Pieter en Michaéla se romantiese strand fotosessie by die pragtige Danabaai-strand bied tonne inspirasie vir paartjies wat op soek is na idees vir hul eie fotosessie.
Michaéla het ʼn pragtige, ligte rokkie gedra, terwyl Pieter gekies het vir ʼn ligte broek en hemp. Hul uitrustings was perfek vir ʼn romantiese strandfotosessie. Wanneer dit by uitrustings kom, is ʼn neutrale kleurskema altyd ʼn uitstekende keuse, aangesien dit mooi op foto’s reflekteer en die fokus direk na die paartjie trek.
Die paartjie het ʼn baie oulike fotosessie gehad met ʼn piekniek-tema, wat uitstekend by die strandomgewing gepas het. Pizza en rooiwyn was van die spesiale elemente van hul fotosessie.
Die sagte sonlig wat oor die sanderige strand val, het die perfekte romantiese agtergrond geskep. Pieter en Michaéla doen gereeld fotosessies om hul spesiale oomblikke as paartjie vas te vang. Dit is belangrik om herinneringe van ʼn mens se liefdesreis deur middel van foto’s te bewaar, want in die gejaagde lewe vergeet ons soms om sulke spesiale oomblikke vas te vang.
Waarvoor wag julle? Soek ʼn talentvolle fotograaf, bespreek julle eie fotosessie, kies ʼn oulike plek waarvan julle albei hou, trek stylvol aan en geniet elke oomblik van die ervaring.
Rol af om meer te lees oor hierdie pragtige paartjie se liefdesreis en om meer van hul fotosessie te sien.

Die eerste ontmoeting:
Soos die beste liefdesverhale, het ons sin onverwags begin. Ek en Pieter het op universiteit ontmoet, albei vasberade om nie liefde te soek nie. ʼn Stadsmeisie van Johannesburg en ʼn plaasseun van Prieska se padjies gekruis in die Rosestad, en dít was as ‘t ware ʼn onbeplande, stroopsoet affêre. Ons ontmoetings was eers perongeluk maar het vinnig doelbewus geraak. Ek het gereeld so skelm soos ek kon in my geel Clio, oor die lang, stofpaaie na Pieter gereis op die plaas. Elke besoek ʼn avontuur, vol stoute glimlagte en heimlike ontmoetings.
Drie en half jaar later het ons verloof geraak op die 16de vloer van ʼn hotel in Pretoria, omring deur ons familie en vriende. Ons troue, op die 13de Mei 2023, was ʼn betowering in wit– minimalisties en tydloos. Elke aspek van ons storie is deurweef met passie en opwinding. Ons het die voorreg om al 6 jaar in ʼn verhouding te wees.

Gunsteling eienskappe van mekaar:
Michaéla van Pieter: Sy groen oë, sy sagte maar sterk manier van doen en praat. Hoe kalm en deeglik hy is. Hoe hy nog met die vreugde van ʼn kind kan lag en laf wees.
Pieter van Michaéla: My vrou se sin vir humor, hoe deeglik sy is in alle aspekte van haar lewe, haar omgee, haar drukkies, haar hart.

Drome as paartjie:
Wanneer ons droom oor die toekoms sien ons kindertjies, honde en katte wat rondhol op die grasperk van ʼn huis wat ons gebou het met “poor man’s orchid” bome wat die tuin versier. Ons droom oor avonture oorsee, spesifiek ski in die Alpe en wyn langs die Italiaanse kus.

Dinge wat die paartjie hou van om saam te doen:
Ons is mal daaroor om saam fiks en aktief te wees dus besoek ons gereeld die gimnasium saam of gaan stap/draf. Soveel soos ons aktief wees geniet, kan ons soms ook heeldag ʼn “Krismis” bed voor die televisie geniet. Ons hou ook van braai saam vriende en Sondae op die gholfbaan saam deurbring.

Rede vir die fotosessie:
Ons is albei foto liefhebbers en van mening dat ʼn foto ʼn oomblik vasvang. Dus, doen ons gereeld fotosessies om ons liefde vir mekaar te kan vasvang en eendag in die toekoms te kan terugblik na hoe ons liefde gegroei het.

Inspirasie agter die fotosessie:
Ons wou graag ʼn moody en intieme gevoel gehad het, asof die kamera ʼn vlieg teen die muur is terwyl ek en Pieter net onsself geniet.

Visie vir ʼn romantiese afspraak:
Ons albei beskou ʼn ete alleen by die huis met kerse baie romanties en intiem.

- Fotograaf: Anina Harmse | Kontak
- Fotosessie Ligging: Danabaai Strand
- Hare: The Style Network
- Ring: Carlo Hayes | Kontak

