Eben & Charlize se Helder Kleurige Troue in Heidelberg

Paartjies wat ʼn selfdoen-troue wil beplan, sal baie inspirasie put uit Eben en Charlize se helder kleurige troue in Heidelberg. Die helder kleure skep ʼn lewendige en feestelike atmosfeer.

Hul seremonie- en onthaal venue het ʼn rustieke voorkoms met oop houtbalke, ʼn sinkdak en betonvloere. As kontras het hulle koningsblou as hoofkleur gekies, met helder blomme en ander elemente om ʼn eklektiese gevoel te skep.

Die tafels is versier met wit tafellopers, fyn glas onderborde, kerse en blomme wat sprankelende kleure van blou, oranje en rooi byvoeg. Die verskeidenheid houtstoele dra verder by tot die rustieke karakter van die venue, terwyl die groot vensters ʼn oop, ligte atmosfeer skep.

Charlize het pragtig gelyk in ʼn A-lyn trourok gemaak van liggewig materiaal. Die bolyf het ʼn diep V-neklyn met elegante kantversierings in blom- of geometriese patrone, terwyl die romp van die rok vol volume was met veelvuldige lae. Eben het net so stylvol voorgekom in ʼn koningsblou troupak, wit hemp en roomkleurige das. As ʼn spesiale toevoeging tot sy uitrusting het hy ʼn goue borsspeld gedra met twee ovaalvormige hangertjies met foto’s van hul twee Labradors – ʼn baie unieke en persoonlike detail.

Charlize se verloof- en trouringe is werklik uitsonderlik. Haar verloofring is ʼn pragtige roosgoud ontwerp met ʼn opvallende blou topaassteen, omring deur ses klein diamantjies. Haar trouring is ook van roosgoud en bevat agt diamante met ʼn traanvormige diamant in die middel. Hierdie ringe vorm ʼn besonderse kombinasie van blou en wit sprankelende juwele.

Onthou asseblief om Mooi Troues se aanlyn trougids te besoek vir professionele diensverskaffers wat kan help om julle trou drome te verwesenlik. Blaai verder af en geniet Eben en Charlize se helder kleurige troue in Heidelberg.

Trourok:


Aan die begin van my troubeplanning het ek dit amper berou om na ʼn trourok te soek, omdat ek gesukkel het om die regte styl vir my lyf vorm te kry.

By die eerste winkel het ek ʼn paar rokke aangepas, maar hulle het my net dieselfde styl oor en oor laat probeer—en dit was aaklig. My tweede afspraak was by Fynbos, en dit was ʼn totaal ander ervaring. Hulle het my eers gevra waarna ek soek, toe ‘n heel ander voorstel gemaak en ʼn verskeidenheid rokke uitgekies vir my om aan te pas.

Sodra ek die eerste rok by Fynbos aangepas het, het ek geweet—dit is die een! Ek het nog ʼn paar ander rokke probeer, maar niks kon vergelyk met die Ruby-rok nie. Dit was totaal anders as wat ek oorspronklik in gedagte gehad het, maar dit was perfek.

Paartjie se Verlowing:


Dit was op 30 Januarie 2022.

Eben en ek was toe al drie en ‘n half jaar saam. Die oggend het hy gereël dat ons vir ons “anniversary”, mini-golf gaan speel en daarna gaan uiteet.

Ons het ons eerste rondte klaar gespeel, en dit het langer gevat as wat dit moes. Op ons tweede rondte, by die derde gaatjie, het Eben die ring in die gaatjie gesit. Ek het egter baie gesukkel om my bal daar in die gaatjie te kry en het uiteindelik, sonder om in die gaatjie te kyk, eenvoudig net die bal opgetel. Eben moes vir my sê om weer te kyk—en toe ek afkyk en die ring sien, het my hart gaan staan! Toe ek opkyk, was Eben op sy linkerknie. Voor hy iets kon sê, was ek al op die vloer saam met hom, het hom vasgedruk en gesoen en onmiddellik “Ja” gesê.

Maande later het ek hom gevra hoekom hy juis die mini-gholfbaan gekies het, en toe sê hy: “Dis die plek waar jy dit die minste sou verwag.”

Verloof- en Trouringe:


My verloofring is van roosgoud met ʼn pragtige blou cushion-cut Topaz as middel steen, omring deur drie klein diamante aan elke kant. Omdat die topaas laag teenaan my vinger sit, is daar geen spasie vir ʼn standaard troupand onder die ring nie. Daarom moes ons my troupande spesiaal laat maak. Ek het twee troupande, een aan elke kant van my verloofring. Elke pand is van roosgoud en bevat agt ronde diamante langs die kante, met ‘n teardrop diamant in die middel.

Die pande is perfek gevorm om soos ʼn blokkie om my verloofring te pas, wat ‘n unieke en harmonieuse geheel skep.

Trou Dekor en Styl:


Aan die begin van my troubeplanning het ek gedink ek wil alles baie neutraal en eenvoudig hou. Ek het Pinterest-bord na Pinterest-bord gemaak, maar steeds gevoel dit weerspieël nie regtig wie ek is nie.

Terwyl ek vir inspirasie gesoek het, het ek op koningsblou afgekom—en skielik het alles gekliek. Dit was perfek, want al wat ek kon dink, was hoe mooi dit my verloofde se besonderse blou oë sou laat uitstaan.

Maar ek kon nie net ‘n kleur kies net vir hom nie. Ons is kleurvolle mense, en ek wou hê ons troue moes dit weerspieël. Daarom het ons al die kleure in die blomme ingebring, wat die perfekte balans van lewendig en elegant geskep het.

Trou Begroting en Beplanning:


Eben en Charlize het hul troue self beplan oor ʼn tydperk van twee jaar, met ʼn begroting van R180 000. Hulle het ʼn intieme geleentheid met 75 gaste gehad, wat die persoonlike, kleurvolle atmosfeer van hul troue verder beklemtoon het.


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: