Ulrich & Annelezé se pragtige plaastroue

Mense dink nie altyd Elegant en Plaas in een sin nie … dus is ons by Mooi Troues vreeslik opgewonde om met ons lesers Ulrich en Annelezé se pragtige plaastroue met julle te deel sodat jul self kan sien dat dié twee elemente tog so mooi kan saam werk.  Annelezé het werklik pragtig gelyk en haar mooi groot blou oë het haar geluk uitgestraal.  Die troudekor het ‘n skoon vintage gevoel wat die hele volmaakte dag perfek afgerond het.

Ulrich en Annelezé het ook baie goeie dans passies en ons wens die paartjie ‘n toekoms van geluk en baie dans toe.  Mooi Troues se lesers moet sommer nou dadelik afrol en na die pragtige troue gaan kyk.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


12 Mei 2018 – Ulrich 26 en Annelezé 27

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het mekaar in 2009 vlugtig op ‘n Eerstejaars-kerkkamp ontmoet.  So verander ons albei van studierigting en toe die 2de semester aanbreek, ontdek ons mekaar weer.  Na 9jaar en 9maande se uitgaan is ons uiteindelik getroud.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons albei is gek oor die dorpie Parys en besoek dit gereeld.  Ons wou nog altyd die mooie Pont-de-Vaal venue besoek.  Toe Ulrich dit een Sondag na ‘n naweek in Parys voorstel was dit glad nie vreemd nie en het ek niks vermoed.  Ulrich het vooraf alles haarfyn beplan en gereël … rose, sjampanje en ‘n fotograaf!  By Pont-de-Vaal het iemand ons die venue gewys en daarna na ‘n privaat “rivier boot” geneem waar paartjie rustig kan sit en ontspan.  Toe ek omdraai, was Ulrich op sy knieë!  ‘n Fotograaf het die spesiale oomblikke afgeneem en later ons verlowingsfotosessie.  Na die opwindende oggend het ons op ‘n bootrit gegaan.

Vertel ons meer van jul ringe.


Annelezé: My verloofring het Ulrich gekies omdat die verlowing ‘n verrassing was en ek graag my eie trouring wou kies.  Ek is lief vir “iets anders” en kon niks in die winkels kry waarvan ek hou. Na maande se idees soek en rondkyk het ons besluit om my ring privaat te laat ontwerp/maak.

Ulrich: Baie makliker keuse as my vrou sin! Ek het besluit op ‘n goue pand met “sand blast” afwerking.

Vertel ons meer oor die fotograaf.


Wow!  Ons het Schantel se advertensie in die bruidsgids gesien en haar fotos het onmiddellik uitgestaan.  Ons het haar gekontak en haar vinnige terugvoer en goeie kommunikasie het ons baie beïndruk.  ‘n Paar maande voor die troue het ons haar ontmoet.  Sy het ons op ons gemak laat voel op ons dag en sy het elke liewe oomblik van die dag vasgevang op prag fotos.  Beveel haar dienste sterk aan!

 

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Annelezé: Om saam met my Pa die 71m lange troupaadjie te kon afloop en om Ulrich te kon sien is iets wat ek nooit sal vergeet nie!

Ulrich: Toe ek die deure sien oopgaan en my bruid daar sien staan, mens droom jare oor die oomblik, maar die werklikheid het my asem weg geslaan.

Wat sou julle verander indien moontlik en advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Absoluut niks!  Wens dit kon 2 dae lank aangehou het!

Beplan saam en geniet die proses.  Ons het alles van die begin af saam beplan en gereël, elkeen weet wat is sy/haar rol en verantwoordelikhede en dit help om onnodige konflik en stres te voorkom.

Hoe het julle die venue gekies?


Om ‘n perfekte venue te vind was nogal ‘n uitdaging.  Die lysie van “wat ons nie wil hê” was baie lank.  Dit het onmiddellik baie venues uitgeskakel.  Vele venues se minimum gaste was 120 (ons wou ‘n kleiner troue hê) of was meer as ‘n jaar vooruit bespreek.  Ons wou ook graag ‘n venue kies waar geen van ons vriende/familie voor ons getrou het nie.  Ons het op die internet gesoek na venues buite Pretoria en toevallig op die prentjie mooi Cradle Valley in Muldersdrift afgekom.  Ons het dieselfde week nog gaan kyk en was met onmiddellik oortuig dat die venue vir ons gaan wees.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons wou wegbeweeg van besige tafels met oordadige blomme wat die tafel vol en beknop maak.  Elegant, tog simplisties was ons idee agter die dekor.  Die venue het ‘n verskeidenheid van dekor temas gehad, waar ons besluit het op kant-lopers oor die houttafels, kristal kandelare of hangende kristal stringe uit die dak, kerse en glas onderborde.  Ons blomme was in glas vase met Koning Proteas, sagte pienk Faith rose, wit Lisianthus en Pennygum blare.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het nie ‘n vasgestelde begroting gehad van die begin af nie, maar ons het die kostes binne perke probeer hou.  Ons was baie bevoorreg dat albei ons ouers die meeste kostes van die troue betaal het.  Onsself kon ook bydraes maak.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons het nog altyd gesê ons wil na ‘n eiland gaan vir ons wittebrood.  Na ons ‘n paar opsies oorweeg, het ons 9 dae op ‘n idilliese eiland spandeer in die Maldives.  Dit was asemrowend!!

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: