Etiket-reëls wat jou trou gaste moet volg

Vandag se artikel gesels ons oor basiese etiket-reëls wat jou trou gaste moet volg.  Daar is ‘n paar basiese dinge wat gaste by ‘n troue moet en nie moet doen nie.  Hieronder is sewe Etiket-reëls wat ons dink gaste moet volg.  Geniet die artikel en deel dit op jou sosiale media, sodat jou gaste dit kan lees.

Stuur jou RSVP:

Dit maak nie saak of jy die paartjie se beste vriendin of vriend is nie, stuur jou RSVP terug voor die sperdatum.  Dit is nie dat jy minder belangrik is of hulle nie omgee nie, dit is net ‘n syfer ding.  Hulle het klaar so baie dinge om aan te dink wanneer hulle die troue beplan.  Dit is maklik om iemand na aan jou se naam perongeluk oor te sien op papier en dan is al jou gaste getalle deurmekaar.

Alle gaste moet hulle RSVP stuur.  Dit is om die werk van die paartjie te vergemaklik en dit verhoed enige onsmaaklikhede op die dag van die troue.

Kyk vir die Plus-Een:

As jy iemand gaan saam bring, laat weet die paartjie wanneer jy die RSVP stuur dat jy wel iemand gaan saam bring, veral as jy enkellopend is of as jy dalk kinders het.  Maak ook seker dat kinders wel na die troue mag gaan.  Baie paartjies verkies dit as kinders onder ‘n sekere ouderdom nie die troue bywoon nie.

Kommunikeer veranderinge so gou moontlik:

As jy klaar jou RSVP gestuur het en daar val iets onbeplan voor, kommunikeer die verandering in planne onmiddellik met die paartjie.  Maak seker die paartjie word ingelig van die verandering en dat jy nie hulle troudag kan bywoon nie.  Dinge gebeur en partymaal kan jy nie help daarvoor nie.  Die belangrike ding is om onmiddellik die paartjie in te lig en nie te wag tot die laaste minuut nie.

Stuur jou gelukwensings as jy nie ‘n geskenk stuur nie:

Hier die reël geld vir gaste wat genooi is na die troue en ook gaste wat nie genooi word nie.  Nie almal hou daarvan om geskenke te koop nie, maar dit is wel belangrik om die paartjie geluk te wens.  Jy kan ‘n kaartjie te stuur of bloot net ‘n oproep na die troue gee.  Enige iets om die paartjie spesiaal te laat voel en geluk te wens.

Belangrik – dit is nie die tyd om jou probleme uit te lê hoekom jy nie uitgenooi was nie.  Daar is ander tye vir sulke besprekinge.  Jy moet bel en diplomaties wees en die paartjie spesiaal laat voel.  Dit is die paartjie se spesiale dag;  Moenie dit van hulle af wegneem nie.

Hou by die Geskenk-register:

Daar is ‘n rede hoekom paartjie ‘n geskenk-register het.  Hulle wil die produkte of dienste in die geskenk-register hê, want dit mag dalk goed wees wat hulle sal nodig hê in die toekoms.  Moenie probeer oulik wees en ander goed koop nie.  Dalk hou hulle nie van die kleur van die kussings nie, of hulle het alklaar so ‘n kleur kussing.

As jy regtig nie kan bekostig wat op die register is nie, kyk of die plek waar hulle geskenk-register is miskien geskenkbewyse verkoop, so kan jy dan bydra tot ‘n iets wat hulle dalk wil hê.

Onthou ook dat dit nie ‘n moet is om ‘n geskenk te koop nie.  Solank as wat jy hulle gelukwens met ‘n kaartjie, of oproep is dit net so goed.

Respekteer die kleredrag gidslyne:

As die uitnodiging sê formeel, trek dan formeel aan of as dit sê geen helder kleure nie, moet nou nie daardie helderste rokkie uit die kas haal nie.

Dit gaan alles oor respek vir die paartjie.  Lees asseblief jou uitnodiging goed deur wanneer jy dit ontvang en as jy nie seker is nie, vrae die paartjie of hulle ‘n gidslyn het vir kleredrag.  Party paartjies gee glad nie om wat jy dra nie.  Dit by gesê, gee jou nog nie die reg om in jou “by die huis bly” klere na die troue toe te kom nie.

Doen ‘n bietjie moeite en verras die paartjie met ‘n mooi uitrusting.  Dit is nie elke dag wat jy na ‘n troue toe genooi word nie, so maak dit ‘n spesiale geleentheid.

Bly van jou foon af:

Hierdie is iets waaroor baie paartjies baie sterk voel.  Moenie op jou foon wees gedurende die seremonie of onthaal nie, veral nie gedurende toesprake nie.  Dit lyk sleg op foto’s en die fotograaf word betaal om die paartjie se spesiale dag vas te vang in foto’s. Die laaste ding wat die paartjie wil hê is jou kop afgebuig besig op jou foon.

Sit jou foon in jou broeksak of in die handsak.  Ons weet almal wil ‘n foto’tjie kry.  Dit is reg, maar moet nie die foto’tjies op sosiale media laai en ‘n hele opstel skryf nie.  Jy kan dit later doen.  Gee aandag aan die seremonie en toesprake.

Baie paartjies sal versoek dat gaste hulle fone moet afsit of wegsit.  Respekteer dit.  As dit jou werk is en jy jou foon altyd moet antwoord, maak ‘n reëling met die paartjie vooraf en sit jou foon se klank af.  Stap weg as jy jou foon sien lui en probeer iewers privaat gesels, sodat jy nie die hele seremonie of toesprake dood praat nie.

Moenie drink om dronk te word nie:

Daar is niks meer irriterend as daai een persoon wat te dronk is en almal anders met hulle dronkenskap pla nie.  Dink aan die ander gaste wat almal ook daar is vir die troue en ook net hulle self wil geniet.  Geniet jouself, maar wees in beheer van jouself.  Dit is nie jou troudag nie, jy is nogsteeds ‘n gas en dit is nie ‘n nagklub nie.  Jy is by iemand anders se spesiale dag, moet dit nie versuur met jou ongemanierdheid nie.

Artikel Krediet:

  • Teks: Mooi Troues
  • Fotografie:  Pexels