Hein & Ancheri se sonsak fotosessie

Hein en Ancheri het toevallig tydens hul studente jare ontmoet en sien nou uit daarna om hul droom troudag saam te vier.  Die twee wat afgeneem is deur Cillier Visser fotografie, het tydens die sogenaamde goue uur hul foto’s geneem en die enigste woord wat Mooi Troues aan kan dink om dit te beskryf is uitsonderlik!  Die fotografie is in dokumentêr styl fotografie geneem wat perfek is wanneer jy ontspanne foto’s wat natuurlik voorkom graag wil hê.  Die twee lyk smoorverlief en vertel in die artikel ook van die pragtige en besonders spesiale manier hoe Hein haar gevra het om sy vrou te word!  Vir alle toekomstige paartjies wat in en rondom Stellenbosch bly, wees verseker om mooi na die pragtige foto’s te kyk, want dit is net hier naby in die Franschhoek pas geneem!

Hoe het julle ontmoet en watter eienskappe maak julle aangetrokke tot mekaar?


Ons het ontmoet in ons tweede jaar by Stellenbosch Universiteit by ‘n eerstejaarskamp waar ons deel was van die kos-span, wat vir meer as 300 eerstejaars kos gemaak het.  Albei van ons was bloot net daar omdat ander mense ons saamgesleep het, en toe ontmoet ons mekaar daar en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.  Hein is ‘n mense-mens.  Hy het so groot omgee hart en doen baie moeite met die mense rondom hom.  Ancheri is definitief nie ‘n “boksie-mens” nie.  In pragtige eenvoud, laat haar kreatiewe benadering tot enige situasie my gereeld sprakeloos.

Hoe het julle verloof geraak?


Sjoe, Hein het my grootste verwagtinge oorskry. Ons het vir ‘n wynproe by ‘n boetiek wynplaas gegaan, waar ‘n mens wyn in ‘n mensgemaakte grot kan proe.  In die middel van die wynproe gee hy vir my, my gunsteling tydskrif en sê ek kan bietjie daardeur blaai.  Ek begin toe vinnig blaai en daar val die tydskrif in die middel oop.  Op dié blad is foto’s van ons en daar staan toe die woorde: “Sal jy met my trou?”.  Ek vind toe na die tyd uit dat hy al maande terug met my gunsteling tydskrif saamgewerk het om dit reël, ek was so jaloers!

Wat was die inspirasie vir jul fotosessie?


Ons was oop vir enige voorstelle van ons fotograaf, Cilliers Visser.  Hy stel toe voor dat ons in die Franschhoek pas gaan foto’s neem. Ons hou baie van natuurlike en intieme styl foto’s en dit is presies wat Cilliers se visie ook is.Die verlowings fotosessie het een Sondag laatmiddag plaasgevind waar die wind so effens gewaai het, maar daar was ‘n oomblik toe die ‘Goue uur’ ‘n mens se asem weggeslaan het.

Hoe lyk jul droom troue?


Ons droom troue is waar al ons vriende en familie wat na aan ons hart lê, die spesiale dag saam met ons vier.  Ons al twee wil ‘n intieme, mooi en gesellige troue hê waar al ons gaste heerlik saam kuier, gesels, eet en dans.

Diensverskaffers:

  • Fotograaf: Cilliers Visser en sy vrou/ assistent Esmari Visser
  • Venue: Franschhoek pas se draaie
  • Ring: Preez Designs
  • Hare en grimering: Deur ‘n vriendin gedoen