinne het buite vir ons gewag en daarna het ons gaan uiteet.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Crystal sʼn van Marius: Een van my heel gunsteling eienskappe van hom is sy omgee hart. Hy dra altyd ander se belange op die hart en sit ander voor homself. Hy is ‘n baie goeie leier, gedrewe in sy werk en passievol oor die lewe. Marius dra my altyd op die hande en laat my spesiaal voel.

Marius sʼn van Crystal: Crystal is ʼn besonderse mens van binne en buite. Die vraag is baie moeilik om te antwoord, want ek kan nie net een eienskap kies nie. Sy sal altyd die ekstra myl stap. Crystal is ʼn geduldige vrou, waarby ek weet ek rus en vrede kan vind. Sy maak my ʼn beter mens, en dis hoekom ek haar as lewensmaat gekies het. (Sy is ook hot!)

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het geweet dat sodra ons verloof word ons graag dadelik die troue wou begin beplan. Ons het reeds ons troudatum vasgemaak vir die 2de Augustus (hopelik genoeg tyd om ‘n troue te reël!).

Die verloofring:


Die verloofring was ʼn verrassing. Ek het een gekies wat ek gedink het sy van gaan hou, maar het darem ʼn redelike idee gehad van haar styl.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag foto’s gehad het waar en haar vra om te trou, en toe doen ons sommer die foto sessie direk na die verlowing.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons het heeltemal Kristen se leiding gevolg. Ons ken haar al lank en vertrou haar! Sy het dit baie natuurlik en gemaklik laat voel.

Visie vir droomtroue:


Ons het ‘n pragtige venue gekies wat die gevoel gee van ‘n sprokiesverhaal in die woud. Ons albei is minimalisties en sal die dekor dus eenvoudig maar klassiek hou. Dit is vir ons belangrik om ‘n troue te hê waar ons gaste nie styf gaan voel nie, maar lekker saam gaan kuier, lekker kos gaan eet, heel aand op die dansvloer wil wees en saam met ons die aand afsluit om ‘n ‘bonfire’ met goeie geselskap.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: