Franco & Ree se prag bruilof

Franco en Ree deel in hierdie artikel hulle spesiale dag langs die see by Victoria Baai. Die twee het besluit om weg te skram van die algemene neiging om hul troue by ‘n wynplaas te hou al is hulle gevestig in die Kaap en het meer na die see se kant beweeg.  In die artikel kan jy ook lees oor die spesiale herinneringe wat die see vir beide van hulle inhou. Die fotografie is ‘n mengels van pragtige swart en wit fotografie en spontane oomblikke wat vasgevang is. Die algehele gevoel wat jy kry van die troue is ‘n glas geleentheid, wat verbasend is is die kort tydperk waarin die troue gereël is! In die artikel sal jy ook die paartjie se opinie hieroor kan lees en dalk selfs jou troudatum nader skyf. Die fotografie is besonders en het nie net ongelooflike foto’s van die bruidspaartjie en hul gevolg nie, maar ook lekker kuier foto’s van die einde van die aand. Wees seker om ook die mooi kontras tussen rustiek en sagtheid op te let wat afspeel in die dekor keuses.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié datum?


Op die 21ste April 2018.  Franco was 28 en Ree 29 gewees.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons wil dit nooit eintlik hardop sê nie, maar by Durbanville Rugby Club 2015.

Wat my aangetrokke tot jou gemaak het was dat vriende van ons mekaar voorgestel het en die feit dat jy met my wou praat, maar ek was so skaam ek kon nie praat met jou nie.  Jy’t seker gedink ek is die mooiste, maar eienaardige mens.

Hoe het julle verloof geraak?


My droom was nog altyd om op Tafelberg verloof te raak.  Ons het een Sondagoggend besluit ons gaan bietjie stap.  In my 29 jaar wat ek in Kaapstad bly, het ek gewag dat my man my eendag vra om te trou op Tafelberg.  Toe ons bo kom toe begin hy huil en vra my om sy vrou te wees.  Hy het my grootste droom waar gemaak.

Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?


Ons het net ‘n fotograaf gehad.  Hy is man alleen en het ‘n baie goeie werk gedoen.  Ek en Franco is albei baie natuurlik.  Ek het nie vir een oomblik poseer vir ‘n foto nie. Ons foto’s was baie natuurlik. Ek het so lekker gelag en was so gemaklik om saam met hom te werk.

Vertel ons meer van jul ringe


My ring is Roosgoud met ‘n Sjampanje Diamant en gekoop by Shimansky. Dit was die eerste ring wat ek aangepas het en ek was verlief daarop.  Franco se ring is ook ‘n geborselde roosgoud ring gekoop by Mario’s Jewellers in Canal Walk.  Die knaap het sy ring verloor in Mauritius se see tydens ‘n watersport sessie drie dae na ons troue.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Moenie te lank wag nie.  Ons het in Februarie 2018 verloof geraak en in April 2018 getrou.  Jy kan ‘n wonderlike troue reël in minder as ‘n maand.  Dit gaan so vinnig verby.  Geniet die beplanning saam as paartjie. Jy kry dit net eenkeer… Dit moet mooi en rustig wees.

Hoe het julle die venue gekies?


Ek en Franco is beide lief vir die see.  As dogtertjie het ek baie daarvan gehou om saam met my Pa see toe te gaan terwyl hy visvang.  Ek bewonder nog altyd die groot see en hoe uniek dit is.  Franco het groot geraak in George.  En soos ek verstaan het hy BAIE skool gebunk om te gaan branderplank ry.  Ons het besluit teen ‘n tradisionele wynplaas troue en wou dit graag naby die see en tussen die natuur hê. Ons venue was Surfari in Victoria Bay.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ek is n natuurlike simplistiese vrou so my idee was skoon, maar ook elegant, ek en Adelaine het besluit op rose wat geur inbring gepaard met olyftakke. Dit was stilleer saam met rustieke kers-blakers, ‘n skoon oop gevoel op tafels sodat die kos na die tafel toe kan bedien kon word – ‘n feesmaal vir die tafel.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Die oomblik toe ons mekaar sien.  Ons het net oë gehad vir mekaar. Niemand om ons het bestaan nie.  Ons begin nou nog huil as ons terug dink aan ons trou dag.  Dit is iets wat beide van ons sal koester vir die res van ons lewens.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Niks!!  Ons sal sê ons wil niks verander nie.  Dis was meer as perfek!

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons begroting was R120 000 en het R130 000 spandeer met gaste akkommodasie vir die naweek ingesluit.  Die gaste het op die venue se perseel geslaap.

Waarheen was julle vir jul wittebrood gewees?


Nog ‘n droom van my was om Mauritius toe te gaan vir my wittebrood.  My man kon nie dit ‘n verrassing hou nie, hy huil maklik hehehe!  Hy het my eendag gevra wat is my droom wittebrood. Toe ek sê Mauritius, toe begin die trane rol.  Toe weet ek ons is oppad Mauritius toe.  Dit was sewe asemrowende dae.  Ons het nie vir ‘n minuut stil gesit nie.  Ons was heeltyd in die water, tussen die vissies en die eiland bewonder.

Diensverskaffers