FP & Anushca se Plattelandse Verlowing Fotosessie

FP en Anushca se plattelandse verlowing fotosessie is nie net prentjiemooi nie, maar ook diep gevul met emosie. Teen die asemrowende oop vlaktes as agtergrond vertel hul verlowing foto’s ’n storie van pret, liefde en egtheid. Die paartjie het spesifiek ’n plattelandse verlowing fotosessie begeer en ons kan met sekerheid sê dat hierdie fotosessie perfek by hulle gepas het.

Ons is absoluut mal oor FP en Anushca se verlowing foto’s. Albei was geklee in ligte, neutrale kleredrag wat pragtig by die ligging en tema van die fotosessie ingepas het. Die sagte, romantiese sonsondergang lig met skakerings van blou, sagte pienk en warm oranje het ’n droomagtige atmosfeer geskep. Die groot oop vlaktes, omring deur fyn bossies en lang gras, het die plattelandse tema perfek afgerond.

Anushca en FP wou graag mooi foto’s hê vir hul trou-webtuiste sowel as hul Save the Date-kaartjies en hulle het nou beslis meer as genoeg keuses! Dit is net een van die vele redes waarom ons altyd paartjies aanraai om ’n verlowing fotosessie te doen.

Bespreek julle fotograaf betyds en maak seker julle beplan iets besonders vir julle verlowing fotosessie. Nie net skep dit kosbare foto herinneringe van hierdie spesiale tydperk in julle lewe nie, maar dit help julle ook om gemaklik voor die kamera te raak. Dit sorg vir ’n meer ontspanne troudag en, natuurlik, die mooiste troufoto’s.

Rol af om meer te lees oor FP en Anushca se liefdesreis as paartjie en om hul pragtige verlowing fotosessie te bewonder.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het einde 2020 of begin 2021 by ‘n gemeenskaplike vriend se huis ontmoet. Twee jaar het verby gegaan sonder enige kontak. September 2023 het ons begin gesels op sosiale media. Op die 28ste Oktober 2023 het hy my gevra om saam met hom en ‘n paar vriende rugby gaan kyk.  Min het ek geweet daai dag gaan ek sommer ook sy hele gesin ontmoet. 😂🙈 Twee weke gaan verby en die 10de November vra hy my om sy meisie te wees. Presies 1 jaar, 1 maand en 16 dae later op die 26ste Desember 2024 het hy my gevra om te trou (dit moes die 25ste gewees het, maar hy was net te op sy senuwees😂)

Die groot vraag:


26 Desember 2024 is die dag toe my hele lewe verander het en ons veraltyd begin het. Ons het verloof geraak op sy familie plaas in hulle tuin, ons het wel al ‘n rukkie daaroor gepraat om verloof te raak maar was nie haastig nie. Dit was ‘n bitter groot verrassing nie net vir my nie, maar vir sy jonger sussie Marna ook. Hy het vir haar die middag gevra om vir ons ‘n paar fotos te neem met haar kamera en net daar en dan het hy my gevra om te trou!

Hoekom ons mekaar liefhet:


FP sal sê sy gunsteling eienskappe van my is my mooi hart en my blou oë. My gunsteling eienskappe van FP is sy sagte maar groot hart en sy pragtige blou oë.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons trou 21 Maart 2026, ons gee dit tyd maar nie teveel tyd nie en is aktief besig met die beplanning vir ons grootdag.

Die verloofring:


Ons het eintlik maar saam besluit oor my ring, maar FP het die finale besluit saam gevat.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou baie graag fotos hê om te gebruik op ons “Save the Date” en trou-webtuiste, om ons verloof wees tyd te onthou en te koester en ook om te gebruik as dekor by ons troue.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou iets baie plattelands gehad het en Esteé het al ons verwagtinge gehaal en ons drome waar gemaak.🤍

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons het nie eintlik enige verwagtinge of vrese nie, ons wil dit net geniet en die meeste van die tydjie maak voor ons die volgende stappie vat.💍

Visie vir droomtroue:


Ons droom troue, is baie eenvoudig maar vol liefde. Die kleurskema vir die troue is skakerings van groen,wit en silwer. Ons trou in Bloemfontein wat die middelpunt is vir al ons familie en vriende. Ons sal sê ons hou nie ‘n groot of klein troue nie ons het so om en by 80 gaste. 💚

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: