Deon & René se Tydlose Rustieke Troue in Cradock

Paartjies wat droom van ʼn rustieke troue, sal Deon en René se tydlose rustieke troue in Cradock baie geniet. Die paartjie het gekies vir ʼn trou styl waarna hulle oor 20 jaar kan terugkyk en steeds waardeer.

By Mooi Troues sien ons soveel pragtige troues en verlowings fotosessies in die Oos-Kaap dat ons glo die provinsie uitstekende bestemmings vir troues bied.

Deon en René se troudekor was minimalisties met ʼn rustieke styl. Lang tafels is stylvol gedek met neutrale kleur tafeldoeke. Rottang-plekmatjies het tekstuur ingebring, terwyl kerse en glasware bygedra het tot die romantiese atmosfeer. Perske- en wit blomme het die tafels pragtig verfraai, terwyl goue eetgerei daardie tikkie weelde verleen het.

René het gekies vir ʼn eenvoudige, elegante trourok wat volledig van een pragtige materiaal gemaak is. Die rok het ʼn effense gewaagdheid in sy ontwerp gehad. René het nie ʼn tradisionele sluier gedra nie, maar het eerder gekies vir delikate materiaal wat van haar skouers af gehang het. Sy het dit haar “vlerkies” genoem. Dit het stylvol gelyk, en ons dink dit is ʼn uitstekende alternatief vir ʼn sluier.

Haar trouring is gemaak deur haar tannie, wat dit soveel meer spesiaal maak. Om die “iets blou” tradisie te eer, is ʼn fyn lint in haar troupant ingeweef.

Trou beplanning kan soms stresvol wees, en daarom moedig ons julle aan om Mooi Troues se aanlyn trougids te besoek. Vir pragtige trou inspirasie, blaai af en geniet Deon en René se tydlose rustieke troue in Cradock.

Trourok:


My rok was eenvoudig, maar elegant, gemaak van een mooi materiaal regdeur. Dit het ʼn gesplete opening onder albei arms gehad, met deursigtige materiaal. Die gesplete halslyn het tussen my borste begin en tot by my middel gestrek, wat dit net ʼn bietjie meer gewaagd gemaak het.

Ek het besluit om nie die tradisionele veil te dra nie, en het eerder vir iets anders gegaan—fyn delikate materiaal wat vas op elke skouer was. Ek het hulle my “vlerkies” gedoop. Dit het agter my rok gesleep en dit het gelyk soos ʼn soort veil, wat die dromerige, romantiese gevoel gegee het, maar op my eie manier.

Paartjie se Verlowing:


Beskryf jul verlowing: Op 3 Januarie 2023, in die laaste dae van ons vakansie, het ek geen idee gehad wat vir my voorlê nie. Deon het voorgestel dat ons iewers heen ry vir ʼn lekker dag en sonder enige planne het ons in die kar geklim en Jeffreysbaai se kant toe gery. Oppad het hy spontaan voorgestel dat ons by die Lighuis Restaurant in St. Francisbaai gaan eet – dit het vir my na ʼn wonderlike idee geklink!

Ons het heerlik middagete geniet en daarna gestap na die ligtoring. Die wind het egter sterk gewaai, en ek wou graag terug kar toe, maar Deon was besig om skulpies te soek – iets waarvan hy baie hou. Toe ons terugstap, het hy skielik my hand gevat en ek het onmiddellik geweet iets is aan die gang! Hy het ʼn klein stukkie papier uit sy sak gehaal met sy woorde daarop getik in die kleinste skrif ooit en dit vir my begin lees. Met trane in ons oë het hy op een knie gegaan en my gevra om te trou – natuurlik het ek ja gesê!

Skelm-skelm het hy sjampanje en glase ingepak, en ons het dadelik begin vier. Dit was die perfekte, onverwagse oomblik wat ek vir altyd sal onthou! 💍✨

Verloof- en Trouringe:


My troupant was handgemaak deur my tannie. Dit was delikaat van kant gemaak, met ʼn klein stukkie blou lint ingeweef vir ʼn tikkie tradisie en iets blou.

Trou Dekor en Styl:


Vir die kleurskema en dekor het ek na iets gesoek wat mens oor 10 of 20 jaar steeds sal waardeer. Ek wou hê dat die foto’s altyd die gevoel van iets vars en modern sal weerspieël, selfs na jare. Ons het ʼn rustieke styl gekies, met ʼn minimalistiese benadering tot die tafeldekor wat ʼn balans van eenvoud en elegansie gegee het.

Ek het aanvanklik gedink aan roesbruin strooimeisie rokke, maar het later besluit om sjampanje kleur rokke te kies vir ʼn meer tydlose, veelsydige voorkoms.

Die algehele styl het ʼn perfekte mengsel van plaas/rustiek warmte en verfynde skoonheid geskep, wat alles na mekaar toegetrek het om die perfekte atmosfeer vir ons spesiale dag te vorm.

Trou Begroting en Beplanning:


Die troue is deur die paartjie self beplan oor ʼn tydperk van een jaar en drie maande, vanaf hul verlowing in Januarie 2023. Met ʼn begroting van R200 000 en ʼn gaste getal van 100, het hulle hul droomtroue tot in die fynste besonderhede uitgewerk.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: