Tiaan & Anjoné se Verfynde Troue Met Kuns, Geloof & Elegante Pers Detail

Tiaan en Anjoné se troue by Venue Nouveau was ’n verfynde viering waar kuns, geloof en elegansie in volmaakte harmonie ontmoet het. Die paartjie het ’n atmosfeer geskep wat sag en verhewe gevoel het. ’n Ryk perspalet het in elegante ombre-skakerings ontvou en is deur neutrale ondertone gebalanseer.

Venue Nouveau se argitektoniese karakter en artistieke estetika het as die ideale agtergrond vir Anjoné se visie gedien. Die seremonie was deurdrenk van betekenisvolle simboliek. Bruidsmeisies het met lanterns ingestap as ’n subtiele verwysing na die gelykenis van die tien meisies. Gedrapeerde materiale het saggies in die wind gewapper toe Anjoné die paadjie afgestap het. Die sentrale fokuspunt was ’n kruis, pragtig versier met blomme en materiaal. Dit het die geestelike fondament van hul huwelik op ’n elegante wyse beklemtoon.

Anjoné se trourok was ’n ware kunswerk, geïnspireer deur die ballet Giselle. Sagte tulle, unieke moue en fyn besonderhede het haar silhoeët delikaat beklemtoon. Ingeweefde pêrels het reinheid en uithouvermoë gesimboliseer, terwyl Franse kant en ’n korset-rugkant die verfynde voorkoms afgerond het.

Met flikkerende kerse, sagte beligting en weelderige pers blomme is elke oomblik doelbewus gekureer om ’n verhaal van liefde en geloof te vertel. Een wat nog lank in die geheue van hul gaste sal voortleef.

Beplan jy jou eie luukse viering? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir die land se mees gesogte ontwerpers en venues wat jou visie met styl en finesse tot lewe bring.

Trourok:


Na vele ‘Pinterest’ soektogte en rokke aan pas ekspedisies kon ek uiteindelik my droom en idees bymekaar voeg saam met Mimie Bridal Ateltier wat die hele proses so maklik en moeiteloos gemaak het.

Vir my trourok se ontwerp het ek my nek en skouers oop gesoek met ʼn mou wat oor my skouers “hang/strek” om amper die effek van een van my mees geliefkoosde ballet “Giselle” se uitrusting voor te stel. Ek was nog altyd mal oor die idee van tulle (net) omdat dit ook juis deel is van die ballet produksie se uitrustings. Ek was nog altyd besonders geheg aan die idee van pêrels en wat ʼn pêrel van reinheid en uithouvermoë voorstel. Hierdie element is doelbewus in die rok geïntegreer.

Die detail van die rok word in die toppie se gedeelte as aandag punt gebruik. Dit het ook agter by die rug ʼn inryg korset met dik lint om die sprokie van my droom rok saam te vat. Daar is ook Franse ”lace” in die toppie en ʼn sagte ondertoon van wit satyn in die romp wat onder die twee lae net van die romp gedeelte saamgevoeg is.

Jomari van Mimie Bridal het my idee perfek saamgebring en van ʼn plein rok ʼn droom rok gemaak. Sy het my so gemaklik in elke sessie en aanpas en verstelling laat voel. Perfek vir my lengte aangepas en my romantiese styl dadelik raak gesien en nommerpas vir my gemaak.

Paartjie se Verlowing:


Dit is bitter moeilik om my te verras, maar oor my verjaarsdag, die naweek van die 28ste September 2024, toe ek juis sou verwag dat ons iets spesiaal vir my verjaarsdag sou doen soos altyd, het hy my gevra om te trou. In die mooiste Dullstroom op ʼn vriend en vriendin se plaas. Met die mooiste waterval agter ons omring deur ons hartsvriende wat dit alles moontlik en mooi kom maak het. Ek was selfs geblinddoek en die rat voor die oë gedraai dat ek vir my verjaarsdag na ʼn verassing geneem sou word. Ek moes blindelings amper ʼn berg uitklim net om verras te word met die mooiste vraag waarop ek beslis toe “ja” geantwoord het. Na vyf jaar van kêrel en meisie wees, kon ek uiteindelik hom my verloofde noem en ons nuwe hoofstuk begin in tree.

Verloof- en Trouringe:


Ons het besluit om nie ʼn troupant by te voeg nie, om rede my ring alreeds soveel detail bevat aan beide kante van die ring en dit juis nie die simmetrie van die ring sal komplimenteer nie. My trouring (verloof ring) is van platinum gemaak en die snit van die steen is ʼn ovaal diamant.

Tiaan se trouring is egter baie interessant en uniek. Dit is nie sommer alledaags nie. Sy ring is van Damaskus staal gemaak wat ʼn mengsel is van metale wat deur ʼn chemiese proses vermeng word en dus die strepe en vermenging van die twee tipes staal so saam voeg dat dit die strepe natuurlik vorm.

Trou Dekor en Styl:


Ons kleurskema was skakerings van pers en neutrale kleure as ondertone. Dit was kleurvol en ons idee was dat dit soos ʼn ombré van perse moes wees en vertoon. Ons dekor was redelik simplisties, maar het tog karakter gehad en gewys (te danke aan Venue Nouveau se styl as ʼn venue).

Ek het vir die seremonie die visie gehad van lappe wat in die paadjie drapeer moes wees (soos gordyne) wat soos ʼn sluier weg getrek moes word en wapper in die wind wyl ek ingestap kom. Die kruis was ons hoof fokuspunt en was drapeer met lappe en blomme om die fokus te trek. My bruidsmeisies het ook in stede van blomme met lanterns ingestap gekom om die Bybelstories van die gelykenis van die 5 verstandige en die 5 dwase meisies uit te beeld. Daar was baie liggies en skakerings van pers blomme met groenigheid. Dit was oor die algemeen sag, koninklik en Bybels. Ek het soos Koningin Esther gevoel en my dekor het dit weerspieël in styl.

Trou Begroting en Beplanning:


Die troue, wat 60 gaste verwelkom het, is binne ’n begroting van R150 000 beplan en oor ’n tydperk van ses maande saamgestel. Met die hulp van ’n professionele koördineerder is elke detail sorgvuldig uitgewerk om die dag naatloos en betekenisvol te laat ontvou.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: