Mooi Troues se lesers kan elke maand ons 12-stap troubeplanning advies reeks volg wat jou help om jou groot dag rustig en doelgerig te beplan. Deur die beplanning in kleiner dele op te breek, raak alles sommer meer haalbaar en baie minder oorweldigend.
Trou beplanning kan baie spanning bring, veral vir paartjies wat hulself aan ’n selfdoen troue waag. Met hierdie opvolg reeks help ons jou om die proses eenvoudiger te maak. Klik hier vir meer trou advies.
In ons vorige artikel, derde van ons twaalf maande, het ons gesels oor belangrike vroeë besluite. Teen dié tyd behoort julle ’n goeie idee te hê van julle begroting en trou diensverskaffers wat binne daardie prentjie pas. As julle nog nie alles kon doen nie, haal rustig asem en werk teen julle eie pas. Hierdie reeks is ’n riglyn om die beplanning oor ’n jaar se tydperk te versprei, maar nie elke paartjie volg dieselfde tydlyn nie.
Vir ons vierde artikel van die 12-stap troubeplanning advies reeks, rol af.

Wat moes ons teen die tyd al gedoen het?
As julle effens agter voel, moenie bekommerd wees nie. Dit beteken net dat julle ’n bietjie meer fokus moet sit in die volgende paar weke.
Onder is ʼn riglyn van min of meer wat jul teen nou al moes gedoen het as julle ons 12 stap reeks volg:
- Begroting: Finaliseer sodat julle weet waarop julle watter bedrag kan spandeer.
- Troudatum: Sonder ’n datum kan niks bespreek word nie.
- Venue: Bespreek, betaal deposito en lees die kontrak deeglik.
- Bekende trou diensverskaffers: Ontmoet en bespreek die belangrikstes so vroeg moontlik.
- Fotograwe en videograwe: Kyk na portefeuljes en bespreek ’n gunsteling indien nog nie gedoen nie.
- Selfdoen of koördineerder: Maak ’n finale besluit oor die tipe ondersteuning wat julle verkies.
- Visie bord: Pinterest is ideal en Mooi Troues se Pinterest profiel is vol romantiese trou inspirasie.
- Dekorstyl: Kry ’n gevoel van julle voorkeure en algehele styl.
- Versekering: Oorweeg trou versekering.
- Diensverskaffers kortlys: Begin name en idees neerskryf.
- Buitelandse gaste: Finaliseer wie moet vooraf kennis kry.
- Trourok: Begin dink, kyk, pas aan en maak notas.

Finaliseer jou trourok keuses:
Teen die tyd behoort jy al ’n beter idee te hê van die snit, materiaal en styl van jou ideale trourok. As jy nog nie rokke gaan aanpas het nie, is dit nou die beste tyd. Sommige rokke neem maande om te maak, en verhuring se beskikbaarheid wissel deur die seisoen. Mag jy ontdek dat die rok waarvan jy gedroom het nie by jou lyf pas nie, moenie stres nie. Dit lei dikwels na die rok waarvan jy nooit geweet het jy sal verlief raak nie.

Bruidegom Pak:
Bruidegomme stel graag die pak so lank as moontlik uit, maar daar is soveel stylvolle opsies beskikbaar. Kies ’n pak wat hy weer ná die troue kan dra. Pasgemaakte pakke kos meer, maar die pasvorm is foutloos. Indien julle ’n klaargemaakte pak koop, kan verstellings dit perfek laat sit.

Bespreek julle klank, musiek en platejoggie:
Musiek bepaal die atmosfeer van die hele liefdesviering. Vermy goedkoop of onervare opsies, ’n swak mikrofoon of klankstelsel kan julle droom onthaal vinnig bederf. Maak ’n kortlys van platejoggies, vra vir verwysings en luister na sommige van hulle werk. ’n Kort demonstrasie is altyd handig voordat julle ’n finale besluit neem.
Klik hier om meer te lees hoe om die perfekte platejoggie vir julle troue te huur.

Verblyf opsies:
Verblyf raak veral gedurende seisoentye vinnig vol. Dink aan waar die bruid en bruidegom wil oornag die aand voor die troue en ook die aand daarna. Die bruid het gewoonlik meer spasie nodig om saam met haar strooimeisies reg te maak.
Hou ook jul gaste in gedagte. Maak ’n lys van nabygeleë verblyf opsies en stuur dit vir hulle, veral as baie van die gaste van ver af reis.

Dekor Huur vir Selfdoen Troues:
Selfdoen troues kan ongelooflik stylvol wees wanneer dit reg beplan word. Gebruik betroubare verhuring maatskappye en bespreek vroeg. Maak ’n lys van alles wat julle vir elke tafel benodig.
As jul eerder professionele leiding verkies, huur ’n dekorstilis. Hulle kan julle help om unieke trou konsepte te skep wat by julle styl pas. Vertrou hulle ervaring, want hulle werk met moderne trou neigings elke dag.

Bestel julle troukoek:
Bekende koekbakkers word vinnig vol bespreek, so plaas julle bestelling betyds.
Proe verskillende opsies want ’n troukoek moet pragtig lyk én heerlik smaak.
Beplan ook die troukoek tafel se stylvolle trou dekor. Jou koek moet nie meer in ’n hoek verdwyn nie, dit moet uitstaan in die onthaal.

Bespreek jul trou fotograaf en videograaf:
As dit nog nie afgehandel is nie, bespreek julle fotograaf en videograaf nou. Julle behoort intussen ’n paar gunstelinge te hê. Onthou dat meeste diensverskaffers ’n deposito van 30%–50% vra. Maak seker julle verstaan die verskil tussen ’n deposito en ’n nie-terugbetaalbare besprekingsfooi.

Beplan en bespreek jul wittebrood:
Om ’n wittebrood te beplan is ’n oorvloed van droom en opwinding. Hoe vroeër julle bespreek, hoe meer keuses het julle.
Besluit of julle self wil beplan of ’n reis agentskap wil gebruik.
Neem visums, gesondheidseise en seisoene in ag, veral vir internasionale bestemmings.
Klik hier vir Mooi Troues se wittebrood advies.

Bespreek jul repetisie aandete:
As julle beplan om in ’n formele restaurant te eet, bespreek vroeër. Vir kleiner groepe kan julle twee weke voor die tyd bespreek. ’n Repetisie aandete help families om mekaar te leer ken voor die troudag, wat ’n warm, ontspanne gaste-ervaring skep. Dit is nie groot in Suid-Afrika nie, maar ’n tradisie wat ons graag meer wil sien groei.

Artikel Krediet
- Foto’s: Pexels
