Agt kostes waaraan bruidspare nie dink nie

Troue beplan is ‘n groot storie en daar is altyd dinge waarvan jy vergeet.  Mens vergeet veral van die dinge wat nie noodwendig direk te doen het met die troue nie, maar nogsteeds ‘n belangrike rol speel om die dag glad te laat verloop.  Ons gaan nie al die punte in een artikel kan plaas nie, want die lys is net te lank.  Maak seker jy hou Mooi Troues dop vir nog opvolg advies artikels en meer oor kostes waarvan paartjies vergeet.  Ons wil jou nie met te veel inligting oorweldig en die proses nóg moeiliker maak nie!

Hieronder volg ‘n paar dinge waarvan bruidspaartjies dikwels vergeet:

Verstellings:

Daar is altyd iets wat verstel moet word voor die dag van jou troue.  Dit kan wees aan jou trourok, strooimeisie-rokke of selfs die bruidegom se pak.  Daar kan ook ander klein verstellings aan die dekor ens. wees.  Dit is gewoonlik iets waaraan paartjies nie dink nie, en indien dit gebeur laat dit stresvlakke die hoogtes in skiet!  Dit kan dikwels ‘n groot ekstra uitgawe wees as jy dit nie in jou oorspronklike begroting ingewerk het nie.  Maak seker jy kry kwotasies voor die tyd en sit dit eerder in as wat jy dit uitlos en ‘n tameletjie het omdat jy op die laaste minuut geld moet uithaal.

Onderklere en Bykomstighede:

Dit is iets waarvan niemand hou om oor te praat nie, maar of jy dit wil weet of nie, gemaklike en mooi onderklere is ‘n móét vir jou troudag.  Jy wil op die gemaklik wees terwyl jy sensueel voel op jou troudag.   Onderklere is redelik duur en is ‘n bykomstighede waaraan jy nie gewoonlik sal dink nie, maar iets wat van kardinale belang is.

Ongenooide Gaste:

Jy lees reg!  Dit gebeur regtig!  Ons het al soveel keer gehoor van gaste vat nie RSVP of ‘n tannie of niggie wat dink dit is reg om iemand ekstra te nooi en skoon vergeet om die paartjie te laat weet dat hy of sy twee ekstra mense genooi het.  Mens wil nie hê sulke goed moet gebeur nie, maar dit doen.  Maak seker jy het ‘n klein ekstra sitplek beskikbaar vir twee mense en dat daar ‘n ekstra twee borde kos is.  Net indien daar iemand ongenooid opdaag.  Ons weet dit is ekstra onkostes, maar jy kan tog nie jou ongenooide gaste ‘n broodjie met botter gee nie.

Geskenke vir ouers en ander familie lede:

Dit is nie een van daardie goed wat jy hoef te doen nie, maar baie paartjies koop ietsie spesiaals vir hulle ouers en/of naaste familie lede wat betrokke was met die beplanning proses om dankie te sê vir die hulp.  As jy graag so iets wil doen, maak seker jy koop die geskenke vroegtydig, sodat dit nie ekstra druk op julle plaas nader aan die troudag nie.  So bespaar jy ook kostes en die stres om geskenke op die laaste minuut te soek.  Paartjies spandeer dikwels meer want jy koop eerder iets duurder net omdat dit vinnig en gemakliker is.

Diensverskaffer maaltye:

Hierdie is iets waaroor ons sterk voel.  Jou Diensverskaffers werk oor ‘n naweek by jou troue en werk heel moontlik lang ure en kan nie vinnig uit hardloop om kos te koop nie.  Alhoewel jy hulle betaal vir hulle dienste, kyk mooi na jou Diensverskaffers en gee hulle ‘n begroting vir nie-alkoholiese drankies.  Maak seker hulle kry ook kos om te eet by die troue.  Verkieslik dieselfde kos as jou gaste.  Daar is niks meer erger as Diensverskaffers wat nie kos by troues kry nie.

Videografie:

Baie paartjies dink omdat hulle ‘n fotograaf huur hulle nie ‘n video gaan nodig hê nie.  Dit is net daar waar julle die fout maak.  So ‘n paar weke voor jou troue kom daar die mooiste video op jou Sosiale Media en jy is verlief op die video.  Nou moet jy op die laaste minuut iemand soek om ‘n video by jou troue te neem.  Jy moet nou ekstra begroting kry omdat jy nie oorspronklik hiervoor begroot het nie.  Moet asseblief nie die fout maak nie.  Reken dit in jou begroting reg van die begin.  As jy nie ‘n video wil hê nie, dan spaar jy daardie geld vir jou wittebrood.  Ons beveel wel aan dat jy ‘n videograaf en fotograaf het. Klik hier om na ons Trougids te kyk.

Beligting:

Almal dink aan kerse.  Kerse is mooi maar dit is nie beligting nie.  Dit is ook nie jou fotograaf of videograaf se verantwoordelikheid om die hele plek te belig nie. Maak seker jy kry ‘n diensverskaffer wat mooi beligting kan doen vir jou troudag.  Mooi beligting gee net lewe aan enige onthaal en laat ook die foto’s en video mooier lyk.  Dit is iets waaraan niemand dink nie, tot hulle die laaste keer die onthaal lokaal besoek en besef dit is bietjie leeg of dit is bietjie donker.  Wees voorbereid van die begin af.  Meeste venues kort daardie ekstra beligting om die atmosfeer te skep.

Diensfooie:

Meeste paartjies vergeet daarvan om die kelners en kelnerinne op die aand van jou troue ‘n diensfooi te gee as ‘n dankie.  Meeste paartjie gee wel op die aand ‘n klein diensfooi, maar dit nie iets waarvoor hulle vooraf beplan het nie en dit val hulle slegs by op die aand van die troue en nou moet jy in die krediet kaart in spring.  Nee!  Beplan dit vooraf en werk dit in, so weet jy wat kom en jy is gereed.

Artikel Krediet:

  • Teks verwerk deur Mooi Troues
  • Foto’s vanaf Pexels