GJ & Maruska se fotosessie in die natuur

Paartjies is maar altyd bietjie ongemaklik voor die kamera en ons verstaan dit heeltemal, tog is dit vreeslike belangrik om ‘n verlowing fotosessie te hê sodat jul as paartjie gemaklik kan raak met jul fotograaf voor jul troudag.  GJ en Maruska het besluit om hul fotosessie in die natuur te hou, want dit is waar hul die gemaklikste voel en al wat ons kan sê is “Sjoeh! Alles het perfek gewerk.”  Daar was so veel elemente van die grondpad langs ‘n rivier, foto’s waar hul teen ‘n berg staan en dan net rou sand so ver as wat die oog kan sien met net die Blou lug as kontras.  Werklik een fotosessie vir die boeke.  As jy van ongerepte natuur hou sal jy gek wees oor die foto’s hier onder.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Ons het in dieselfde dorp groot geword en was in dieselfde skool, maar ons het mekaar amptelik in 2014 ontmoet by sy ouers se huis.  Ons ouers is goeie vriende en so het ons al hoe meer van mekaar begin sien.  Hy is die ekstrovert wat almal altyd laat lag en ek die stil meisie.  Saam komplimenteer ons mekaar goed.  Hy weet wanneer ek ‘n hupstootjie nodig het om uit my dop te klim en ek weet weer wanneer en hoe om hom bietjie terug te hou as dit nodig is.  Hy het ‘n ongelooflike goeie hart en is altyd reg met ‘n grappie om iemand te laat beter voel.

Vertel ons wie het wie gevra om te trou?


Ons het een aand ‘n “afspraak aand” gehad.  Niks ongewoon nie.  My vriendin se verloofde sou n paar dae later terug Duitsland toe gaan vir werk toe nooi ons hulle om saam ons ietsie te eet..  Hy’t my seker drie maal gevra of ons nie nagereg moet bestel nie.  Ek wat ‘n redelike soettand het en altyd eerste is om nagereg te bestel is toe glad nie lus vir iets soets nie.  Min weet ek wat hy beplan.  Die restaurant was reeds leeg en die kelners het al stoele begin in dra.  Hy het oor die tafel gelê en my gevra of ek reg is vir huistoe gaan.  Net daar toe haal hy die swart boksie uit.  My asem was weggeslaan. Ek kan nou nog nie onthou wat hy vir my gesê het nie.  Ons almal het saam n traantjie gepik en net daar ‘n bottel sjampanje bestel.

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Ek het die romantiese idee in my kop gehad vir baie lank.  Die wit sand en blou agtergrond was perfek vir n romantiese maar tog gemaklike fotosessie. Ek wou dit so natuurlik as moontlik hou sodat ons persoonlikhede in die fotos sou wys.  Dit was die perfekte aand gewees.  Die son het so mooi tussen die wolke deur geskyn en die wind het goed in ons guns gespeel.  Shaula het elke oomblik perfek vasgevang.  Dit was so gemaklik asof sy glad nie eers daar was nie.

Diensverskaffers