Hendri & Ellynette se verlowing fotosessie op ‘n mynhoop

‘n Groot applous aan die fotograaf wat inisiatief gebruik het om uit die boks te dink en voor te stel dat Hendri en Ellynette hul verlowing fotosessie op ‘n Kalk mynhoop gehou word.  Dit is beslis vir ons ‘n eerste hier by Mooi Troues en ons is baie opgewonde om dit met ons lesers te kan deel.  Die kontras van die paartjie se uitrusting teen die rou agtergrond van die Kalk mynhoop bied ‘n besonderse effek.  Ons by Mooi Troues moedig altyd paartjies aan om bietjie iets buite-gewoon te doen, veral by ‘n verlowing fotosessie waar daar nie dekor elemente ens is soos op ‘n troue nie, so ons glo dié verlowing fotosessie sal die kreatiewe sappe laat vloei.  Rol af en lekker lees.

Vertel ons van jul ontmoeting?


Ons het mekaar ontmoet in 2014 via Bingle Sêr (dit is ʼn musikale produksie wat mans en dameskoshuise saam voorberei en uitvoer). Ons eerste gesprek het gehandel oor beide se onvermoë om te kan dans.  Hendri verduidelik dat Ellynette soos ʼn sonstraal is.  Jy kan nie ongelukkig wees in haar teenwoordigheid nie en sy verhelder elke aspek van sy lewe.  Daarteenoor voer Ellynette aan dat Hendri se uitstekende sin vir humor en charismatiese persoonlikheid haar gelok het. “Hy was ook vir my net ʼn besondere mooi man met ʼn onwrikbare teenwoordigheid” – Ellynette.

Vertel ons wie het wie gevra om te trou?


Hendri het Ellynette gevra om te trou.  Hy verduidelik dat hy nie kon glo dat hy iemand ontmoet het waarmee hy alles – die goed en sleg – wou deel nie.  Hy was dalk angsbevange, maar ook kinderlik opgewonde, want dit sou die begin van “vir altyd” merk.

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Dit was oorspronklik ons baie oulike fotograwe se inisiatief.  Ons het geweet ons wil iets buite die boks doen.  Hendri is ʼn chemiese ingenieur en Ellynette is ʼn kunshistorikus, dus wou ons graag hierdie uiteenlopende wêrelde sintetiseer.  Die kombinasie van ʼn kalk mynhoop en die betowering van ons uitrustings was die perfekte platform hiervoor.  Terugskouend kan ons sien dat die sessie eintlik ʼn vergestalting is van hoë teenoorgesteldes mekaar lok en komplimenteer.

Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?


Die motivering was beslis tweërlei.  Aan die eenkant wou ons graag gemaklik raak voor die kamera.  Dit is vir ons beide onnatuurlik om voor ʼn lens te wees, maar ons het geleer dat die regte fotograwe jou lekker kan laat lag en ontspan.  Aan die anderkant wou ons die foto’s gebruik vir ons elektroniese trou-uitnodiging.  Die foto’s het uiteindelik ʼn baie gesofistikeerde toon by ons uitnodiging gevoeg.

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


Hendri antwoord:  Saam Ellynette … die waar, wat en wanneer maak nie saak nie.  Ellynette se enigste voorvereiste: “Baie Pampoenkoekies!”.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: